Estimated reading time: 7 minutes
Suid-Afrikaanse veeprodusente word waarskynlik steeds nie vergoed vir vleis wat aan die vereistes vir organiese, veldafgeronde of vrylopende produksie voldoen nie. Daar is egter voordele in buitelandse markte wat wel verwesenlik kan word, mits hierdie markte suksesvol ontgin word. Volgens prof Phillip Strydom van die Departement Veekunde by die Universiteit Stellenbosch is daar verskeie redes hiervoor.
Indien karkasse net generies as ‘n produk bemark word, realiseer ouer veldgevoerde diere gewoonlik ’n laer prys as jonger voerkraaldiere. Dit beklemtoon die noodsaaklikheid om nismarkte en toegewyde bemarkingskanale te skep.
Pryse en produksiestelsels
Woolworths betaal tans ‘n premie vir karkasse van ouer diere wat vrylopend geproduseer is, mits die produksiestelsel en karkaseienskappe aan sekere norme voldoen. Op die uitvoermark behoort beter pryse vir karkasse wat aan die betrokke lande se vereistes voldoen ook moontlik te wees, maar dit gaan gepaard met ander gesondheidsvereistes.
Dit lyk asof die beskikbaarheid van hulpbronne in baie gevalle steeds bepaal watter tipe vleis produsente lewer. Speenkalfproduksie is die gewildste stelsel in Suid-Afrika omdat kommersiële voerkrale mededingende pryse vir speenkalwers betaal en, nes voerkrale op plase, ‘n graangebaseerde rantsoen gebruik. Dit is ook gerieflik vir produsente om kalwers ná speen na voerkrale te stuur.
Produsente wat spesifieke produksiestelsels bedryf en nismarkte skep, kan soms voordeel daaruit trek. Daar is gevalle waar Nguni-beesprodusente wat vleis sonder chemiese ingrepe soos dipstowwe direk vanaf die veld lewer, gewild is onder verbruikers met allergieë. Die vleis van vee wat op natuurlike weiding afgerond is bevat meer omega-3 poli-onversadigde vette, terwyl graangevoerde diere meer omega-6 vetsure het.
Organiese beesvleis
Volgens prof Strydom is organiese beesvleis afkomstig van beeste wat op natuurlike weidings en organies-geproduseerde voer grootgemaak is, sonder geneties-gemanipuleerde produkte, sintetiese groeihormone of roetine-antibiotika. Dit geskied binne ’n dierewelsynstelsel wat aan hoë standaarde voldoen, met volledige naspeurbaarheid en onafhanklike sertifisering.
Volgens die Suid-Afrikaanse Organiese Sektor-organisasie (SAOSO) is organiese vleis afkomstig van beeste wat binne ’n organiese stelsel geproduseer is:
- Voeding kom hoofsaaklik van organiese weidings en voer.
- Geen geneties-gemanipuleerde stowwe, sintetiese kunsmis, plaagdoders, ureum of chemies-verwerkte voer word gebruik nie.
- Dierewelsyn word geprioritiseer: Lae-stres hantering word toegepas, die diere word nie in stalle aangehou nie en hulle het toegang tot die buitelug waar natuurlike gedrag moontlik is.
- Geen sintetiese groeihormone, kragvoermiddels, roetine-antibiotika of profilaktiese parasietmiddels word gebruik nie.
- Terapeutiese behandeling, indien noodsaaklik, word met verlengde onttrekkingstydperke toegelaat.
- Volledige naspeurbaarheid en jaarlikse sertifisering word vereis.
Organiese beesvleis is dus vleis van beeste wat op organiese weidings en met organiese voer grootgemaak word, met minimale sintetiese ingryping en goeie dierewelsyn, onder toesig van ’n geakkrediteerde organiese sertifiseerder.
Die vereistes vir organies-geproduseerde vleis in Europa en Amerika verskil effens van dié in Suid-Afrika. Prof Strydom meen dat, gegewe die prysstrukture vir vleis en die koste om binne die produksiebeperkings van verskillende klimaatstreke aan hierdie vereistes te voldoen, dit nie die moeite werd is nie – veral aangesien die produsent nie voldoende daarvoor vergoed sal word nie.
Veldafgeronde beesvleis
Veldafgeronde vleis kom van beeste wat hul finale groeifase en afronddieet uitsluitlik of oorwegend op natuurlike veld (rangeland/veldweiding) voltooi het.
- Diere word op natuurlike veld met inheemse grasse, struike en bossies afgerond.
- Die afrondingstydperk sluit geen intensiewe voerkraal- of graanbyvoeding in nie. Indien nodig, kan minimale, nie-energiedigte ondersteunende aanvullings gebruik word.
- Die dieet weerspieël die plaaslike ekostelsel wat dikwels unieke vlugtige verbindings soos terpenoïede in vet en vleis neerlê en dit sensories onderskei, soos Karoo-lamsvleis.
- Veldafronding lei gewoonlik tot maerder karkasse, hoër omega 3-vetsure, en meer grasagtige/kruidagtige aromas.
In sulke stelsels word ‘n byvoeding van tussen 10 tot 30% graanaanvulling toegelaat, maar dit moet nie in ‘n voerkraal wees nie. Dit verskil van vrylopende produksiestelsels waar die diere volledig vrylopend moet wees en geen dierlike produkte soos vismeel of hoendermis in die aanvulling mag wees nie.
Graan-afgeronde vleis
Graan-afgeronde vleis kom van beeste wat hul finale groeifase in ’n voerkraal of intensiewe voerprogram voltooi het, met ’n dieet wat hoofsaaklik uit energiedigte graankonsentrate bestaan.
- Diere word gewoonlik vir 60 tot 150 dae in ’n voerkraal of intensiewe afrondstelsel slaggereed gemaak.
