Maak biosekuriteit só ’n leefwyse

Estimated reading time: 4 minutes

In ’n tyd waar Suid-Afrika sy bek-en-klouseer (BEK)-status kwyt is, is biosekuriteit nie ’n eenmalige prosedure nie. Dit het ’n noodsaaklike leefwyse geword wat elke veeboer blitsig moet bemeester, aangesien dieresiektes nie sommer uitgeroei gaan word nie. Hoe gouer elkeen dit ’n leefwyse maak, hoe makliker sal produsente leer om daarmee saam te leef.

Behalwe vir BEK, is daar nog talle ander siektes wat deur doeltreffende biosekuriteit in die bek geruk kan word.

Die Rooivleisprodusente-organisasie in die Noord-Kaap (RPO Noord-Kaap) het ’n merklys opgestel wat as riglyn kan dien om goeie higiëne op elke veeplaas te bevorder. Die gedagte is dat die lys deur kuddebestuurders en/of eienaars aangepas moet word om by die spesifieke behoeftes van elke plaas te pas.

Voertuigontsmetting

Die eerste aspek wat aandag moet kry, is die voertuig waarmee diere vervoer word.

Alle voertuie wat gespletehoefdiere vervoer, moet deeglik skoongemaak en met ’n doeltreffende ontsmettingsmiddel ontsmet word. Hierdie proses moet ná aflaai, vóór laai, asook met die aankoms by die bestemming gevolg word.

Beperk toegang tot die plaas tot slegs een ingang en plaas biosekuriteit-kennisgewings by al die uitgange. Probeer om besoekers op die plaas te beperk en dui besoekersparkeerareas duidelik aan.

Merklys (in korrekte volgorde):

  1. Verwyder alle organiese materiaal soos modder, mis en vloeistowwe van die voertuig.
  2. Verwyder alle mis, beddegoed en vloeistowwe uit die interne laairuimte.
  3. Gebruik ’n hoëdrukspuit om die hele area met seep of skoonmaakmiddel skoon te spuit.
  4. Ontsmet die voertuig van bo tot onder.
  5. Was die sypanele, klappe en interne afskortings.
  6. Ontsmet tenks, spatborde en modderskerms aangesien dit die virus kan beskerm.
  7. Spuit die bande en wielnisse behoorlik af.
  8. Ontsmet die binnekant van die kajuit, insluitend vloermatte, pedale en deurhandvatsels.

Beweging van diere

Die verspreiding van BEK vind meestal deur die beweging van die diere plaas. Daarom moet daar ook ’n deeglike protokol op die plaas wees om hierdie risiko te beheer.

Merklys:

  1. Word beweging van diere op en van die plaas af duidelik aangeteken om die oorsprong van ’n siekte makliker te kan opspoor?
  2. Is alle diere duidelik identifiseerbaar deur middel van oorplaatjies of tatoeëermerke?
  3. Is nuwe aankope vir minstens 30 dae in kwarantyn gehou voordat hulle by die bestaande kudde ingevoeg is?

Persoonlike higiëne en beskermende klere

BEK-virusse, net soos ander virusse, word dikwels deur mense oorgedra. Daarom is die higiëne van personeel net so belangrik soos die higiëne op die voertuie.

Eenvoudige veranderings kan ’n verskil maak. Alle werkers moet elke dag skoon oorpakke gebruik en dit op die plaas was en ontsmet. Rubberstewels word aanbeveel, aangesien dit makliker ontsmet as leerskoene. Dit is moontlik dat ’n mens virusse in sy neusholtes kan dra, en daarom behoort chirurgiese maskers gebruik te word. Gereelde handreiniging of weggooibare handskoene kan die verspreiding van die virus verder bekamp.

Merklys:

  1. Trek skoon plaasoorpakke en stewels aan voordat vee-areas betree word.
  2. Skrop stewels om organiese materiaal te verwyder voor ’n voetbad gebruik word.
  3. Was jou hande gereeld met antiseptiese seep of gebruik  ’n 70% alkoholgebaseerde reiniger.
  4. Ontsmet enige handtoerusting soos veestokke, selfone, notas en soortgelyke items.
  5. Aan die einde van ’n werksdag moet werkers stort en hul oorpakke inhandig voordat hulle die perseel verlaat.

Voeraankope en -bestuur protokol

Die aankoop van voer kan ook die BEK-virus na jou plaas bring. Voer kan besmet word deur wildsbokke, voertuie of berging in hoë risiko areas.

Daarom is dit belangrik om by verskaffers met ’n biosekuriteitsverklaring te koop of wat in ’n BEK-vrye sone is.

Merklys:

  1. Kan die bron van die aangekoopte voer geverifieer word?
  2. Is die voertuig behoorlik volgens die ontsmettingsprotokol behandel voordat dit die plaas betree het?
  3. Word die verbod op die inbring van rou kos, melk of onbehandelde vleis in diere-areas nagekom?
  4. Word die voer in ’n voël- en knaagdierbestande stoorfasiliteit geberg?
  5. Is die waterbronne van die diere teen afloop vanaf buurplase of wild beskerm?

Die RPO Noord-Kaap benadruk dat hierdie slegs ’n basiese riglyn vir ’n effektiewe biosekuriteitstelsel is. Dit kan verder uitgebrei word om by elke plaas te pas. Die belangrikste is egter dat elkeen op die plaas die protokolle moet nakom om te voorsien dat die virus nie ’n lêplek op die plaas kry nie. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Vir meer inligting skakel gerus met Yolande Botha, bedryfsbeampte van RPO Noord-Kaap by 067 597 1866.

Must read

RSG Landbou: 6 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die 2026 LRF Veeskool, AFSTA se kongres en ons skop af met ons nuwe...

LandbouRadio: 6 April 2026

In Maandag, 6 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met onkruidkenner, prof Charlie Reinhardt, en hy gesels oor die...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...

LandbouRadio: 3 April 2026

In Vrydag, 3 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met 'n plaasvars landbounuusbulletin. ⁠Tydens die Afrika Saadverhandelingsvereniging se kongres in...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on the other hand, is the misfortune, accident, or disaster that...