Thursday, September 12, 2024

‘n Legende help die Bonsmara om oorsee te gedy

Estimated reading time: 4 minutes

  • Die Bonsmara-familie het ’n paar legendes wat diep spore in die ras se geskiedenis getrap het en Hans van Rooyen is een van hulle.
  • Dit het nie lank geneem om die Van Rooyens te oortuig om ’n Bonsmara-stoet op die been te kry nie. Dit was die geboorte van die Umpukane Bonsmara-stoet wat oor 40 jaar vir homself ’n naam in die bedryf uitgebeitel het.
  • Teelmateriaal was in daardie jare maar redelik skaars en die tegniek om embrio’s te spoel het ook in sy tyd as stoetteler ’n werklikheid geword.
  • Hans vertel dat Bonsmara SA van die begin af baie nou betrokke was by die projek en besonder hoë standaarde gestel het. Dit was nie sommer enige dier se embrio wat gespoel is nie.

Die Bonsmara-familie het ’n paar legendes wat diep spore in die ras se geskiedenis getrap het en Hans van Rooyen is een van hulle. Hans is ’n Vrystater wat in 1972 saam met sy pa en broer op hul plaas in Clocolan begin boer het. In daardie stadium het hulle kommersiële kruisteling gedoen.

“Soos wat dit maar met jong manne gaan, was ons altyd op die uitkyk vir nuwe uitdagings en in daardie stadium het ons ’n baie goeie landbouvoorligter, Guido Postma, gehad. Hy was ingelig oor die Bonsmaras wat toe al menige produsent aan die praat gehad het en het ons aan dié ras bekendgestel.”

Hierdie nuwe ras, wat in Suid-Afrika geteel en ontwikkel is met die doel om by Suid-Afrikaanse omstandighede aan te pas, het ’n diep indruk op Hans gemaak. Dit het nie lank geneem om die Van Rooyens te oortuig om ’n Bonsmara-stoet op die been te kry nie. Dit was die geboorte van die Umpukane Bonsmara-stoet wat oor 40 jaar vir homself ’n naam in die bedryf uitgebeitel het.

Embriospoeling

Teelmateriaal was in daardie jare maar redelik skaars en die tegniek om embrio’s te spoel het ook in sy tyd as stoetteler ’n werklikheid geword. Dit was ’n interessante wending in die wetenskap en het hom laat besef daar is baie moontlikhede in hierdie verband, veral om teelmateriaal vinnig en doeltreffend te vermeerder.

“Hierdie tegnologie het meer geredelik beskikbaar geraak en ons het besluit om daarvan gebruik te maak. Ons het onsself daarvoor ingerig en ’n paar voortreflike koeie by ouer telers gekoop. Ons het hul embrio’s op die plaas gespoel en oorgeplaas. Dit was die eerste stap in ’n rigting wat nog baie groter sou word.”

Hierdie wending het die beesboerdery in Suid-Afrika ’n reuse-hupstoot gegee. Omdat Suid-Afrikaanse beesteling al wêreldwyd ’n naam gemaak het, was baie oë gerig op die Suid-Afrikaners se embriospoelingstegnologie.

Belangstelling uit Amerika

Hans vertel van die beesbedryf in Amerika en veral Suid-Amerika wat hulle met groot belangstelling dopgehou het. ’n Paar jaar later het Danie Bosman, wat goeie kontak met Amerikaanse telers gehad het, die Van Rooyens aan rolspelers in Suid-Amerika bekendgestel. Op hierdie manier het hulle begin om embrio’s wat in Suid-Afrika gespoel is oor te neem en in koeie in Amerika oor te plant. Só het hulle ’n aandeel gehad in die nageslag van dié koeie.

Sukses het egter nie oornag gekom nie en Hans sê hulle het die pad treetjie vir treetjie geloop. Op die ou end het hulle uitstekende sukses bereik en is die gene van die Bonsmara-ras verder geneem.

Bonsmara SA is betrokke

Hy vertel dat Bonsmara SA van die begin af baie nou betrokke was by die projek en besonder hoë standaarde gestel het. Dit was nie sommer enige dier se embrio wat gespoel is nie. Seniorkeurders van die genootskap moes die diere eers beoordeel. Daarna is gekyk na die reproduksiestandaarde en rekords van die diere om vrugbaarheid en geskiktheid vir embriospoeling te bepaal.

“Die embriospoelings was tot groot voordeel van die ras; as gevolg van beperkings weens dieresiektes en protokolle kon ons nie in daardie stadium lewendige diere na Amerika uitvoer nie. Op dié manier is groot kuddes met uitstekende Suid-Afrikaanse genetika daar gevestig. Ons het ’n klompie jare later die voorreg gehad om van daardie kuddes te besoek. Dit was goed om te sien dat ons ’n bydrae kon maak tot die bevordering van die ras.”

Lees meer oor winsmarges van Bonsmara-stoetbulle hier.

Hy sê dit was wonderlike jare en hy glo dat jong produsente wat hulle in die stoetbedryf wil begeef, nooit ’n fout sal maak deur die Bonsmara te kies nie.

“Jy word deel van ‘n familie wat vir mekaar omgee en op ’n gesonde vlak meeding omdat skoue nie toegelaat word nie. Jy is boonop lid van ’n uitstekende genootskap wat sal sorg dat die bedryf se wiele geolie bly sodat die telers kan vooruitboer.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Hans van Rooyen by 072 564 0440.

Must read

RSG Landbou: 12 September – geborg deur BKB

Estimated reading time: 2 minutes Daar is verskeie tipes melk op winkelrakke te koop en die verbruiker het dikwels vrae oor onder andere, die voedingswaarde van gepasteuriseerde melk. In moreoggend se RSG Landbou beantwoord Maretha...
Chris Schutte and his wife Reinette Schutte with AFMA chairperson Anina Hunter. Schutte received the Lifetime Achievement Award.

AFMA honours excellence

Estimated reading time: 4 minutes Anina Hunter of Epol Feeds was re-elected as chairperson of the Animal Feed Manufacturers Association (AFMA), while Michael Schmitz from Meadow Feeds was re-elected as vice-chairperson at the 77th AFMA...

RSG Landbou: 11 September – geborg deur BKB

Estimated reading time: 2 minutes Tyd raak min om in te skryf vir die 2024 LRF Veeskool wat vanaf 9 tot 11 Oktober by Aldam aangebied word. Die program is gefinaliseer en in vandag se...
Ruth Pringle het die Rural Knitting Project in die Oos-Kaap gestig en die Sybokhaarbemagtigingstrust gaan dit verder uitbrei na ’n brei-opleidingsprogram wat opleiding aan plaaswerkers in ses Oos-Kaapse dorpe sal verskaf.

Die Sybokhaarbemagtigingstrust: Ekonomiese vordering deur inklusiwiteit en diversiteit

Estimated reading time: 5 minutes Die Sybokhaarbemagtigingstrust funksioneer onder die sambreel van Sybokhaar Suid-Afrika en speel tans ’n deurslaggewende rol in die ekonomiese vooruitgang van Suid-Afrika, veral in die landbousektor. Die Sybokhaarbemagtigingstrust se hoofdoelwit is...

Katoen-verwysingsprys: Week van 2 tot 6 September

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee. Hierdie is slegs ’n afgeleide prys wat bereken word op...