Friday, December 2, 2022
HomeMagazinesLukas Burger: ’n Passie vir (die beste) Boerbokke

Lukas Burger: ’n Passie vir (die beste) Boerbokke

Estimated reading time: 6 minutes

Iemand met ’n werklike passie vir iets sal baie myle stap en geen moeite ontsien om dit te bevorder nie. As dit by Boerbokteling kom, is Lukas Burger ongetwyfeld so ’n persoon.

Lukas het in die Griekwastad-distrik grootgeword, op die plaas wat sy pa, Apie, in 1950 gekoop het en op redelike klein skaal met Boerbokke begin boer het. Toe Lukas in 1978 terugkeer na die plaas, het sy pa vir hom die bokke gegee om te bestuur.

“My pa het die basis van die stoet gelê en dit was eers toe ek ernstig daarmee begin boer het, dat ons begin het om te skou, na veilings te gaan en rekords te hou. Vanaf 1995 het ons ook by SA Stamboek betrokke geraak,” vertel hy. Hierna het sy passie oorgespoel na die res van sy gesin en vandag is sy vrou, Riekie de Witt, en sy twee kinders, Hermien Burke en Abraham Burger, ook net so deel van die Lukas Burger Boerbokstoet.

Lees meer oor hoe om uit die spervuur van veldbrande te bly hier.

Skakel foute uit

Lukas het nog altyd van goeie kompetisie gehou en hom vroeg al voorgeneem om die beste genetika in die stoet te teel en die beste bokke op die mark te plaas.

Hy vertel dat sy pa ’n baie oplettende boer was en sy diere goed geken het. Hy het destyds probleme raakgesien in die konformasie van die bokke se agterkwart, die kort hangkruis en die min breedte in die voorkwart. Dit het vir Lukas ’n wegspringplek gegee om sekere eienskappe stelselmatig uit te teel, en eenvormigheid en karakter in die stoet vas te lê.

“Jy weet, as ’n mens ’n motor wil verbeter, kyk jy tog eers na die foute van die ou model en probeer daarop verbeter. Ek het dieselfde beginsel in my stoet gebruik om die foute uit te kry en die stoet te verbeter. Om die waarheid te sê, is ek eintlik nie ’n mens vir syfers nie. Dit is ’n goeie hulpmiddel, maar ek spits my eerder toe op teling in bloedlyne. Of dit wetenskaplik reg of verkeerd is, sal ek nie kan sê nie, maar vir my het dit gewerk,” lag hy.

Boerbokke vir elke tipe boer

Lukas raak baie opgewonde as hy oor die Boerbokras gesels. Hy sien die uniekheid van die ras in die feit dat die ekstensiewe produsent groot vreugde uit sy Boerbokkudde put, maar vir die naweekboer wat net ’n paar bokke op ’n klein stukkie grond wil aanhou, is daar net soveel potensiaal in dié ras.

Boerbokke, verduidelik hy, is oorspronklik geteel vir ekstensiewe boerdery, maar die diere is goed aangepas en leen hulle ook toe tot intensiewe boerdery. Vir hom is dit belangrik dat die bokke die regte raseienskappe moet besit, maar omdat hy semi-ekstensief boer, is eienskappe soos loopvermoë en goeie melk- en moedereienskappe ’n prioriteit in sy stoet.

Lees meer oor hoe die riglyne met die gebruik van ureum hier.

Doelwitte en stelsels

Sy doelwit is eenvoudig om die beste ramme in die wêreld te teel. “By ons loop die ooie en lammers in redelike groot kampe tot hulle gespeen word. Dan kom die rammetjies nader aan die huis en word hulle in kleiner kampies grootgemaak, waar daar ’n voortdurende seleksieproses is om die beste van die bestes uit te soek, wat uiteindelik op veilings verkoop of by skoue vertoon word. Ons mik daarna om van die beste teelmateriaal in die wêreld te hê.

Lamtyd is vir hulle ’n kritieke tyd in die bestuur van hul Boerbokke. Sy ooie kry dikwels meerlinge, wat veroorsaak dat die ooi nie altyd goeie beheer oor al haar lammers het nie. Daarom, glo Lukas, is dit soms nodig dat ’n mens ‘n bietjie moet hand bysit om die ooie te help.

