Van die jong bulle wat ’n paar maande gelede uit die Fase C-toets gekom het. Daan is veral opgewonde oor die een links.

Estimated reading time: 6 minutes

Om die poenageen in jou kudde te wil vaslê sonder te veel inteling, is erg genoeg. As jy boonop nog moet waak teen dubbelbespiering, raak dit gou ’n frustrerende pad om te loop. So sê Daan Viljoen van Gelibar Bonsmaras in die Oos-Vrystaat.

Daan boer op die plaas Loskop tussen Clarens en Bethlehem saam met sy broer, Dirk, en hul seuns, JG en Jean, onder die vaandel van JG Viljoen en Seuns. Die boerdery bestaan uit ’n groot akkerbouvertakking, ’n Bonsmarastoet van 500 koeie en ’n kommersiële koeikudde. Dit werk gelukkig mooi uit dat Dirk en sy seun JG graag met ysters werk, terwyl Daan en Jean weer ’n voorliefde vir diere het.

“Ek het aanvanklik, toe ek in die vroeë 1980’s plaas toe gekom het, met ’n Jerseykudde begin en later ’n stoet, Gelibar Jerseys. Die melkery was lank my hooffokus. Toe ek in 2017 die Jerseys tot niet maak, het ek my fokus 100% na die Bonsmarastoet verskuif,” sê Daan.

Die teel van poenabeeste

Hy het in 1987 reeds besluit dat hy graag die poenageen in sy vleisbeeskudde wil vaslê. Om geskikte poenabulle te vind, was egter ’n kopseer. Die poenageen word met spesifieke negatiewe eienskappe geassosieer, waarvan die meeste, volgens Daan, wel waar is. Oor die jare kon hy egter dié negatiewe eienskappe so te sê uitteel.

“Ek het vir baie jare net kommersieel geteel. Die Gelibar Bonsmarastoet het eers in 2014 tot stand gekom. Teen daardie tyd was ek al sterk op pad om ’n poenabees te teel wat kon saampraat met enige gehoringde Bonsmara.

“Intussen het nóg ’n uitdaging oor my pad gekom, naamlik dubbelbespiering. Ek het dubbelbespierde kalwers begin aankry, wat beteken dat die geen in my koeikudde én in van my bulle teenwoordig is, en dus al hoe meer probleme gaan veroorsaak. Om poenabulle te vind wat die moeite werd is, maar nie die dubelbespieringsgeen dra nie, maak my keuse nóg kleiner.”

Die siening dat poenabeeste minder goed groei, is volgens Daan ’n mite. “Dit is wel waar dat die poenageen met prolaps van die skede geassosieer word, en as jy nie voortdurend daarteen waak nie, kan dit ’n probleem in jou kudde word. Maar as jy aandag daaraan gee, kan dit uitbestuur word.”

Sy mikpunt is om kommersiële telers te voorsien van poenabulle wat in alle opsigte so goed soos ’n horingbul is, maar met die voordeel dat horingbrand by bulkalwers uitgeskakel word. Hierdie praktyk, glo Daan, gaan toenemende weerstand van verbruikers ontvang, afgesien van die tyd en arbeid wat dit verg.

Voervloei deur die jaar

Die Oos-Vrystaat word gekenmerk deur goeie reënval en hoogs voedsame veld in die somer, maar die winters is straf, met uiterste koue en veld wat min voedingswaarde het. Daarom is goeie voervloeibeplanning en ’n voerbank uiters belangrik om deur die moeilike maande te kom.

Die Viljoen-familie. Van links is JG, Dirk, Daan en Jean.

“Ons het gelukkig die voordeel van oesreste, omdat ons ’n gemengde boerdery bedryf. Van die eerste ryp, iewers in Meimaand, totdat die mielies in Junie geoes word, gee ons bale, en dan weer as die oesreste teen middel Augustus opgevreet is, tot ná die eerste reën, wat gewoonlik middel-Oktober begin val.”

Hulle benut die oulandsgraslande waarop hulle hooi maak vroeg in die seisoen, wanneer die oulandsgras begin uitloop en die meeste ander grasspesies nog dormant lê. Hulle plant groenvoer om gate in die voervloei toe te stop, veral vir jong verse.

