Tuesday, January 13, 2026

Noordwes-produsente steier steeds onder vloedskade

Estimated reading time: 3 minutes

Produsente in die oostelike deel van Noordwes, aangrensend aan Limpopo, pas steeds vloedskadebeheer toe nadat volgehoue, ontwrigtende reën en die oorstroming van rivierwalle onlangs verwoesting gesaai het.

Herman Roos van Sanddrif, 20km noord van Brits in die rigting van Thabazimbi, by die R511, sê talle produsente het groot vloedskade aangeteken. Hyself het in ‘n tydperk van drie dae meer as 250mm reën op sy plaas gehad. Hy het op ‘n enkele dag 180mm reën gemeet. Volgens Roos het die reënvalsyfers in die Britsgebied oor hierdie tydperk gemiddeld tussen 200 en 300mm gewissel.

Paaie in landerye spoel weg met water wat steeds uit landerye loop. (Foto: Herman Roos)

Gevolge van spoel- en versuipskade

Die grootste probleem wat produsente tans ondervind, is wat hy as ‘spoelskade’ beskryf. Landerye het verspoel weens die massas water wat afgekom het. Saam met die onmiddellike reën het die Krokodilrivier sy walle in dié gebied oorstroom. Van Roos se tabakaanplantings het weggespoel. Die gevolg is versuipskade wat intree. Roos sê sommige boere het uie aangeplant en kort daarna, weens die baie reën, het die saad weggespoel. Wildheinings is ook beskadig. ‘n Bydraende faktor is die massas water wat in spruite op sommige wildsplase afgekom het.

Hy reken die vloedskade wat aangerig is, is wydverspreid. Graangewasse in die rigting van Koedoeskop, Makoppa en Atlanta, waar die Elands- en Pienaarsriviere hul walle oorstroom het, was ook in die slag. Mielielanderye is onder water en spilpunte is beskadig. Hierdie boere loop nou die risiko dat hulle nie sal kan stroop nie. Produsente in die Skuinsdrif-gebied in die rigting van Groot Marico het ook skade aan hul landerye aangemeld.

Spilpunte onder water in landerye. (Foto: John Griffith)

Versadige grond

Roos sê kitsvloede van hierdie aard tref produsente swaar, en pogings word aangewend om die skade te versag. Hoewel van die graanprodusente versekering het in geval rivieroewers sou oorspoel, verskil versekeringspolisse van mekaar. ”Produsente in die groente- en tabakbedryf moet egter versuip- en vloedskade aan hul gewasse hanteer soos dit kom.”

Hy sê geaffekteerde produsente hou nou asem op, want indien swaar neerslae weer voorkom, sal die situasie vererger. “Die grond is versadig en dit lyk soos fonteine wat op die plase vloei. Almal glo vloedskade is die hoof bydraende faktor tot die skade, maar die grootste skade kom wanneer die grond versadig is en opvolgreën voorkom; dit verhinder dat die grond dreineer.” In hierdie geval ontstaan versuipskade, en dit is waar die grootste verliese voorkom.

“ ‘n Paar plante wat wegspoel is ‘n risiko, maar dit is mitigeerbare skade. As hektare plante egter vrek weens wortelsiektes, vergroot die skade. Die risiko is nou dat swamme op die plante kan ontwikkel,” sê hy. Intussen sê Naudé Pienaar, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, dat groot kommer heers oor groter vloedskade wat kan volg, indien die Departement van Water en Sanitasie nie verantwoordelik gaan optree ten opsigte van die vrystelling van water uit die Bloemhofdam nie. Hy hoop dat die oopmaak van hierdie dam se sluise beter beheer sal word as in die verlede. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Must read

Klimaatbestande voedselproduksie is waar wins en die planeet ontmoet

Estimated reading time: 6 minutes Die VN se klimaatsveranderingskonferensie (COP30), het die belangrike rol van landbou in die stryd teen klimaatsverandering beklemtoon. Dit raak al...

Katoen-verwysingsprys: Week van 5 tot 9 Januarie

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee....

RSG Landbou: 13 Januarie 2026 – geborg deur BKB

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor Suid-Afrika se appelkoosbedryf, Dr Danie Odendaal van Veearts Netwerk werp lig op kalwer vrektes...

LandbouRadio: 13 Januarie 2026

In Dinsdag, 13 Januarie se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Thalia Brameld, tegniese adviseur en bemarker by SA Stamboek, gesels oor die Logix...

Eastern Cape farmers help secure conservation

Estimated reading time: 4 minutes Across the Eastern Cape, groups of landholders manage their natural resources collectively, rather than individually at farm level. Wildlife, water,...