Merino’s waarop jy inderdaad kan staatmaak

Estimated reading time: 7 minutes

Die Merino’s op sy plaas sal nooit ‘n swak graanjaar kan subsidieer nie, maar dit sorg vir goeie kontantvloei en deur die weiding in die wisselboustelsel te benut, speel dit ook ‘n groot rol in die volhoubaarheid van die boerdery. So sê Dirk Uys van die plaas, Merino, naby Bredasdorp in die Suid-Kaap.

“Wisselbou maak ons boerdery volhoubaar. Ons spandeer baie geld daaraan en moet vee hê om die weiding te benut. Dit is veral ‘n groot voordeel in swakker kampe waar jy nie elke jaar kan plant nie. Ons sien jaarliks dat die kampe wat die langste onder lusern in die wisselboustelsel is, die kampe is wat die beste in die graanfase vaar.”

Volgens Uys bring die graanvertakking 70% van hul totale boerdery-inkomste in, maar is meer afhanklik van reënval en het ‘n groter risiko as die veevertakking wat vir die ander 30% sorg.

Lees ‘n artikel hier oor wolgehalte.

‘n Tipiese Suid-Kaapse plaas

Die plaas is 1 000ha groot waarvan 910ha bewerkbaar is. Die gemiddelde reënval is 425mm per jaar. Hulle volg ‘n langrotasie-wisselboustelsel met kleingraan en lusernweiding. Die lusernfase is vyf jaar lank en in daardie tyd word grasse elke jaar in die lusern uitgespuit om seker te maak die lande is skoon van smalblaaronkruide wanneer die graanfase begin. Die lusern bind ook stikstof in die grond, sê Uys.

Koring, gars en kanola word op 60% van die bewerkbare grond verbou en weiding op die res. Lusernweiding maak die gros van die weiding uit. Hawer, kanola en weiwieke word elke jaar op 60 tot 70ha geplant vir die maak van kuilvoer en as weiding. Die skape loop van begin November tot in Februarie op stoppellande, en van Februarie tot Oktober op die lusernweiding. As die lusernweiding min raak, word die kuilvoer ad lib gevoer.

Net suiwer Merino’s

Die veevertakking bestaan uit 1 200 Merino’s. Hiervan is 400 ooie in sy Staatmaker Merinostoet en 800 is kudde-ooie. Uys gebruik net Merino-ramme op sy kudde-ooie en doen geen kruisteling nie. Die Staatmakerstoet stam uit die bekende Kommarsekraalstoet en het ontstaan toe Uys se pa, Wallies, en sy broer die boerdery gedeel het. Die Kommarsekraalstoet het op Kommarsekraal gebly en die Staatmakerstoet is in 1993 as stoet op Merino geregistreer.

“Daar is ‘n verskil tussen boer met vee en om vee aan te hou,” sê Uys. “Ek boer met Merino’s omdat die diere mooi is. Ek is lief vir die ras en vir goeie wol. Wat inkomste betref, is daar nie ‘n ras wat die moderne, aangepaste Merino waarmee ons boer, kan klop nie.”

Toe hy in 1985 begin boer het, was die tipe Merino waarmee hulle toe geboer het, nie ideaal nie en het ruimte vir die Dohne Merino geskep. Dit het hulle genoop om die Merino aan te pas na ‘n skaap met ‘n gladder lyf. Hoewel hierdie tipe minder wol produseer, is die wol se gehalte en lengte beter.

Volgens hom is die moderne Merino ‘n dubbeldoelskaap. “Die gebied waarin ons boer het genoeg weidings. Ons diere kan dus meer wol dra.”

Die ramme in die Staatmaker Merinostoet is goed aangepas, met goeie bouvorm en uitstekende gehalte wol.

Lesse van die verlede

Uys sê hy is ‘n groot voorstander van back to basics. “Die oumense het nie alles verkeerd gedoen nie. Daar is goed wat hulle reg gedoen het en jy moet dit bly gebruik. Dit beteken egter nie jy moet wegskram van nuwe tegnologie nie.” Hy doen byvoorbeeld meestal natuurlike dekking, maar waar nodig word nuwe tegnologie soos genomika, laparoskopie of kunsmatige inseminasie ingespan.

Die Staatmaker-stoet is ‘n redelik geslote kudde. “Ons koop soms ‘n ram of ‘n aandeel in ‘n ram, maar is versigtig om nie die verkeerde ram in te bring nie. Dit vat baie lank om ‘n fout te herstel as jy verkeerde teelmateriaal inbring,” sê Uys.

Sy skape is goed aanpasbaar, met goeie bouvorm en uitstekende gehalte wol. Die skape moet gemaklik loop, wei, en die weiding in vleis en wol omsit. Wat bouvorm betref, skram hy weg van te groot en vroegryp diere. Die skape moet goeie vleis in die boude dra. Goeie hakke en loopgemak is belangriker as ‘n dier wat soos ‘n skoudier lyk.

