Estimated reading time: 6 minutes
Dit het vanjaar behoorlik gegons tydens Bloemskou se veekampioenskappe. Vyftien bees- en skaaprasgenootskappe het elf nasionale kampioenskappe, een provinsiale kampioenskap, vier gewone kampioenskappe, twee nasionale veilings en een verseveiling aangebied. Rasse het ingesluit Merino SA, Ile de France, Merino Landskaap, Suffolk, Dorper, Simmentaler, Beef Shorthorn, Limousin, Hereford, Sussex, Braunvieh, Santa Gertrudis, Dexter, Angus, Simbra en Charolais.
Ook op Bloemskou 2024 se program was die eerste streeksrondte van Plaas Media se Toyota SA Nasionale Jongafslaerskompetisie, die Vleissentraal SA Stamboek Elite Bulgroeitoetsklas, en die ABSA bees-interraskampioenskap.
Toyota SA Nasionale Jongafslaerskompetisie
Vier aspirant-afslaers, Jovaan Cloete, Albertus Gouws, Hanno Ferreira en Jurie Burger, het aan hierdie rondte deelgeneem. Jurie het koning gekraai in hierdie streeksrondte en Hanno was in die tweede plek. Die twee jong afslaers het elk ’n geskenkpak van Toyota SA ontvang en dring deur na die finale rondte wat in September by Nampo Kaap plaasvind. Die beoordelaars tydens die rondte was Alan Sinclair van Vleissentraal Bloemfontein, Gert Jordaan van OVK en Johan Gunter van Agriculture Dot Golf.
Merino Landskaap-kampioenskap
Die genootskap se nasionale kampioenskap word vir meer as 20 jaar al by Bloemskou aangebied. Vanjaar het sewe telers net meer as 50 diere ingeskryf vir die kampioenskap. Die telers wat met die grootkampioentoekennings weggestap het, is Dutwa-boerdery van Cradock en Roebella-boerdery van Koppies.
Simmentaler-geleenthede
Tydens Simmentaler SA se 18de nasionale kampioenskap het een teler vyf toekennings ontvang vir sy uitmuntende prestasie tydens die skou. Peter en Lucille Abrahamse van Rivervalley Simmentalers het toekennings ontvang vir teler met die meeste punte vir vroulike diere, manlike diere, algeheel en vir die groepklasse. Hulle is ook aangewys as teler van kampioene. Dit is die eerste keer in die genootskap se geskiedenis dat een teler al die toekennings ontvang het.
Lees hier meer oor die Simmentaler-genootskap se verse- en nasionale veiling tydens Bloemskou.
Altesaam 27 telers het aan die kampioenskap deelgeneem met 130 vroulike en 109 manlike diere. Die opperste kampioen was ’n koei van Rivervalley Simmentalers en die reserwe opperste kampioen ’n bul vanRivervalley Simmentalers. Die twee diere was ook grootkampioen-koei en grootkampioen-bul.
Sussex nasionale kampioenskap
Die Sussex-beestelersgenootskap skou al sedert 1920 en het tydens vanjaar se Bloemskou weer so gemaak. Daar was vyf telers met 40 diere by hierdie nasionale kampioenskapskou. Gaan kyk gerus na Plaas/Farm TV se onderhoud met Enrico Cronjé van die Huntersvlei Sussex-stoet en adjunkpresident van die genootskap. Die toppresteerders by hierdie kampioenskap was Huntersvlei Sussex en Platdrif Sussex.
Santa Gertrudis nasionale kampioenskap
Die Santa Gertrudis-beestelersgenootskap vier vanjaar hul 50ste bestaansjaar. Tydens Bloemskou het 15 telers bymekaargekom om nie net dié mylpaal te vier nie, maar ook om aan die genootskap se nasionale kampioenskap deel te neem.
Rooi en Swart Angus nasionale kampioenskap
Altesaam 18 telers het aan Angus SA se nasionale kampioenskap deelgeneem. Die Angus-skou het oor twee dae plaasgevind, met dag een wat as die Voermol Rooi Angus-dag bekendgestaan het, en dag twee as die Molatek Swart Angus-dag. PJ Budler, bekende internasionale interrasbeoordelaar, het die diere se lof besing en genoem dat veral die Rooi Angus-kampioene by die skou selfs oorsee ’n goeie wenkans sou staan.
ABSA-beesinterraskompetisie
Die laaste dag van Bloemskou se landbouprogram is tradisioneel die dag waarop die ABSA beesinterras-kompetisie plaasvind. Verskeie beestelersgenootskappe het aan vanjaar se interraskampioenskap deelgeneem. Die grootkampioenkoei en opperste kampioen was ’n Swart Angus van Milagro Farms van Andrew Masterson, met ’n Santa Gertrudis-bul uit Tina de Jager se Valley Venture-stoet wat as grootkampioen-bul en reserwe opperste kampioen gekroon is.
Besoek www.agriorbit.com vir die uitslag van die BKB Merino Classic asook die Vleissentraal SA Stamboek Elite Bulgroeitoetsklas. Maak ook ’n draai op Plaas Media se YouTube-kanaal, Plaas/Farm TV, om te kyk na onderhoude met verskeie verteenwoordigers van sommige rasgenootskappe wat by Bloemskou 2024 was. – Deidré Louw, Veeplaas