Te oordeel aan die pryse wat hy die afgelope twee jaar vir sy bulle kry, glo hy daar is ’n nuwe neiging na bulle uit die ou suiwer Britse en Europese rasse, sê Chris Nel, bekende Sussex-teler van die Eversar Sussexstoet naby Petrus Steyn.

Chris sê hy grond sy teorie op die aanvraag wat hy die afgelope paar jaar vir sy bulle kry, wat dubbel soveel is as wat hy voorheen gekry het. “My kopers vertel my dat die heterose (basterkrag) wat hulle in kalwers van my bulle kry, uiters bevredigend is. Een koper sê selfs dat hy tot 60kg op ’n speenkalf wen as hy my Sussexbulle gebruik. Hy het ’n koeikudde van een van die saamgestelde rasse en kla dat sy speengewigte ’n plafon bereik en selfs begin afneem het. Daarom het hy weer na suiwer bulle oorgeskakel.”

Hy meen die belangrikste rede waarom beesboere weer terug neig na suiwer rasse is die heterose-voordeel. “Dit is egter belangrik om uitstaande gehalte prestasiegetoetste bulle te gebruik om maksimum voordeel te kry.

“Waar ’n saamgestelde ras aanvanklik genoeg variasie binne die ras het dat ’n mens met die regte bulkeuse heelwat heterose kan bewerkstellig, kom jy tog op ’n punt waar die variasie in ’n kudde begin afneem. As jy dan ’n suiwer bul op die koeie sit, bring jy weer sterk heterose na vore. Die F1-nageslag van ’n suiwer bul by ’n onverwante moederlyn lewer maksimum heterose. Hierdie vroulike F1-diere is gesogte koeie met ongeëwenaarde prestasie. Hulle presteer baie beter as hul ouers.”

Voorspelbaarheid en erfdwang

Nog ’n rede waarom hy dink daar so ’n sterk neiging terug na die suiwer rasse is, is voorspelbaarheid en erfdwang.

“Prestasiemeting en –seleksie by die suiwer rasse kom al so ’n lang pad dat die gene al so goed vasgelê is dat die nageslag van ’n spesifieke bul voorspelbaar sal presteer. Dit is ’n eienskap wat vir boere al hoe belangriker raak. Die eerste voordeel daarvan is reeds by die geboorte van die kalf, waar suiwer bulle vir jou ’n voorspelbare geboortegewig gee. Daarna het hul nageslag voorspelbare produksie (voorspeen- en naspeen-groei), asook voorspelbare reproduksie.

“Suiwer rasse is reeds baie lank vir strukturele korrektheid geselekteer en dra hierdie eienskappe aan hul nageslag oor. Jy kan met redelike akkuraatheid voorspel of ’n spesifieke bul ’n eienskap soos byvoorbeeld groei gaan oordra, of dalk melkproduksie in sy kalwers gaan verbeter.

“Op dieselfde basis kan ’n boer bulle gebruik om vleissagtheid en marmering in sy speenkalwers te verbeter. Die volgende stap is genomika, wat voorspelbaarheid natuurlik nog meer gaan verbeter en vervroeg.

“Ek dink egter die belangrikste rede vir die neiging terug na suiwer rasse is omdat saamgestelde rasse oor die algemeen nie meer heterose binne die ras kan bewerkstellig nie, aangesien hulle te eenvormig begin raak het. Kruisteling is dus nou nodig om heterose te bewerkstellig.”

Styging in pryse

Chris het reeds 27 produksieveilings van sy Eversar Sussex-beeste gehou, en die pryse het die afgelope twee jaar geweldig gestyg.

“Ek neem nou waar dat kopers wat nog nooit voorheen by my gekoop het nie, in my bulle belangstel, al het ek niks anders of ekstra gedoen om hulle van my stoet bewus te maak nie.

“Ek doen moeite om op te volg of kopers tevrede is met my bulle. Ek kry deur die bank positiewe terugvoer. Dit sê vir my die Sussex, wat ’n suiwer Britse ras is, verskaf die X-faktor in ’n groot verskeidenheid kommersiële kuddes.”