Uys is lief vir goeie wol, daarom is goeie lengte ononderhandelbaar. Die gemiddelde veseldikte van die stoetdiere se wol is tans 18,5 mikron. Hy skeer 7,4kg wol per ooi per jaar. Dit sluit nie ramme en lammers se wol in nie.

BLUP is ‘n moet

Hoewel prestasietoetsing en BLUP (best linear unbiased prediction) ‘n groot rol in die seleksie van ramme en ooie speel, word hulle eers met die hand-en-oog-metode geselekteer om diere met prulfoute uit te skot en seker te maak die vervangingsdiere voldoen aan die stoet se bouvormvereistes.

“As jy ‘n stoet het, móét jy BLUP gebruik. Die ramkopers vereis dit,” sê Uys. Hy verkoop sy stoetramme op die Suid-Kaap promosieveiling en van die plaas af. Die diere wat hy met behulp van BLUP selekteer, se liggaamsgewig moet minstens plus een wees, die hoeveelheid wol moet 400g en hoër wees, die veseldikte moet ‘n minus wees, en stapellengte ‘n positief van minstens 1,5.

Die oorspronklike Kommarsekraalstoet het in 1960 al met prestasietoetsing begin en dit word sedert 1993 in die Staatmakerstoet voortgesit. Die ramme wat in die stoet gebruik word, moet onder die top 10% van die kudde wees en ‘n silwer merietekwalifikasie hê. Die ramme moet ook aan BLUP-vereistes voldoen en hul bouvorm moet reg wees.

Die ramme wat in die stoet gebruik word, moet onder die top 10% van die kudde wees en ‘n silwer merietekwalifikasie hê.

Geen passasiers

By ooiseleksie speel moedereienskappe ‘n groot rol, omdat reproduksie die kudde se volhoubaarheid bepaal. Ooie wat nie dragtig skandeer nie, en minstens 80% van ooie wat nie ‘n lam speen nie, word uitgeskot. Die ooi kry net ‘n tweede kans as ongure weer tydens lamtyd die oorsaak van lamvrektes was. “Ons het nie passasiers op die plaas nie.”

Die ekonomie help ook met seleksie. Deur na elke ooi se vleis- en wolproduksie (kg vleis en wol/ooi/jaar) te kyk, kan die ooie wat die hoogste inkomste lewer, geïdentifiseer word. Die swakste produseerders word uitgeskot.

By ooiseleksie speel moedereienskappe ‘n groot rol, omdat reproduksie die volhoubaarheid van die kudde bepaal.

Klein lamkampies

Goeie bestuur verseker dat hy die beste moontlike produksie uit sy diere kry. “Dit is veral belangrik dat die jong ooitjies die beste behandeling kry, want hulle is die toekoms van jou kudde. Die jong ooie word op 12 maande gepaar as hulle minstens 50 tot 55kg weeg.”

Die stoet- en kudde-ooie lam net een keer per jaar van middel Februarie tot einde Maart. Die speenpersentasie (lammers van ooie wat gedek is) wissel van 125 tot 135%. Die dekseisoen is van 15 September en duur 34 dae. Die ooie lam almal in lamkampies wat ongeveer 30 x 50m groot is. Een-, twee- en drielingooie word in groepe gedeel en ‘n week voor lamtyd in groepies van 15 in die lamkampies gesit. Hulle bly daar tot twee weke na die laaste ooi gelam het. Gewoonlik is die ooie vir 35 tot 40 dae in die lamkampies, waar hulle volledig gevoer word.

Stoet se toekoms verseker

Uys sê hy is gelukkig dat sy seun, Wallies, ook lief is vir die Merino’s en erg is oor die stoetery. Walter stel baie belang in genetika en teling. Hy gaan nuwe tegnologie saam met die beproefde metodes inspan om voortdurende vordering in die Staatmaker Merinostoet te verseker. “Tegnologie maak nie dat jy beter boer nie, maar dit maak teling makliker en rekordhouding meer akkuraat,” sê Wallies. – Hugo Lochner, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na merino@whalemail.co.za of skakel Dirk Uys by 082 940 2152.

Must read

RSG Landbou: 6 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die 2026 LRF Veeskool, AFSTA se kongres en ons skop af met ons nuwe...

LandbouRadio: 6 April 2026

In Maandag, 6 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met onkruidkenner, prof Charlie Reinhardt, en hy gesels oor die...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...

LandbouRadio: 3 April 2026

In Vrydag, 3 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met 'n plaasvars landbounuusbulletin. ⁠Tydens die Afrika Saadverhandelingsvereniging se kongres in...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on the other hand, is the misfortune, accident, or disaster that...