Monday, October 3, 2022

Riglyne vir die veilige gebruik van ureum

Estimated reading time: 4 minutes

  • Ureum is ’n bekostigbare hoë-ruproteïen voedingsbron wat baie waarde vir ’n veeboerdery inhou.
  • By herkouers word ureum in die rumen na ammoniak omgeskakel, wat twee paaie kan volg – die een produseer mikrobiese proteïen en die ander gaan na die lewer.
  • Verskeie bestanddele moet by ureum in droëlekresepte gevoeg word om innames te reguleer.
  • Die oormatige inname van ureum kan ureumvergiftiging veroorsaak.
  • ’n Veearts kan ook monsters neem om te bepaal of die rumen-pH bo 7,5 is, wat ureumvergiftiging hoogs waarskynlik sal maak.

Ureum is ’n bekostigbare hoë-ruproteïen voedingsbron wat baie waarde vir ’n veeboerdery inhou, mits produsente versigtig daarmee te werk gaan. Veeplaas het dr Johann Stadler van Vlakte-veeartsenydienste in Roedtan, Limpopo, genader om meer oor die gebruik van ureum uit te vind, asook hoe om ureumvergiftiging te voorkom en behandel.

Dr Stadler verwys eerstens daarna dat vee soos beeste gewoonlik gedurende droë tydperke gewig en kondisie verloor. “Dit is as gevolg van ’n afname in weidingsgehalte,” sê hy. “Ons sien dat aanvullings soos ureum die verteringstempo van volwasse grasse in dié diere verbeter, wat lei tot ’n toename in die hoeveelheid gras wat hulle inneem en gevolglike verhoogde diereproduksie.”

Lees meer oor UHD-beweiding hier.

Vertering van ureum in vee

By herkouers word ureum in die rumen na ammoniak omgeskakel, wat twee paaie kan volg – die een produseer mikrobiese proteïen en die ander gaan na die lewer. Sodra ammoniakproduksie egter die vermoë van mikrobebenutting oorskry, word die oortollige ammoniak in die bloedstroom opgeneem en weer na ureum omgeskakel.

Die ureum word dan vir mikrobiese gebruik terug na die rumen vervoer via die speeksel van ’n dier, of dit word in die urine uitgeskei. “Wanneer die lewer se kapasiteit vir ammoniakuitskeiding oorweldig word, kom verhoogde ammoniakvlakke in die bloed voor wat toksisiteit veroorsaak.”

Lees meer oor kastrasie hier.

Ureumgebruik in aanvullings

Verskeie bestanddele moet by ureum in droëlekresepte gevoeg word om innames te reguleer. Aanvullings word meestal in die vorm van ’n blok of voermengsel gevoer. Terwyl innames baie tussen diere in die kudde mag verskil, is die doel om die risiko van ureumvergiftiging te verminder, terwyl voldoende inname by elke dier aangemoedig word.

Dit word bereik deur die smaak van die aanvullingsmengsel te verbeter deur sekere bestanddele by die resep in te sluit. In droë mengsels kan sout en klein hoeveelhede melasse gebruik word om inname te bevorder (beide beïnvloed slegs smaaklikheid), asook plantproteïen- en fosforbronne (beide kan die voedingswaarde van die aanvulling verhoog).

Dr Stadler waarsku egter dat die diere geleidelik oor een tot twee weke by ureum in hul voer aangepas moet word. Indien die proses gestaak word, moet diere weer van vooraf aangepas word. Daar moet ook by die produksiestadia van die diere aangepas word. Koeie in laatdragtigheid en laktasie se behoeftes verskil van dié van droë en vroegdragtige diere.

Lees meer oor hoe om nitrietvergifting te voorkom.

Tekens van ureumvergiftiging

Die oormatige inname van ureum kan ureumvergiftiging veroorsaak. Diere drink ook soms water waarin ureum ná reën opgelos het, wat tot ’n hoë-konsentrasie inname van ureum lei.

Simptome van vergiftiging sluit in spierbewerasies of rukkings, veral by die gesig en ore, abdominale pyn en ongemak, skuimerige speekselafskeiding, moeilike asemhaling en hyging, verhoogde urinering, ongekoördineerdheid en swakheid, en vergrote pupille. In gevalle van akute vergiftiging kan diere sonder enige waarneembare simptome binne 30 tot 90 minute na inname vrek.

’n Veearts kan ook monsters neem om te bepaal of die rumen-pH bo 7,5 is, wat ureumvergiftiging hoogs waarskynlik sal maak. ’n Voerontleding kan ook gedoen word om vas te stel of die fomulering vir ureumtoediening korrek of foutief was.

Lees meer oor hoe om geslagsiektes in vee te smoor hier.

Behandeling van siek diere

Diere wat tekens van vergiftiging toon kan behandel word met die toediening van 4 tot 8ℓ asyn in beeste en 0,5 tot 1ℓ asyn in skape, om die rumen-pH af te bring en die omskakeling van ureum na ammoniak te vertraag. Die asyn moet elke 30 minute toegedien word totdat die simptome verdwyn. Indien simptome terugkeer, moet die behandeling 24 uur later herhaal word.

Beeste kan ook 20 tot 40ℓ, en skape 5ℓ drinkwater gegee word om die rumeninhoud te verdun en die rumentemperatuur af te bring. Siek diere sal ook baat vind by ’n kalsium- en magnesiumaanvulling om te help met spiersametrekkings. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Johann Stadler by 072 482 4909 of vet@stadlers.co.