Inheemse veldbokke: Soos die natuur dit wil hê

68
veldbokke
Die inheemse veldbok het unieke eienskappe en ekonomiese waardes, waaronder die besondere kleur van sy vel asook sy vleis wat hoog in aanvraag is.

Estimated reading time: 7 minutes

  • As dit by teling kom, moet ons nie probeer om dit wat die natuur vir ons gee te verander nie, hetsy ons dink dit gaan mooier lyk of om ’n wetenskaplike punt te bewys sê Schalk van der Walt, die eerste voorsitter van die Inheemse Veldbokklub.
  • Weens Schalk se voorliefde vir bokke het hy op die uitkyk gebly vir ’n nuwe ras wat hy kon aanskaf.
  • Vandag is daar sowat 70 telers wat lede van die Inheemse Veldbokgenootskap van Suid-Afrika is en deel in Schalk se passie om die ras se egtheid en sy oorspronklike voorkoms en eienskappe te behou.
  • Die ras is in vier variasies verdeel word: Kaapse Hangoor-tipe (Cape Lob Ear), Nguni-tipe (Mbuzi’s), die Kaapse Skilderbokke (Cape Speckled) en die Kunene-tipe.
  • Schalk sê die Afrika-veldbokke het uitstekende eienskappe, maar die geheim lê daarin dat jy nie iets anders van hulle moet probeer maak as waarvoor hulle geskape was nie.

As dit by teling kom, moet ons nie probeer om dit wat die natuur vir ons gee te verander nie, hetsy ons dink dit gaan mooier lyk of om ’n wetenskaplike punt te bewys. Dit kan maklik gebeur dat ’n spesifieke ras mettertyd al sy natuurlike eienskappe verloor.

So gesels Schalk van der Walt, die eerste voorsitter van die Inheemse Veldbokklub, oor die belangrikheid om diere in hul oorspronklike vorm te hou en die karaktereienskappe van daardie ras te bewaar. Schalk is ’n bekende stoetteler in die Venterstad-omgewing van die Karoo en het al ’n lang pad met inheemse veldbokke gestap op hul plaas, Gelykfontein.

Hy vertel dat hy op die ouderdom van 14 met Boerbokke begin boer het. Vir hom was dit belangrik dat die bokke in sy omgewing moet aanpas. Praktiese eienskappe soos langer bene sodat hulle ver ente kan stap, goeie horings sodat hulle hul lammers kan beskerm en peule van die doringbome kan aftrek, en ’n kop- en kakebeenvorm wat hulle toelaat om makliker te vreet, was vir Schalk belangrik.

Dit het egter vir hom voorgekom asof die Boerbokke waarmee hy begin boer het, nie meer daardie eienskappe gehad het nie aangesien hulle ál meer vir ander redes geteel is.

Lees meer oor boerbokke hier.

Teel vir voorkoms of vermoë?

“Die Boerbok is uit hierdie inheemse bokke geteel, maar as jongman was dit vir my vreemd dat keurders dikwels van my beste bokke afgekeur het, bloot omdat hulle op die oog af nie goed gelyk het nie. Dit is egter juis dié bokke wat vir my winsgewend was,” sê hy. Hy het dit aanvanklik so aanvaar, maar kon uiteindelik nie vrede maak met die feit dat die ras al hoe verder van die oorspronklike voorkoms van hul voorgeslagte wegbeweeg het nie.

“In daardie jare was skoue die vertoonvenster van jou boerdery, maar dit het my gepla dat my diere vir weke in die voerkraal moes deurbring om hulle ‘af te rond’, terwyl my gewete vir my gesê het dit is nie reg nie. Ek het gevoel die diere behoort nie vet gevoer te word om mooi te lyk nie – hulle moet op enige plaas kan werk en lang ente loop, omdat plase in Suid-Afrika so groot is.

“My doel toe ek met die bokke begin boer het,” sê hy verder, “was om hulle in my beboste bergveld sowel as in my rivierveld, wat weer baie doringbome gehad het, te gebruik.” Hy het uiteindelik in 1995 besluit om die bokke te verkoop.

Lees meer oor hoe om bankrotwurm in bokke te behandel hier.

