Estimated reading time: 6 minutes

Die uitwissing van aasvoëls, wat as die doeltreffendste aasdiere in Afrika beskryf word, sal ’n katastrofe wees – en die skrif is aan die muur. Die witrugaasvoël, wat die algemeenste in Suid-Afrika voorkom, se getalle gaan na verwagting binne tien jaar halveer. Wildboere kan egter die wagters oor dié unieke voëls wees.

Die voëls vlieg oor groot afstande om dierekarkasse skoon te pik. Hulle speel ’n noodsaaklike rol om ekostelsels skoon te hou en help om die uitbreking van siektes onder vee en wild te beperk. Unieke sure in hul verteringstelsels maak dit vir hulle moontlik om die organismes wat miltsiekte, gallamsiekte, hondsdolheid en selfs kolera veroorsaak, te verteer, sonder om self skade te ly.

Sonder aasvoëls sal die karkasse waarskynlik ander roof- en aasdiere lok wat die balans in die ekostelsel kan versteur, met nadelige gevolge vir vee- en wildboere.

Kwynende aasvoëlgetalle

Die grootste oorsaak van die daling in aasvoëlgetalle is ’n kombinasie van verskeie faktore soos die jag, vergiftiging, doodskok en stroping van hierdie voëls.

Kerri Wolter van Vulpro sê een van die aasvoëlspesies wat in Suid-Afrika voorgekom het – die Egiptiese aasvoël – is reeds uitgewis. Die vyf spesies wat nog voorkom, word as bedreig of kritiek bedreig geklassifiseer. Sy sê vee- en wildboere werk die naaste aan die omgewing waarin aasvoëls lewe, en is goed toegerus om die uitdagings wat dié diere bedreig, te help oplos.

Die rol van aasvoëls op die plaas

Aasvoëls is ywerige bondgenote van die boer. Hulle is skoonmakers wat verniet werk en ’n waardevolle diens lewer. Aasvoëls het baie goeie sig en kan ’n karkas tot verder as 2km raaksien. Hulle is ook doeltreffende vreters en kan ’n groot karkas binne ’n uur verorber.

Aasvoëls kan karkasse oor groot afstande raaksien en dien terselfdertyd as die boer se oë in die lug. As ’n boer ongewone aasvoëlbedrywigheid op sy plaas sien, moet hy weet iets skort.

Aasvoëls is bo-aan die ekologiese siklus en herwin vleis uiters doeltreffend, aangesien hulle enige dooie wild en vee vreet. Verskillende spesies sal verskillende dele van die karkas benut, sodat die hele karkas sonder enige vermorsing herwin word. Só voorkom hulle die verspreiding van siektes en verhoed dat water deur verrottende karkasse besoedel word. Die unieke sure in hul spysverteringstelsels vernietig enige skadelike bakterieë.

Daarby is hulle uitmuntende verkenners wat, soos hommeltuie, boere se ‘oë in die lug’ is. Daar waar die aasvoëls draai en gaan sit, is iets gewoonlik verkeerd. In die meeste gevalle is dit ’n karkas, en die probleem kan roofdier- of siekteverwant wees. So kan boere selfs op afgeleë dele van die plaas ondersoek in stel.

Die menslike bedreiging

Die grootste bedreigings vir aasvoëls is die inmenging van die mens in die natuur. Soos wat die natuurlike omgewing vir woongebiede, landbou en nywerhede benut word, krimp hul habitat. Daarmee saam daag gifstowwe, kragdrade ensovoorts hul oorlewing verder uit.

Vir ’n lang tyd het veeboere gif in vleis of karkasse gebruik om van probleemdiere ontslae te raak. Aasvoëls, wat nie die teikens was nie, het aan die karkasse gevreet en gevrek. Regstreekse vergiftiging kan egter gekoppel word aan stropers wat die diere doelbewus vergiftig om van hul liggaamsdele vir geloofsdoeleindes en die moetiemark aan te wend. Die ware omvang van dié stropery is egter nie bekend nie.

In etlike kulture bestaan bygelowe dat aasvoëls die boodskappers van dood is, en selfs die kondisie en gesondheid van veekuddes kan benadeel. Aasvoëls word vervolgens doodgemaak of verdryf.

