Voorkom oorvet karkasse: ’n Voerkraalbenadering

Estimated reading time: 6 minutes

  • Verbruikers het toenemend meer gesondheidsgeoriënteerd geword en verkies om rooivleis met minimale vetneerlegging (A2 en A3) te koop. Dit het die vleisbedryf tot so ‘n mate beïnvloed dat produsente gepenaliseer word wanneer hulle oorvet karkasse (A4 tot A6) bemark.
  • Met die uitdagende vleisprys is dit belangrik dat oorvet karkasse ten alle koste vermy word.
  • Die rastipe (wol, vleis, dubbeldoel) wat jy in jou voerkraal wil afrond, moet ’n groot rol speel in die betrokke voerbenadering.
  • Skaaprasse word vir verskillende doeleindes geteel en dus word nutriënte (energie, proteïene, en dies meer) op verskillende maniere gebruik.
  • Wanneer gekyk word na die voerkraalrantsoen, moet op ’n paar belangrike aspekte gefokus word om te verseker dat sekere nutriënte nie oor- of ondervoorsien word nie. Energie is een van die belangrikste voedingstowwe wat die benutting van ander nutriënte kan beïnvloed.

Verbruikers is oor die algemeen (en toenemend) gesondheidsgeoriënteerd en verkies om rooivleis met minimale vetneerlegging (A2 en A3) te koop. Dit het die vleisbedryf tot so ‘n mate beïnvloed, dat produsente gepenaliseer word wanneer hulle oorvet karkasse (A4 tot A6) bemark. Voerkraalprodusente kan tussen 12 en 30% per kilogram minder verdien as gevolg hiervan.

Met die uitdagende vleisprys is dit belangrik dat oorvet karkasse ten alle koste vermy word. Oormatige vet karkasse kan toegeskryf word aan enige kombinasie van die rastipe, geslagsverskille, kastrering, ouderdom by slag, en voeding.

Rasverskille

Die rastipe (wol, vleis, dubbeldoel) wat jy in jou voerkraal wil afrond, moet ’n groot rol speel in die betrokke voerbenadering. Verskillende rasse is teen verskillende ouderdomme volwasse, terwyl die tempo van en area van vetneerlegging ook kan verskil. Dit is ook bekend dat vroegryp of vroegvolwasse rasse oor die algemeen ’n hoër uitslagpersentasie aanteken, wat tot jou voordeel gebruik kan word.

Skaaprasse word vir verskillende doeleindes geteel en dus word nutriënte (energie, proteïene, en dies meer) op verskillende maniere gebruik. Die Dorper-ras bereik byvoorbeeld op ’n vroeër ouderdom volwassenheid as die SA Vleismerino (SAVM) en Merino. Dit beteken ook dat Dorpers op ’n laer gewig vet neerlê as Merino-tipe skape.

Lees meer oor die verskillende skaaprasse.

Figuur 1 bevat die resultate van vetdikte geskandeer met ultrasoniese klankgolwe op verskillende lewendige massas by verskillende Suid-Afrikaanse skaaprasse. Hieruit kan afgelei word dat Dorper- en Meatmaster-skape vroeër (teen ‘n laer gewig) bemark moet word om oorvet karkasse te voorkom, terwyl die Merino en SAVM later, by swaarder gewigte, bemark kan word sonder die risiko van oorvet karkasse.

Een van die foute wat tydens die afronding van lammers gemaak word, is om te swaar karkasse te jaag deur hulle langer te voer om meer waarde per lam te kry. Daar is ’n sterk korrelasie tussen karkasgewig en vetheidsgraad. Hoe swaarder die karkas, hoe hoër is die kanse op penalisering. Die ideale slaggewig sal natuurlik van ras tot ras verskil.

Figuur 1: Vetdikte per kilogram lewende gewig (tussen 12de en 13de rib, ±20mm van ruggraat; mm) van verskillende skaaprasse in ’n voerkraal. (Van der Merwe et al., 2022)

Soos verbruikers toenemend gesondheidsgeoriënteerd word, beïnvloed dit die vleisbedryf. Produsente word vir oorvet karkasse gepenaliseer.

Geslagsverskille en kastrering

Kastrering is ’n algemene praktyk wat in Suid-Afrika op ekstensiewe en intensiewe produksiestelsels toegepas word. In ekstensiewe stelsels met natuurlike dekking word kastrering gebruik om ongewenste dekkings te voorkom waar lammers oor ’n tydperk van ses tot agt weke gebore word. Party ramlammers het al seksuele volwassenheid bereik terwyl hulle nog saam met die ooie loop. In intensiewe stelsels verkies sommige produsente om ramlammers te kastreer om aggressiewe seksuele gedrag in die voerkraal te voorkom.