Ekonomies belangrike eienskappe

Chris meen daar moet ook onthou word dat die hedendaagse Sussex heeltemal van die Sussex van 30 jaar gelede verskil. “Groei, melk, reproduksie, aanpasbaarheid en haarkleed, trouens al die ekonomies belangrike eienskappe, het met rasse skrede verbeter. Ons teel nou ’n bees wat by die Suid-Afrikaanse toestande aangepas is.

“Dit is ’n bekende feit dat boere oor die algemeen baie opgewonde raak oor iets nuuts. Wanneer ’n nuwe ras die land binnekom, heers daar groot opgewondenheid, en is die vraag so groot dat pryse die hoogte inskiet. In direkte teenstelling hiermee, is daar nou ’n neiging na iets ouds, naamlik die suiwer rasse, om aan ’n spesifieke behoefte vir beter prestasie van speenkalwers te voldoen.”

Voorspelbaarheid van bulle

Philip Barnard, ’n bekende Angus-teler van die Mequatling Angusstoet naby Clocolan, sê hy kry ook die indruk dat al hoe meer kommersiële beesboere beter voorspelbaarheid van hul kuddebulle vereis, en daarom terug neig na die ou suiwer rasse. “Hoe langer ’n ras op grond van streng seleksie suiwer geteel word, hoe groter is die voorspelbaarheid van sy teling.

“My indruk is dat die telers ook beter basterkrag vereis, en dat hulle dit nie meer in hul eie kuddes kry nie omdat dit so eenvormig geraak het. Met ’n saamgestelde ras het jy aanvanklik ongelooflike resultate as gevolg van basterkrag. Jy kry aanvanklik fantastiese kalwers, maar hier by die derde of vierde geslag het jy nie meer daardie basterkrag binne die ras nie, en dan raak die telers teleurgesteld.

“Daarmee saam vind ons dat boere suiwer rasse oorweeg om vrugbaarheid te verbeter. Dit is ook verstaanbaar. Wanneer ’n mens jou kudde opbou, hou jy soveel as moontlik vroulike nageslag terug. Dis logies dat jou vrugbaarheid dan ’n knou sal kry. Die telers wil dit regstel deur terug te keer na die ou suiwer rasse.”

Philip sê die Angus is in groot aanvraag as ontvangerkoeie vir ’n embrioprogram. “Onthou dat die Angus die grootste vleisbeesras ter wêreld is. Die genepoel is dus baie groot, en ’n mens kan baie streng selekteer. Dit dra daartoe by dat die Angus so in aanvraag is.”

Afrikaner- en Sussex-kruisings

Nico Kriek is ’n kommersiële beesboer op die plaas Clarenz in die Reitz-distrik. Hy sê eers sy pa en nou hy koop reeds sedert 1960 net suiwer bulle. Hulle het oorspronklik ’n Afrikanerkudde gehad, waarop hulle toe Sussexbulle begin gebruik het. Sedertdien wissel hulle tussen Afrikaner- en Sussexbulle.

“Die Afrikaner/Sussex is ’n baie goeie kruising, veral vir die toestande hier in die Oos-Vrystaat. As ek dan ’n Sussexbul gebruik, kry ek speengewigte waarmee ek baie tevrede is, naamlik 260kg of meer op die ouderdom van sewe maande.”

Waarom juis ’n suiwerrasbul? Dit gaan alles oor voorspelbaarheid en betroubaarheid, en hy het gevind dit skiet tekort by baie van die saamgestelde rasse. “Jy kry uitstekende kalwers uit saamgestelde bulle, maar elke nou en dan is daar ’n uiters treurige kalfie. Ek vind dit is nie ’n faktor by die suiwer rasse nie.

“Natuurlik moet ’n mens die bul wat jy wil koop, noukeurig uitsoek. Jy kan nie alles aan sy geskiedenis of sy syfers oorlaat nie. Jou oog moet die finale deurslag gee,” sê hy.

Vir meer inligting, skakel Chris Nel by 078 245 4442 en Philip Barnard by 051 943 0058 of 082 557 2075. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

noodhulpkas, Dormers, predasiebeheer