Thursday, December 12, 2024

Niks is jollie aan hierdie jeuk nie

Estimated reading time: 5 minutes

  • Skaapbrandsiekte is ’n aanmeldbare siekte en volgens wet moet al die boere in ’n area hul skape doseer as ’n brandsiekgeval in die omgewing sou voorkom.
  • Dr Willie Harris, ’n veearts van Noord-Kaap Repro en Veeartsenydienste op Upington, sê brandsiekte word veroorsaak deur ’n mikroskopiese klein myt genaamd Psoroptes ovis wat op skape of bokke se velle bly.
  • Skaapbrandsiekte kan beheer word en voorkomende optrede is die beste medisyne. Wanneer die probleem eers posgevat het, is dit moeilik om verspreiding daarvan na ander diere te keer en dit kan die veeprodusent én sy bure baie duur te staan kom.
  • Volgens dr Harris is biosekuriteit die eerste en belangrikste verdedigingsmeganisme teen brandsiekte-uitbrekings.
  • Tekens van skaapjeukmyt en skaapbrandsiekte is baie soortgelyk. In die geval van skaapbrandsiekte toon die skaap ook ’n gejeuk en irritasie. Dit veroorsaak dat die skaap aan sy vag byt en trek, wat die toestand vererger.

Daar is ’n Afrikaanse gesegde wat lui: “Een brandsiek skaap steek die hele trop aan”. Die uitdrukking het eintlik op mense betrekking en beteken dat een vrot appel die hele gemeenskap kan benadeel. Dit is duidelik dat hierdie spreekwoord uit die geledere van skaapboere kom, want ’n brandsiek skaap gaan nie net jou hele kudde aansteek nie – dit kan ook jou bure se troppe affekteer.

Skaapbrandsiekte is ’n aanmeldbare siekte en volgens wet moet al die boere in ’n area hul skape doseer as ’n brandsiekgeval in die omgewing sou voorkom.

Oorsake van brandsiekte

Dr Willie Harris, ’n veearts van Noord-Kaap Repro en Veeartsenydienste op Upington, sê brandsiekte word veroorsaak deur ’n mikroskopiese klein myt genaamd Psoroptes ovis wat op skape of bokke se velle bly.

“Die wyfies lê tot 100 eiers wat binne drie dae kan uitbroei. Myte leef en voed op die vel, maar grawe nie in die vel in nie. Wanneer hulle die vel prik om op limf te voed, veroorsaak dit ontsteking met ‘n gevolglike afskeiding van serum wat bo-op die vel stol,” verduidelik hy.

Hy voeg ook by dat ’n onderskeid getref moet word tussen Psoroptes ovis en die skaapjeukmyt, Psorergates ovis. Laasgenoemde kom gewoonlik by fynwolrasse voor. Hierdie twee myte kan net op mikroskopiese vlak deur ’n deskundige onderskei word.

Lees meer oor brandsiekte hier.

Voorsorg is beter as nasorg

Skaapbrandsiekte kan beheer word en voorkomende optrede is die beste medisyne. Wanneer die probleem eers posgevat het, is dit moeilik om verspreiding daarvan na ander diere te keer en dit kan die veeprodusent én sy bure baie duur te staan kom.

Volgens dr Harris is biosekuriteit die eerste en belangrikste verdedigingsmeganisme teen brandsiekte-uitbrekings. “Behandel nuwe diere met inspuitbare ivermektien voordat hulle tot die bestaande kudde toegevoeg word. Dit is ook noodsaaklik om besmetting wat op buurplase voorkom, te monitor,” sê hy.

Hy beveel ook aan dat boereverenigings die spuit van langwerkende ivermektien koördineer, sodat dit in dieselfde tydgleuf op verskillende plase plaasvind. Sodoende kan herbesmetting vanaf buurplase ook voorkom word. Hy voeg by dat hierdie roetinebehandeling minstens een keer per jaar moet plaasvind.

