Estimated reading time: 6 minutes
- Na meer as 50 jaar as beesprodusent en veearts het dr Gustav Trümpelmann (75) sy status as Bonsmara legende dubbel en dwars verdien.
- Trümpelmann het verhuis na Nelspruit waar hy tydelike (locum)-werk by ’n privaatpraktyk verrig het, voor hy hom in Januarie 1973 op Lydenburg gevestig het en die Lydenburg Dierekliniek begin het. Die Trümpelmanns het in die stadium reeds die plaas, Doornhoek, besit en dit is daar waar Bostrum Bonsmaras gebore is.
- Buiten die tyd en koste van onthoorning wat gespaar word, glo dr Trümpelmann dat poenadiere beter as hul gehoringde eweknieë in ’n voerkraal presteer.
- Jongmense het tyd aan hulle kant en kan dus – deur slim seleksie – vir hulself ’n voortreflike kudde opbou. Trümpelmann se raad is egter eenvoudig: Vergeet van giere.
Na meer as 50 jaar as beesprodusent en veearts het dr Gustav Trümpelmann (75) sy status as Bonsmara legende dubbel en dwars verdien. Hy het sy eie voetpaadjie só platgetrap, dat die hele bedryf uiteindelik daarby kon baat.
Dr Trümpelmann is op Middelburg in Mpumalanga gebore en het later verhuis na Lydenburg, waarheen sy pa, ’n inspekteur van skole, verplaas is. Hulle het later na die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) verhuis, maar dit was in Lydenburg waar sy passie vir beeste posgevat het, aangesien sy ouers grond besit het.
“Ek was maar altyd lief vir diere,” sê hy en onthou hoe hy as negejarige reeds vroegoggend deur die ryp moes hardloop om die beeste voor skool te melk. Hierdie passie het gegroei en nadat hy aanvanklik ’n landbouvoorligter wou word, het dr Trümpelmann sy studierigting na veeartsenykunde verander omdat dit meer in lyn was met wat hy graag wou doen. “Ek het nooit veekunde afgeskeep nie. Dit het altyd vir my interessant gebly en was die eintlike rede waarom ek ’n veearts geword het.”
Nadat hy gekwalifiseer het, het hy aanvanklik as staatsveearts hawe-inspeksies in Durban gedoen. “Ek moes goed soos blikkieskos en uitvoerwol inspekteer wat glad nie my behoefte aan kliniese ervaring bevredig het nie. Dit is eerder die tipe werk wat ’n ouer veearts moet doen.”
Lees meer oor nog ‘n Bonsmara-legende hier.
Bostrum Bonsmaras word gebore
Hy verhuis toe sak en pak na Nelspruit waar hy tydelike (locum)-werk by ’n privaatpraktyk verrig het, voor hy hom in Januarie 1973 op Lydenburg gevestig het en die Lydenburg Dierekliniek begin het. Die Trümpelmanns het in die stadium reeds die plaas, Doornhoek, besit en dit is daar waar Bostrum Bonsmaras gebore is.
“Ek het baie van rooi, natuurlike poenadiere gehou en daarom het ons begin om daarop te fokus.” Die Bonsmara-ras is ontwikkel deur kruisteling van die Afrikaner met Herefords en Korthorings. Hy het egter ook sedert 1970 Simmentaler, Suid-Devon en ‘n Sussex-Afrikaner-kruising as basisdiere gebruik.
Destyds was daar nie die gerief van DNS-toetsing nie en gevolglik kon dr Trümpelmann oor die jare slegs sy poenadiere visueel identifiseer om sodoende die poenageen te vestig. Dit was nie altyd ewe suksesvol nie en soms kon hy dit net regkry om die poenageen by die helfte van die nuwe kalweroes te vestig. Die ideaal was om ’n homosigotiese poenabul te gebruik, sodat vordering in seleksie vir die poenageen versnel kon word.
“Tegnologie het die identifikasie van die poenageen soveel oor die afgelope tien tot 13 jaar vergemaklik dat daar binne enkele dae ’n akkurate uitslag deur die laboratoriums oor die poenastatus van diere kon wees.”