Inheemse veldbokke as ’n eie ras

Weens Schalk se voorliefde vir bokke het hy op die uitkyk gebly vir ’n nuwe ras wat hy kon aanskaf. Op die walle van die Keirivier het hy die tipe bokke raakgeloop wat hy graag wou hê, en in die Noordwes-provinsie, naby Morokweng, het hy wéér van hulle raakgeloop, waar hy ’n besonderse ram en ’n paar ooie gevind het.

Hier het die belangstelling in inheemse veldbokke by Schalk posgevat, en in 1998 het hy sy eerste veldbokke op die plaas aangebring. ’n Paar jaar later, in 2006, het hy ’n klub gestig vir telers van inheemse bokke, met die doel om ’n rasgenootskap te vestig en dié bokke as ’n ras te registreer.

“Ek het gesien dat die inheemse bokke ’n unieke ras is, en ek wou dit vir die nageslag bewaar. Omdat die ras so vrugbaar is en maklik by enige plek kan aanpas, het mense begin om dit met enige ding te kruis. Soveel so dat dit moeilik geraak het om die oorspronklike ras enigsins te kon sien. Ek wou graag daardie oorspronklike ras weer terugkry en hom so behou,” verduidelik hy.

Vandag is daar sowat 70 telers wat lede van die Inheemse Veldbokgenootskap van Suid-Afrika is en deel in Schalk se passie om die ras se egtheid en sy oorspronklike voorkoms en eienskappe te behou.

Die ras is in vier variasies verdeel. Schalk het op die Kaapse Hangoor-tipe (Cape Lob Ear) besluit en in dié lyn vir hom ’n suiwer ras opgebou wat uitstekend by sy omgewing inpas. Die ander tipes is die Nguni-tipe (Mbuzi’s), die Kaapse Skilderbokke (Cape Speckled) en die Kunene-tipe. Elkeen het sy eie unieke eienskappe en pas oral goed aan. Al vier die groepe is baie vrugbaar, gehard en funksioneel doeltreffend.

Lees meer oor bokboerdery in bergagtige gebiede hier.

Natuurlike eienskappe wat geld

Schalk sê die Afrika-veldbokke het uitstekende eienskappe, maar die geheim lê daarin dat jy nie iets anders van hulle moet probeer maak as waarvoor hulle geskape was nie.

Inheemse veldbokke se eienskappe sluit onder meer die volgende in:

  • Hulle is goed bestand teen siektes soos pasteurella, omdat hulle die vermoë het om hulself warm te hou in die winter, wanneer hulle dons of kasjmier groei.
  • Hulle het baie goeie vreetmetodes en kan redelik hoog in bosse hul kos gaan haal. Hul horings stel hulle in staat om peule van bome en bosse af te trek, én om hulself teen roofdiere te beskerm.
  • Hulle het langer bene en kan lang ente stap en berge klim.
  • Hulle is nie seisoengebonde nie en lam elke ses tot sewe maande. Hul vrugbaarheid is uitstekend en hulle lam dikwels voor twee-tand ouderdom.
  • Hulle is bekend vir hul langslewendheid.
  • Hul kopvorm is nog die oorspronklike vorm en die onderkaak stoot selde verby die bokaak. Hulle kan dus baie doeltreffend wei.
  • Hulle is hoogs aanpasbaar en daar kan op groot óf klein skaal met hulle geboer word.
  • Een van die grootste voordele is dat dié bokke nie net vleis produseer nie. Hul mooi gekleurde velle is ook baie gewild as ’n byproduk, en dit help ook om hulle teen roofdiere in die veld en bosse te kamoefleer.
  • Hul mae is sodanig ontwikkel dat hulle kan wei of peusel. Proewe wat by Fort Hare gedoen is, toon dat dié bokke se verteringstelsels baie naby aan dié van ’n impala is en dat die lammers reeds ’n paar dae na geboorte blare en gras kan begin verteer.

“In al die jare wat ek boer, het ek gesien daar is geen dier waarmee jy so doeltreffend kan boer soos met ’n goed-aangepaste dier nie. Die Afrika-rasse, en dit sluit my Nguni-beeste in, gee vir my meer wins per hektaar as enige van die ander diere waarmee ek al geboer het,” sluit hy af. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Schalk van der Walt by 082 927 1806 of 051 654 0150.