Kastrering het egter ’n paar negatiewe gevolge, waarvan verhoogde vetneerlegging een is. Testosteroon bevorder spiergroei bo vetneerlegging. Tydens kastrering word die bron van testosteroonproduksie, die testes, verwyder. Gekastreerde lammers toon hoër vetneerlegging as spiergroei en vergelyk eerder met ooilammers as met ramlammers. Ooilammers is bekend vir die realisering van ’n hoër uitslagpersentasie maar, anders as ramme en hamels, is ooie geneig om vinniger vet aan te sit relatief tot spiergroei.

Navorsing aan die Universiteit van die Vrystaat het getoon dat gekastreerde voerkraallammers teen die ouderdom van een week, 3,26mm meer vet neergelê het as ramlammers (Figuur 2). Vetmetings is op die dertiende rib, 110mm vanaf die ruggraatmiddellyn gedoen. Die persentasie spier teenoor vet is aansienlik hoër vir ramme as hamels; dus is die waarskynlikheid van penalisering weens oorvet karkasse (A4) hoër wanneer hamels in die voerkraal afgerond word.

Figuur 2: Vetneerlegging (13de rib, 110mm van ruggraatmiddelyn; mm) van ramlammers en gekastreerde lammers in voerkraal (Augustyn et al., 2022).

Soos verbruikers toenemend gesondheidsgeoriënteerd word, beïnvloed dit die vleisbedryf. Produsente word vir oorvet karkasse gepenaliseer.

Voeding

Wanneer gekyk word na die voerkraalrantsoen, moet op ’n paar belangrike aspekte gefokus word om te verseker dat sekere nutriënte nie oor- of ondervoorsien word nie. Energie is een van die belangrikste voedingstowwe wat die benutting van ander nutriënte kan beïnvloed. Die proteïenvlak tesame met energie, speel die grootste rol in die dier se prestasie in die voerkraal, en ’n wanbalans kan spierontwikkeling negatief beïnvloed.

Energie word aan die lammers voorsien deur die metabolisering van koolhidrate, proteïene en vette binne die rumen en dunderm. Die rumen breek koolhidrate af na suikers wat rumenmikrobes gebruik om vlugtige vetsure te produseer. Vlugtige vetsure voorsien tot en met 70% van die herkouer se energiebehoefte. Vlugtige vetsure word oor die rumenwand geabsorbeer en deur die lewer omgeskakel na energie wat vir onderhoud en produksie beskikbaar is. In die geval van voerkraallammers sal dit vir spier- en vetneerlegging wees.

Proteïene word in die rumen na peptiede afgebreek wat omgeskakel kan word na mikrobiese proteïene of aminosure. Aminosure word omgeskakel na ammoniak wat as stikstofbron vir mikrobiese groei in die rumen dien. Mikrobiese proteïen beweeg vanaf die rumen na die abomasum en dunderm, waar dit vir die lam beskikbaar raak.

Vind meer uit oor siektebeheer in intensiewe skaapboerderye.

Die vloei van en hoeveelheid mikrobiese proteïen hang af van die beskikbaarheid van energie en stikstof in die rumen. Wanneer energie in die rumen beperk is, is mikrobes nie doeltreffend om ammoniak te gebruik nie en word ammoniak oor die rumenwand geabsorbeer, in die lewer na ureum omgeskakel en in die urine (verlore stikstof) uitgeskei. Indien energie in oormaat voorsien word relatief teenoor proteïene, neem mikrobiese proteïensintese af. Dit beteken ‘n afname in beskikbare proteïen vir produksiedoeleindes.

Ligte, jong lammers (<20kg) het ’n hoër proteïenbehoefte as swaarder lammers (>40kg) omdat heelwat strukturele en spierontwikkeling nog moet plaasvind. In hierdie tydperk waar jong, ligte lammers se proteïenbehoefte hoog is, moet goeie gehalte proteïen (deurvloeiproteïen) aan hulle voorsien word om optimale spiergroei te verseker. ‘n Tekort aan proteïen in hierdie tydperk sal verlaagde spiergroei tot gevolg hê. Gevolglik sal die spier-tot-vetverhouding op die karkas wat uitgeslag word, verlaag.

Swaarder (ouer) lammers se proteïenbehoefte is weer heelwat laer, aangesien die meeste spierontwikkeling reeds plaasgevind het en die meerderheid van energie vir vetneerlegging gebruik word.

Ter opsomming

Die vetheidsgraad van karkasse kan toegeskryf word aan ’n paar faktore. Dit is dus belangrik om seker te maak watter tipe ras jy afrond, asook of dit ram-, ooi- of gekastreerde lammers is. Konsulteer ook jou voedingkundige sodat jy ’n gebalanseerde (proteïen en energie) rantsoen gee wat spesifiek vir die tipe lam en begingewig van jou voerkraallammers geformuleer is. – Willem Augustyn, tegniese bestuurder, Nutri Feeds

Vir meer inligting en bronverwysings, kontak die outeur by epos waugustyn@cbh.africa.  

Popular stories