Estimated reading time: 5 minutes
Dieregesondheid, biosekuriteit en die ekonomiese gevolge van plaaslike siekte-uitbrekings op rooivleisuitvoere het die gesprek tydens vanjaar se Rooivleisprodusente-organisasie Oos-Kaap (RPO OK)-kongres op 7 Augustus oorheers.
Frik van Rooyen, voorsitter van die RPO OK, het gesê siektebeheer is tans die organisasie se grootste bekommernis. Hy het ’n pleidooi aan die Oos-Kaapse rooivleisprodusente gelewer om enige verskille ter syde te stel en by te dra tot ’n volhoubare toekoms vir die bedryf deur deel te word van die RPO as ’n georganiseerde landbou-organisasie. Hy het alle rooivleisprodusente aangemoedig om ’n verteenwoordiger by hul landbouverenigings te identifiseer wat daarop ingestel sal wees om ’n verhouding met die RPO te bou, sodat hulle knelpunte in hul omgewing kan deurgee.

‘n Gratis naspeurstelsel
Eben du Plessis, vise-president van Agri Oos-Kaap, is ’n veeprodusent wat dit self ook aan sy sak voel wanneer markpryse nie te waffers is nie.
“As georganiseerde landbou maak ons seker dat die regulasies en toestande in ons provinsie en regoor die land, reg is vir die bemarking van plaaslike produkte sowel as uitvoerprodukte. Een van die belangrikste aspekte daarvan is die naspeurbaarheid van produkte, en mense se sienswyse daaromtrent sal moet verander omdat dit as ’n stuk gereedskap deur produsente gebruik kan word om die bestuur van hul produk te verbeter.”

Agri Oos-Kaap het ’n produk genaamd Aims (Animal Identification Movement System) ontwikkel wat gratis beskikbaar is vir produsente in die Oos-Kaap. Du Plessis sê dit is ’n baie eenvoudige naspeurbaarheidsplatform waarop produsente kan registreer. Hulle kan deur hierdie stelsel oorplaatjies vir hul vee laat maak. Agri Oos-Kaap wou graag ’n basiese stelsel vir produsente daarstel om eenvoudige naspeurbaarheid in plek te sit en seker te maak dat dit met die nodige regulasies ooreenstem. “Ek dink dit is regtig belangrik dat produsente dit gebruik,” het hy gesê.
Een van die realiteite van die dag is dat produsente binne die afsienbare toekoms ’n GLN-nommer (global location number) sal moet verkry indien hulle nie voortaan wil sukkel om diere aan voerkrale te verkoop nie. Produsente word aangemoedig om GLN-geregistreer te wees, aangesien dit in die toekoms noodsaaklik sal wees om ’n nommer te hê indien hulle vee wil verkoop. Besoek gerus Rooivleisbedryfdienste (RMIS) se webtuiste om meer hieroor te wete te kom.

Wees betrokke in die veld
Een van die gassprekers, Louw van Reenen, uitvoerende hoof van die Beefmaster-groep, het met produsente gesels oor moontlike nuwe markte vir rooivleis. Hy het produsente aangemoedig om ook na beter markte te soek en deel te word van die naspeurbaarheidstelsel en die bemarking van hul produk.
Oor produksie in ander lande, het hy gesê. “In Noord-Amerika is daar byvoorbeeld ’n tekort aan arbeid en beperkte volumes produkte. Daarteenoor ervaar die Ooste ’n groot aanvraag wat gedryf word deur ’n groter bevolking en hoër inkomstegroepe wat ’n mark skep. Ek glo Suid-Afrika is in ’n baie goeie posisie om voordeel daaruit te trek.”
Om uitvoergereed te wees
Die lewendehawe-uitvoerder en -verskaffer, Al Mawashi, het verlede jaar in April ’n skip van Oos-Londen na Koeweit in die Midde-Ooste gestuur en sedertdien het bek-en-klouseer die uitvoer van lewendige vee vanaf Suid-Afrika heeltemal tot stilstand gedwing. Hul uitvoerende hoof in Suid-Afrika, Sake van der Wal, het in die verlede gemiddeld vier uitvoere per jaar behartig.
Van der Wal het hieroor uitgebrei en gesê die Oos-Kaap het ’n groot finansiële verlies gely wat betref die hoeveelheid skape, voer, en medisyne wat Al Mawashi sou aankoop. Werksgeleenthede is ook verbeur, omdat hierdie arbeidsgeleentheid vir veehanteerders ook weggeval het.
“Van Al Mawashi se kant wil ons graag vier vragte per jaar laai,” het Van der Wal gesê. “As ons daardie versekering kan kry, kan ons die kommunale produsente in die Oos-Kaap en georganiseerde landbou by ons program betrek, om te verseker dat die diere uitvoergereed sal wees.” – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting oor Aims, kontak Anro Klopper van Agri Oos-Kaap en RPO OK by 041 363 1890 of stuur ‘n e-pos na infrastructure@agriec.co.za





