Wednesday, October 16, 2024

Kry jou slaglammers reg vir die kompetisie

Share This Post

Estimated reading time: 6 minutes

  • Veeplaas het by Regina Harmse van die RCH Ile de France-stoet, op die plaas Uitgezocht in die Ermelo-distrik, gaan kers opsteek oor hoe sy haar lammers voorberei vir ’n slaglamkompetisie. Regina is bekend vir haar goeie rekord in slaglamkompetisies.
  • Wanneer jy besluit om aan ’n slaglamkompetisie deel te neem, is daar geen klinkklare resep wat gevolg kan word om die kompetisie te wen nie. Dit is eerder belangrik dat jy die ras waarmee jy boer se potensiaal moet ken.
  • Vir Regina is dit belangrik dat die lammers lank voor die slaglamkompetisie reeds geselekteer en afgerond word, maar hulle moet goed dopgehou word sodat hulle binne die raamwerk van die kompetisie sal bly.
  • Slaglamkompetisies gaan oor vleis en daarom moet ’n slaglam goeie vleiseienskappe hê. Op die einde van die dag is dit al wat tel.
  • Regina beskryf die kommersiële kleinveeprodusent as die ruggraat van die kleinveebedryf, maar voeg by dat die stoetboer die rugmurg van die kleinveebedryf is.

Om ’n motor te bestuur is eenvoudig, maar om ’n wedrenjaer te wees verg baie meer indiepte kennis. Dieselfde geld vir ’n goeie skipper. Om die boot se seile in die wind te hou is maklik, maar om ’n behendige skipper te wees, moet jy ander faktore soos die weer, die gety, die rotsformasies en nog meer ken.

Dieselfde beginsels geld vir slaglamkompetisies. Om ’n paar lammers in te skryf, sosiaal te verkeer en te wag vir die uitslae is maklik, maar om keer op keer sukses te behaal moet jy baie indiepte kennis hê. Nie net van die lammers nie, maar van jou boerdery as geheel.

Veeplaas het by Regina Harmse van die RCH Ile de France-stoet, op die plaas Uitgezocht in die Ermelo-distrik, gaan kers opsteek oor hoe sy haar lammers voorberei vir ’n slaglamkompetisie. Regina is bekend vir haar goeie rekord in slaglamkompetisies.

Lees meer oor die waarde van slaglamkompetisies.

Daar is nie ‘n wenresep nie

“Wanneer jy besluit om aan ’n slaglamkompetisie deel te neem, is daar geen klinkklare resep wat gevolg kan word om die kompetisie te wen nie. Dit is eerder belangrik dat jy die ras waarmee jy boer se potensiaal moet ken. My motto is eenvoudig: Ken jou ras en ken jou kudde,” gesels sy.

Haar ideaal is dat lamtyd rondom die kompetisiedatum moet wees, anders kan die lammers te swaar of heeltemal te lig vir die kompetisie wees. “As jy weet wat jou ras of kudde se gradering op ’n sekere gewig gaan wees, kan jy binne die kriteria van die kompetisie bly en goed presteer.”

Dit is belangrik om te weet wat jou ras se gemiddelde uitslagpersentasie op ’n sekere gewig gaan wees, sê sy. “Een van my Ile de France-lammers het in 2015 ’n uitslagpersentasie van 66,4% gehad met ’n A3-gradering. Ek het die lam se geskatte slaggewig heeltemal onderskat, omdat ek op ’n gemiddelde uitslagpersentasie van 53% gewerk het.

“Dit kon veroorsaak dat die lam gepenaliseer word as hy swaarder as die kompetisiereëls geweeg het. Hierdie sal wel nou ’n voordeel wees met die nuwe kompetisies van die Suid-Afrikaanse Vetveebeoordelaarsvereniging (SAFJA) waar uitslagpersentasie wel punte tel,” verduidelik sy.

Begin vroegtydig

Vir Regina is dit belangrik dat die lammers lank voor die kompetisie reeds geselekteer en afgerond word, maar hulle moet goed dopgehou word sodat hulle binne die raamwerk van die kompetisie sal bly. “Gradering, uitslagpersentasie en gewig is die veranderlikes nadat jy die lammers op grond van bouvorm uitgesoek het.”

Om egter te praat van ‘lank genoeg voor die tyd’ is relatief. Dit sal van plaas tot plaas verskil, sê sy. Elke ras verskil en selfs binne die ras is daar variasies wat veroorsaak dat die tyd van afronding gaan verskil, aangesien sommige rasse vinniger afrond as ander.

“Die kernbeginsel hier is om jou ras en jou kudde te ken. Die gewig en ouderdom van jou lammers teen die tyd dat jy besluit om aan die slaglamkompetisie deel te neem, sal ’n groot rol speel tesame met jou bestuursplan en die tipe stelsel waarbinne jy boer. Party rasse sit gouer vet aan en sommige rasse kan jy eers van sewe tot nege maande begin afrond. Daarom hang die aanvang van afronding af van die ras waarmee jy boer.”

Alles gaan oor vleis!

Slaglamkompetisies gaan oor vleis en daarom moet ’n slaglam goeie vleiseienskappe hê. Op die einde van die dag is dit al wat tel.

“Die lammers wat ek kies se bouvorm moet goed genoeg wees, sodat ek eintlik met hulle sou wou teel.” Sy verkies ’n sterk nek, goedgevulde skouers, breedte oor die toplyn, en ’n goeie agterkwart.

“Jou bestuurstelsel speel ’n groot rol,” verduidelik sy. “Indien jy lammers van die ma af wil inskryf, moes die diere goeie kos beskikbaar hê. As jy voerkraallammers inskryf, moet jy weet hoe lank dit sal neem om hulle by die ideale gewig asook die regte gradering te kry. Dit hang af van die lammers se gewig wanneer jy begin voer.”

Lees meer oor die SAMIC nasionale slaglamkompetisie.

Waarom deelneem aan kompetisies?

Daar is baie faktore wat jou deelnemende lammers se kanse gaan verbeter of benadeel. Dit hang egter van jouself af of jy die fynere punte van jou boerdery ken. Regina glo slaglamkompetisies is die ideale plek waar produsente hulself kan meet teen ander produsente én teen die vraag in die mark. “So kan jy bepaal of jy ’n bemarkbare produk verkoop.”

Regina beskryf die kommersiële kleinveeprodusent as die ruggraat van die kleinveebedryf, maar voeg by dat die stoetboer die rugmurg van die kleinveebedryf is.

“Stoettelers moet self ook oortuig wees van die produk wat hulle aanbied; daarom neem ek graag aan slaglamkompetisies deel, want ek glo in die ras en in my eie teling. Die stoetboer teel ramme sodat die kommersiële produsent sy kudde kan verbeter. Op die lang duur gaan die hele veebedryf so vorentoe.”

Sy glo elke stoetteler en kommersiële produsent streef daarna om sy kudde te verbeter en waarde tot sy kudde toe te voeg. “Slaglamkompetisies is die ideale plek om jouself te meet en te oordeel of daar ‘n verbetering in jou teling was, waar jy te kort skiet en waar jy moet verbeter.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Regina Harmse van RCH Ile de France-stoet by 072 270 3461.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 40 of 2024

The weekly pork carcass prices are brought to you...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...