Kerri sê bosverdigting maak dit ook moeilik vir aasvoëls om karkasse te sien, daarby te gaan sit en weer weg te vlieg. Karkasse wat dan onbenut lê en verrot, dra tot die verspreiding van siektes onder vee en wild by. Daarmee saam beteken beter boerderypraktyke en gesondheidsbestuurprogramme dat ál minder diere vrek en daar dus minder kos vir aasvoëls is om te vreet. Sy glo dit kan reggestel word deur aasvoëlrestaurante of voerplekke vir die voëls in te rig.

Nóg ’n uitdaging vir aasvoëls is dat dip-, doserings- en siektebeheermiddels ’n negatiewe uitwerking op hul oorlewing het. Nie-steroïede, anti-inflammatoriese medikasie (NSAID) het die Indiese aasvoëls feitlik uitgewis. Sy sê boere moet voorkom dat aasvoëls toegang kry tot karkasse van diere wat met enige van dié middels ingespuit is.

Kragdrade, opgaardamme en ander mensgemaakte strukture hou ook ʼn bedreiging vir aasvoëls in. Geboude plaasdamme kan toegemaak word of houtstrukture kan daarin geplaas word om die risiko van versuipings te verminder.

Die kwynende voedselbronne kan aangevul word deur kunsmatige voerplekke of aasvoëlrestaurante te vestig. Met die omskepping van talle veeplase in wildsplase, het dié benadering meer momentum gekry. Afgesien daarvan dat die habitat op wildsplase meer natuurlik is, is afval van jagdiere regdeur die jaar beskikbaar om vir die aasvoëls uit te sit.

SA Jagters se rol

In ’n onlangse persverklaring, sê die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) dat hy al jare lank besig is met bewusmaking oor dalende aasvoëlgetalle. In dié tyd is verskeie projekte aangepak waarby talle van sy meer as 44 000 lede betrokke is. Verskeie van sy takke bedryf ook aasvoëlrestaurante waaraan opleidingsgeriewe gekoppel is, waar die publiek en veral jong mense en plaaslike gemeenskappe betrek word.

SA Jagters het onlangs die voortou geneem om aasvoël-erfenisgebiede te skep. Dit bied aan boere wat aasvoëlbewaring voorop stel, die geleentheid om hul plase te registreer en die taak in vennootskap met SA Jagters aan te pak. Deur broeiplekke op hul plase te beskerm, veilige voer- en suipplekke te skep, te help met die monitering van aasvoëls op hul plase, en te verseker dat hul boerderybedrywighede die voëls nie bedreig nie, dra hulle tot die bewaring van aasvoëls by.

Aasvoëlrestaurante

Kerri sê aasvoëlrestaurante skep voerplekke waar die voëls ’n betreklik konstante voorraad veilige kos kan kry. Hulle leer dit as ’n aanvullende voerplek ken.

So ’n voerplek moet in ’n area met min bome wees, sodat die aasvoëls die kos van ver af kan sien. Dit moet verkieslik op ’n hoërliggende plek of heuwel wees, waar die voëls toegang tot heersende winde het om maklik te kan opvlieg. Indien dit as toeristeaantreklikheid gebruik word, moet daar goeie skuilings vir toeskouers wees, sodat hulle nie die voëls afskrik nie.

So ’n swerm aasvoëls kan ’n karkas in ’n japtrap skoon pik en so verhoed dat siektes na vee en wild versprei. (Foto verskaf deur Vulpro)

Daar moet geen heinings binne 100m van die voerplek af wees nie, en dit moet weg van aanloopbane en kragdrade wees. Kragdrade is een van die groot oorsake van aasvoëlvrektes en moet minstens 2km weg van die voerplek wees.

Die kos wat uitgesit word, moet vry van skadelike middels wees. Waar ’n boer wildafval gebruik, moet die vleis waar die loodkoeël die dier getref het, verwyder word. Die voerplek moet vry van plastiek, oorplaatjies en ander skadelike stowwe wees.

Kerri sê Suid-Afrikaanse vee- en wildboere hou die toekoms van aasvoëls in hul hande. Omdat die voëls help om ’n gesonde habitat in stand te hou, boer hulle as’t ware saam op die plaas.

Vir meer inligting, kontak Kerri Wolter by 082 808 5113 of epos kerri@vulpro.com

Brahman, Boer Goat, predasiebeheer