- Die dieet bestaan oorwegend uit graan (mielies, koring, gars, mieliesemels), proteïenbronne (sojabone of oliekoek), ruvoer en aanvullende minerale.
- Die resultate sluit in hoër vetmarmering, sowel as geure wat dikwels beskryf word as ryk en met ‘n umami-geur wat ander smake versterk.
Die intensiteit van die geure hang van die vlak van vetmarmering in die vleis af. Die sensoriese profiel word hoofsaaklik beïnvloed deur metaboliese veranderinge wat deur graanvoeding veroorsaak word, eerder as deur veldplante.
Vleis van graangevoerde diere kom meestal van jonger diere, wat dikwels die persepsie skep dat die vleis sagter sal wees. Plaaslike resultate wys egter dat die gebruik van groeistimuleerders (by uitstek beta-agoniste) vleissagtheid of die invloed van veroudering kan beïnvloed, sodat vleis van ouer veldbeeste soms sagter kan wees as dié van jonger graangevoerde diere.
Karotenoïede
Geelvetbeesvleis verwys na vleis waarvan die onderhuidse en interne vet van roomkleurig tot goudgeel voorkom. Dit is as gevolg van aanhoudende inname en afsetting van karotenoïede, veral beta-karoteen, uit natuurlike weiding.
Karotenoïede is kleurverbindings in plante wat hoofsaaklik die kleur van wortels bepaal, hoewel ander kleurpigmente ook ’n bydrae kan lewer. Hierdie vetkleur dui egter nie op ’n gebrek aan gehalte nie en word hoofsaaklik beïnvloed deur:
- Dieet: Diere wat op natuurlike veldweiding, hoë-karoteen grasse, struike of hooi grootgemaak word, en die neerlegging van karotenoïede in vet as gevolg van beperkte biohidrogenering of omskakeling in die rumen. Dit sal afhang van hoeveel kondisie op sulke weidings opgebou is.
- Rasverskille: Britse rasse soos die Jersey, Guernsey en Angus toon ’n groter geneigdheid tot geelvet as Europese rasse, as gevolg van variasies in karotenoïedmetabolisme.
- Ouderdom: Ouer diere deponeer meer karotenoïede en die vetkleur verdiep verder. Dit hou dikwels verband met ’n afname in kondisie, waartydens kleurpigmente meer gekonsentreer word.
- Produksiestelsel: Ekstensiewe, weidingsgebaseerde stelsels lewer meer geelvet as intensiewe graanvoeding.
Geelvet is veral gewild onder biltongliefhebbers en dié vleiseienskap word dikwels gebruik om goeie, smaaklike biltong te beskryf.
Regulasies en gesondheidsaspekte
Gegewe die vereistes dat produksiestelsels deursigtig moet wees en gereeld geïnspekteer kan word, is dit duidelik dat ’n produsent nie sommer enige plakker op sy vleispakkie kan sit om ’n spesifieke vleistipe of -gehalte aan te dui nie. In Suid-Afrika word die aanspraak op gehalte, oorsprong en produksiepraktyke streng gereguleer deur wetgewing en sertifiseringsprotokolle wat meestal deur die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (Samic) geoudit word. Dit beteken dat enige aanspraak bewysbaar en toetsbaar moet wees.
Die Wet op Voedings-, Skoonheids- en Ontsmettingsmiddels, 1972 (Wet 54 van 1972) reguleer die etikettering en advertering van produkte. Volgens prof Strydom word die bewys van sekere aansprake oor gehalte egter baie swak nagekom.
Hou vleis wat binne hierdie stelsels geproduseer is voordele vir die verbruiker in? Prof Strydom sê die Westerse dieet word gekenmerk aan ’n hoë omega-6 tot -3 verhouding as gevolg van die groot inname van graan, plantolies en vleis van graangevoerde diere, insluitend bees-, skaap-, vark- en hoendervleis. ‘n ‘Ongesonde’ verhouding van vetsure kan lei tot inflammasie, wat weer kankers en hartsiektes bevorder.
Die verhouding van poli-onversadigde vetsure in vleis is relatief laag teenoor mono-onversadigde en versadigde vette. Rooivleis en hoender is dus nie gunstige bronne van poli-onversadigde vetsure in vergelyking met dié van sekere vissoorte nie. Westerlinge neem lae vlakke van laasgenoemde in. Nogtans kan dit proporsioneel voordelig wees; dit moet egter in die konteks van totale vetinname gesien word.
Veldvleis kan natuurlike antioksidante bevat, maar die teenpool is dat voerkraaldiere dikwels aanvullings soos selenium, wat ook ’n antioksidant is, ontvang. Die ‘heilsaamheid’ van veldvleis lê ook gedeeltelik in die persepsie van beter dierewelsyn, die konsep van vrylopendheid en soortgelyke faktore.
Europese Unie of Amerika
Indien Suid-Afrika organies-geproduseerde vleis na nismarkte in die Europese Unie (EU) of Verenigde State wil uitvoer, moet dié lande se vereistes vir stelsels waarin die verskillende vleistipes geproduseer word, ook in ag geneem word.
In die EU word organiese beesvleis beskou as vleis van diere wat op organiese voer grootgemaak is, geen geneties-gemanipuleerde produkte of sintetiese groeistimulante ontvang het nie, en in stelsels gehou word waar hoë dierewelsyn toegepas word en volledige naspeurbaarheid verseker word.
Volgens die Amerikaners is organiese beesvleis afkomstig van diere wat 100% organiese voer gevreet het, nooit hormone of antibiotika ontvang het nie, en op weidingstelsels met streng organiese integriteit geproduseer is. – Andries Gouws, Plaas Media
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan prof Phillip Strydom by pestrydom@sun.ac.za of skakel 072 449 1012.