Hul teelbeleid wat vrugbaarheid, lamgroei en goeie speengewig bevorder is hul wenresep. So sĂȘ die eienaars van Lowmar Dohnes op die plaas Lowlands tussen Cradock en Middelburg.
Hierdie Dohne-Merinostoet is in 2010 op die been gebring, nadat Philippie Marais en Hugh Collett hul onderskeie Dohne-stoeterye saamgevoeg het. Philippie boer ook met volstruise en sy seun Japie is ten nouste by die diverse boerdery betrokke, waarvan skaapboerdery die hoofvertakking is.

Dubbeldoel se waarde
Japie glo die teelbeleid waarop ân produsent fokus, is die bepalende faktor in ân wol- of vleisgedrewe inkomste. âOns inkomste word op 75% vleis en 25% wol bereken. Daarom is dit belangrik dat die skape vrugbaar is, die lammers vinnig groei en op ân goeie gewig speen.â

Hy voeg by dat die Dohne-Merino die term âdubbeldoelrasâ perfek beskryf, omdat die skape se wol ân ekstra inkomste bied.
Die lusern en mielies op die plaas word vir eie gebruik geplant en verpil, en surplusse word aan die omgewing se melkprodusente verkoop. Hulle het ook okkerneut- en pekanneutboorde geplant, wat ân lonende vertakking van die boerdery is.
Wetenskaplik en natuurlik
Die skape word elke agt maande geskeer â gewoonlik kort voor paring. Volgens Japie dien dit as ân goeie prikkel. âOns gebruik laparoskopie op die stoetooie omdat dit bestuur en rekordhouding vergemaklik, terwyl dit ook belangrik vir genetiese vordering is. Laparoskopie kos wel ekstra, omdat ons reeds goeie besetting met natuurlike paring het. Dit baat egter nie om ân stoetram vir elke 30 of 35 ooie te koop nie â dit is bloot te duur.â
Die stoetooie word dus laparaskopies met die semen van die beste ramme geĂŻnsemineer. Dit is die vinnigste manier om genetiese vordering te bewerkstellig. âOns hou daarvan om tussen 25 tot 30% genetika van ander telers te gebruik. Dit help om die stoet se eie identiteit te behou en stel ons ook in staat om op standaard te bly en met die beste stoeterye in die land te vergelyk.â

Die kudde-ooie word natuurlik op die veld of lande gepaar en, behalwe vir die wintermaande, ontvang hulle twee weke voor paring ân lek. âDie ooie het voorheen elke agt maande gelam, maar die afgelope drie jaar is ons terug op ân twaalfmaandesiklus, omdat die ooie net nie die pas kon volhou nie,â sĂȘ Japie. âNou bly die ooie langer in produksie en die speenlammers se kondisie is beter.â
Kophou met ân groepstelsel
Die Maart-groep se ooie, byvoorbeeld, word vir 34 dae in die veld by die ramme gelaat. Ses weke later word die ooie geskandeer en elke ooi word met ân spesifieke kabelbinder gemerk, afhangend van die groep waarin sy val, naamlik dragtig met ân eenling, dragtig met ân tweeling, of droog.
âAs ân jong ooi droog is, kry sy nog een kans by die ram. Die dragtige ooie bly in die veld tot aan die begin van Julie, waarna die ooie met een- en tweelinge vir voedingsdoeleindes in twee groepe verdeel word,â sĂȘ Japie.
Ses weke voor lam word die ooie op deurvloeiproteïen gesit en as daar genoeg weiding op die lande is, gaan dié wat met tweelinge dragtig is, daarheen. Dié met eenlinge word twee weke voor lamtyd op die lande gesit.
Hulle doen alle inentings tussen vier en ses weke voor lamtyd. âDie ooie met tweelinge lam daarna in kleiner troppe en diĂ© met eenlinge in groter troppe. Tien dae nĂĄ die lammers se aankoms, word hulle op kruipvoer gesit. Hulle word daarna op twee- tot twee-en-ân-half maande gespeen en die ooie gaan dan terug veld toe.
âDaarna groei die ooilammers op die lande uit en nadat hulle hul eerste lam gespeen het, gaan hulle veld toe. Danksy die feit dat die ooie veld toe gaan om te rus voordat hulle weer by die ramme gesit word, is die parasietlading op ons lande ook minder,â voeg Japie by.
Die visie op Lowlands is om lammers wat goed groei te speen en so gou as moontlik teen die regte gewig te verkoop.
âSonder om enige ander faktore in die boerdery af te skeep, beskou ons lamgroei en vrugbaarheid as die belangrikste vir die skaapboerdery, want dit sit geld in die bank en help ons om vooruit te boer. Byvoorbeeld, in Oktober verlede jaar het ons swaarste kuddelam op 95 dae oud presies 50kg geweeg en die res van die speenlammers het ân gemiddelde daaglikse toename van 640 tot 670g oor ân tydperk van 17 dae getoon.â
Markgereed met tegnologie
Japie meen BLUP-teelwaardes, wat waardevolle inligting bevat, is nog ân belangrike rede waarom die Dohne-Merino-boerdery vir hulle so besonders is.
âOns geniet diĂ© gedeelte van die boerdery, omdat dit ons help om meer akkuraat te bepaal hoe ân dier gaan teel. Dit bly steeds vir ons belangrik om van die tipe dier te hou waarmee ons boer, maar die BLUP-syfers en hand-en-oog tegnieke stel ons in staat om ingeligte besluite te neem.â
Hulle pas in dié stadium radiofrekwensie-identifikasietegnologie (RFID) nog net op die hamellammers toe om elke individuele dier in die kudde se vordering akkuraat aan te teken.
âDie hamellammers word redelik vroeg in hul lewe gemerk, terwyl hulle nog by die ooie is. In speentyd word die lammers weer geweeg en elke lam se gewig word aangeteken. Daarna hou ons hulle vir so drie weke in die voerkraal op die plaas, waar ons hulle ons eie verpilde, tweedegraadse lusern en mielies voer.â
NĂĄ drie weke in die voerkraal word die lammers weer geweeg. âGewoonlik kan ân mens dan mooi sien hoe vinnig of stadig elkeen gegroei het. Ons vind dat van die lammers wat moeilik gespeen het, swakker groei en diĂ© word as stoorlammers verkoop.â
Japie voeg by dat hierdie proses hulle help om te bepaal wanneer die lammers markgereed is. âDit het ons byvoorbeeld in staat gestel om die lammers wat nie vir verlede jaar se Kersmark slaggereed was nie, as stoorlammers te verkoop en die beter groeiers terug te hou. Ons oorweeg dit sterk om die RFID-stelsel in die nabye toekoms ook by die res van die kudde te gebruik.â – Carin Venter, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Japie Marais by
072 424 5123 of japie@lowmar.co.za.