Tekens van brandsiekte

Tekens van skaapjeukmyt en skaapbrandsiekte is baie soortgelyk. In die geval van jeukmyt toon die besmette diere erge irritasie en jeuk. In hierdie geval is die parasiete gewoonlik baie min en kan hulle nie maklik met die blote oog gesien word nie. ’n Opvallende kenmerk is dat die wol gewoonlik slierterig en gekoek is, met ’n skilferigheid wat op die vel voorkom. Die wol kan ook ’n geel-oranje kleur hê.

In die geval van skaapbrandsiekte toon die skaap ook ’n gejeuk en irritasie. Dit veroorsaak dat die skaap aan sy vag byt en trek, wat die toestand vererger. Die diere is ook geneig om hulle teen pale of gespande draad te skuur om van die irritasie ontslae te probeer raak – dit is op hierdie manier dat die siekte dikwels van die een plaas na ‘n ander oorgedra word. Omdat die myt die vel prik om te voed, is daar kaal kolle wat korserig vertoon of die wol is gekoek en sit aan die korse vas.

Oordrag na ander diere

Die oordrag van die skaapbrandsiekmyt vind hoofsaaklik tydens kontak tussen diere plaas. In dr Harris se ervaring versprei die siekte veral in die wintermaande tussen vee, omdat die klimaat in langer wol gunstig is vir hierdie parasiete. In hierdie tyd is die skape ook meer geneig om saam te drom of ingekraal te word.

“Dit is belangrik om te onthou dat skaapbrandsiekte ’n beheerde siekte is. Enige verdagte gevalle moet aan die staatsveearts gerapporteer word. Indien skaapbrandsiekte positief gediagnoseer word, sal die plaas en buurplase vir sowat ses weke onder kwarantyn geplaas word na geskikte behandeling. Enige laksheid van die produsent se kant om die staat by te staan om die siekte te beheer, kan tot boetes of selfs tronkstraf lei,” waarsku hy.

Diere met skaapbrandsiekte kan wel geslag en in ’n geseëlde voertuig na ’n geskikte abattoir vervoer word, mits suksesvol aansoek gedoen is vir ’n rooikruispermit hiervoor. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr Willie Harris van Noord-Kaap Repro en Veeartsenydienste by 054 331 2660.

Must read

SSA – 2024 was ‘n jaar van veerkragtigheid

Die Suiwelstandaardagentskap het in 2024 'n hele paar hoogtes bereik en kan volgens besturende direkteur, Jompie Burger, met die woord "veerkragtigheid" opgesom word. In die onderstaande potgooi, deel hy 'n paar doelwitte vir 2025 en die...

RSG Landbou: 12 Desember 2024 – geborg deur BKB

Agbiz, die Landboubesigheidskamer, het die 2024 International Food and Agribusiness Management Association kongres in Brasilië, bygewoon. Ons gesels in vanoggend se RSG Landbou met Theo Boshoff hieroor. Hy brei onder andere uit oor globale...

RSG Landbou: 11 Desember 2024 – geborg deur BKB

Algemene veiligheidsaspekte en wetlike vereistes wat van toepassing is in terme van beroking en plaagbeheer in die graanbedryf het onder bespreking gekom tydens nog ‘n aanlyn SHEQ-werksessie. Dr Gerhard Verdoorn van CropLife SA, het ook...

Brommers kan ‘n skaap lewendig opvreet

Estimated reading time: 4 minutes Brommers wat skape aanval, vreet die diere feitlik lewend op. Groenbrommers is die grootste probleem op wolskaapplase en is verantwoordelik vir 90% van die aanvalle. In feitlik alle gevalle is vog in...

The lion in the room: WRSA addresses concerns in conservation

Estimated reading time: 7 minutes Wildlife Ranching South Africa (WRSA) is currently addressing two Government Gazettes, published on 14 and 15 November 2024, that will fatally affect the commercial lion industry – the welfare of...