Sy doel met die voerbank, sê Daan, is om ’n hele jaar se hooivoorraad opgeberg te hê. Hy bereken die aantal bale wat hy nodig het soos volg: “As jou suurveldkamp waarin die koeie loop redelike bedekking het, kan jy wegkom met een baal vir 20 beeste oor twee dae. Dit gee jou drie bale per week vir 20 beeste. As jy egter ’n kaal kamp het wat in die somer oorbewei is, sal die aantal bale verdubbel.

“By ons is dit belangrik dat die beeste altyd dikgevreet is, omdat ons sulke strawwe kouefronte kry. ’n Dikgevrete bees kan die koue goed verduur.”

Weidingsbestuur

In die Oos-Vrystaat moet ’n mens jou natuurlike veld in die somer so goed as moontlik benut. As jy veld vir die winter probeer spaar, verloor jy dit in elk geval aan veldbrande, sê Daan.

“Ons probeer om nie ’n kamp meer as twee keer in die groeiseisoen te ontblaar nie. Ons wil genoeg blare wegneem, sodat daar nie brandbare materiaal oorbly om ’n baie warm brand te veroorsaak nie. Aan die ander kant wil ons genoeg wortelreserwes opbou, sodat die gras vroeg in die volgende groeiseisoen kan bot.

“Ons stelsel is in wese ’n beheerde selektiewe beweidingstelsel, waar ons die smaaklike grasse optimaal benut, maar die beeste uithaal vóór hulle gedwing word om die onsmaaklike spesies te vreet. Op dié manier verjong die polle van onsmaaklike spesies nie, en verloor hulle hul lewenskragtigheid.”

Daan gebruik lekinname as maatstaf vir wanneer die beeste uit ’n kamp geskuif moet word. “Solank as wat hulle nie die lek opvreet nie, weet ek die veld is nog voldoende. As hulle inname begin styg, weet ek dit is tyd om te skuif.”

Belangrike seleksie-eienskappe

Sy visie vir sy stoet is vrugbare koeie wat elke jaar kalf, die poenageen dra en gebalanseerde teelwaardes het. As hy bulle inkoop, is sy eerste norm vrugbaarheid, met ’n skrotumomvang bo die rasgemiddeld. Die ander vrugbaarheidsaspek is maklike besetting onder verse. Hy fokus op verse wat binne die eerste ses weke van die dekseisoen beset raak. Met húlle wil hy die paadjie loop.

Melkproduksie is eweneens ’n belangrike seleksiemaatstaf. Kommersiële telers wat bulle uit sy kudde koop, moet die verskering hê dat die vervangingsverse wat daardie bulle produseer, goeie melksyfers het. Verder moet die bulle goeie speenkalwers produseer wat in aanvraag by voerkrale is. Hulle moet dus goed kan groei.

Die waarde van sterk koeifamilies

Sy ervaring in die melkbedryf het Daan die waarde van koeifamilies geleer. “Elke verskalf wat jy in die kudde inbring, dra die toekoms van die kudde op haar skouers. As jy dus ’n koei het wat wisselvallig teel, sit dit jou vordering ver terug. Jy soek ’n koei uit ’n familie wat konstant goeie kalwers teel. Hoe verder jy hierdie lyn van betroubare teling kan terugtrek, hoe beter.

Daan se visie vir sy stoet is ’n vrugbare koei wat elke jaar kalf, die poenageen dra en gebalanseerde teelwaardes het.

“ ’n Goeie koeifamilie word oor tyd gevorm, op die voorwaarde dat jy deeglik meet. As jy na die suksesfaktore van bekende kuddes kyk, het almal dominante koeifamilies, wat soos goud opgepas word, as gemene deler.”

Daan besef dat hy homself geneties beperk deur sy doelwit om op die poenageen te fokus. Die vestiging van verskeie onverwante koeifamilies is daarom vir hom baie belangrik. “Ek moet oppas om nie my genetiese basis só te vernou dat ek met ’n intelingsprobleem begin sukkel nie. My mikpunt is dus om minstens vyf sterk koeifamilies te ontwikkel, waarmee ek dan kruis en dwars kan teel.”

Vir meer inligting, kontak Daan Viljoen by 083 630 8302.

noodhulpkas, Dormers, predasiebeheer