Tyd vir verandering
Dr Trümpelmann het die stoetkudde uiteindelik in 2017, na 47 jaar van stoetteling, verkoop. As een van die pioniers van die poenageen in Bonsmaras was dit ’n riem onder die hart dat die meerderheid van die diere aan Bonsmara-stoettelers soos Nick Serfontein (Sernick Bonsmaras), Jan Boshoff (Boshoff Bonsmaras), dr Joggie Briedenhann (Hartebeestloop Bonsmaras in Namibië) en John Boon (Boons Bonsmaras) verkoop is.
Hy boer egter steeds op klein skaal met poenskop-Bonsmaras, maar deesdae is dit net ’n kommersiële kudde wat sowat 90 diere sterk staan. “Ek gebruik nog van my geregistreerde poenabulle en vermeerder steeds die homosigotiese poenageen,” verduidelik hy en voeg by dat hy graag sy diere aan jonger telers sal wil aanbied om hul eie stoete na poenadiere op te gradeer.
Buiten die tyd en koste van onthoorning wat gespaar word, glo dr Trümpelmann dat poenadiere beter as hul gehoringde eweknieë in ’n voerkraal presteer. “Poenadiere benut lekbakspasie meer doeltreffend teenoor gehoringde beeste waarvan die dominante diere die ander van die lekbak weghou. Verder is dit veiliger om ’n poenadier te vervoer – die diere beseer mekaar ook nie so maklik nie en dieselfde geld in voerkrale.”
Sommige produsente argumenteer dat horings ook roofdiere, soos jakkalse, weghou, maar hy sê sy poenadiere doen dit ook. “My beeste maak ’n tipe kraamsaal waar so ’n paar koeie die kalwers teen jakkalse sal beskerm.” Hier gaan dit eintlik oor goeie moedereienskappe, verduidelik hy.
Verder het die poenadiere ook die byvoordeel van goeie marmering en vetverspreiding in die vleis, wat goeie vleisgehalte verseker. “Dit is danksy die nalatenskap van onder andere die Hereford-Angus-gene.”
Vergeet van giere
Jongmense het tyd aan hulle kant en kan dus – deur slim seleksie – vir hulself ’n voortreflike kudde opbou. Sy raad is egter eenvoudig: Vergeet van giere. “Daar gaan altyd een of ander geit wees wat die mark wil hê. Iets soos dubbelbespiering. Dit lei eenvoudig tot probleme met ’n negatiewe korrelasie tot vrugbaarheid, melkproduksie, gehardheid, stapvermoë, vetverspreiding en gevolglik algehele lae produksie. Onthou, funksie kom vóór bouvorm. Dit noem ’n mens funksionele doeltreffendheid.
“Fokus ook om ’n gemiddelde dier te teel en moenie net vanaf ’n rekenaar ’n besluit neem nie.” Uitskieters staan uiteraard op papier uit en as ’n teler slegs op grond daarvan besluite neem, bestaan die gevaar dat hy of sy uiteindelik ’n olifant (‘n enorme groot bees) kan teel.
Verder is dit belangrik om die omgewing in ag te neem. ’n Dier wat in ’n bergagtige suurveldstreek moet loop, sal uiteraard anders lyk as een wat op soetveld loop. Alhoewel die Bonsmara uiters aanpasbaar is, is dit altyd goeie raad om diere vanaf soortgelyke veldtipes as jou eie aan te koop. Hulle pas net makliker aan en begin dadelik doeltreffend produseer.
Word deel van die familie
Nuwe telers moet verder ook met Bonsmara SA in Bloemfontein skakel. “Die bestuurspan is baie bekwaam en sorg dat die Bonsmara-stelsel van seleksie deur prestasie en visuele beoordeling tydens boeredae en inspeksie deur seniorkeurders, prakties aangebied word. Dit is een van die grootste voordele van die ras.”
’n Ander voordeel is die feit dat meer as ’n miljoen diere op die Bonsmara-databasis geregistreer is. Die reuse-verskeidenheid is nog ’n rede waarom dr Trümpelmann die Bonsmara as topklas ag. Die Bonsmara bly een van die voorloper-beesrasse in die wêreld wat suiwer wetenskaplike seleksie kombineer met visuele keuring, en sodoende funksie en produktiwiteit vir die beesprodusent in die hand werk.
“Dit was en is steeds vir my ’n groot voorreg om betrokke te wees by die vestiging van ons eie Suid-Afrikaanse beesras, die Bonsmara.” – Susan Marais, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Gustav Trümpelmann by epos gwtbostrum@gmail.com.