Baie bokboere gebruik die lamhokstelsel, veral vir ooie wat meerlinge het, maar hy laat die ooie in die veld naby water lam en hou dan ’n oog oor die diere tot die lammers sterk genoeg is om saam met die ma te loop. Dit is eers ná vier maande, wanneer dit tyd is om te speen, dat die lammers nader aan die huis gebring word.

Plaaslike en internasionale mark

Volgens Lukas is die plaaslike bokmark baie goed. Hy sê daar is talle voornemende Boerboktelers wat die bedryf wil betree, en omdat hy hom vir meer as vyf dekades al daaraan toegewy het om top genetika bymekaar te maak, is hy in die posisie om hierdie telers te kan help.

“Boerbokpryse is op die oomblik baie goed, as gevolg van die groot vraag na gehalte teeldiere. Veral ná die insinking van die wildtelingsbedryf wou al hoe meer boere van hul wild ontslae raak en Boerbokke koop. Dit het die vraag na goeie Boerbokke nog verder verhoog.” Die feit dat daar bykans elke week ’n produksieramveiling in Suid-Afrika is, sê hy, getuig van die behoefte na goeie ramme.

Op internasionale vlak is talle boktelers gretig om Suid-Afrikaanse genetika te koop. Lukas vertel dat die buiteland nie sommer oornag kennis geneem het van die uitstaande Boerbokgenetika in Suid-Afrika nie. Hy het in 1998 vir die eerste keer embrio’s na Kanada uitgevoer, waar dit in ooie ingeplant is en daardie dragtige ooie weer na Amerika uitgevoer is. Later is genetika ook na Australië en Brasilië uitgevoer en oorsese telers het kennis begin neem van die uitsonderlike vleiseienskappe van die Boerbok wat in Suid-Afrika ontwikkel is.

Plaaslike telers is toenemend genooi om as beoordelaars by skoue en as kursusaanbieders op te tree. So het hy en ander Boerbok-entoesiaste die waarde van die Suid-Afrikaanse Boerbok uitgedra. In die proses het die waarde van dié ras vir kruisteling, ook bekend geraak onder buitelandse telers wat hul kuddes wil verbeter.

As gevolg van dieresiektes en ander protokolle is baie van die uitvoerlande ongelukkig nou geslote, maar inligting oor die waarde van die Boerbok versprei steeds oor die wêreld heen. Lukas vertel dat hulle feitlik daagliks navrae kry van telers uit verskillende lande wat dié gesogte genetika wil koop.

Lees meer oor die internasionale boerbokmark hier.

Die pad vorentoe

Die pad vorentoe vir die Boerbokbedryf is volgens Lukas rooskleurig. Hy glo die ras het die afgelope 50 tot 60 jaar uitstekend ontwikkel, en danksy toegewyde telers het die ras ook wêreldbekend geraak. Daar is egter altyd ruimte vir verbetering.

“In die sestigerjare het die top Boerbok in Suid-Afrika ongeveer 70kg geweeg. Vandag trek ’n ram wat in daardie klas beweeg die skaal op 150kg en meer. Dit wys jou net hoeveel ontwikkeling daar in die ras plaasgevind het, hoeveel vleis ons bygesit het, en hoe ons die bouvorm verbeter het sodat die dier die gewig kan dra,” sê hy.

Hy erken dat daar net ’n handjievol telers met wêreldklas genetika is, maar dit beteken dat 95% van telers die uitdaging het om ook daar te kom. “In Suid-Afrika, asook die internasionale mark, is daar ’n behoefte aan uitstekende Boerbokgenetika en solank dit daar is, is die pad vorentoe vir die Boerbokbedryf geteer.” – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Lukas Burger by 082 856 1458.

Must Read

And the winner of the 2022 MPO Nedbank stewardship awards is...

Estimated reading time: 6 minutes Dean Biggs was announced the winner of the 2022 Milk Producers Organisation (MPO) Nedbank Stewardship Awards. At the age of...