verse
Veldtoestande speel ’n bepalende rol in die uitgroei van verse. In die somermaande is daar voldoende kos, maar in die winter is die diere se behoefte na energie en proteïen hoër en moet dit aangevul word.

Estimated reading time: 7 minutes

  • In die beesbedryf is kuddeverbetering ’n onlosmaaklike deel van die produsent se langtermyn doelwitte.
  • Die uitgroei van verse as vervangingsdiere is ’n langtermynbelegging om die kudde te verbeter.
  • Versuitgroei het finansiële gewin ten doel. Daar is verskillende denkskole rondom die suksesvolle uitgroei van verse.
  • ’n Vers wat ’n aanwins is moet nie net haar teikenmassa van 65 tot 70% van haar volwasse massa bereik nie, maar moet ook ’n goeie kondisietelling hê voordat sy by die bul gesit word.
  • In meer ekstensiewe toestande, is dit goeie praktyk om die verse eers op drie jaar oud te laat kalf, maar dan moet daar ook gewaak word dat die diere nie te groot word nie.

In die beesbedryf is kuddeverbetering ’n onlosmaaklike deel van die produsent se langtermyn doelwitte. Telers maak voortdurend planne om die huidige generasie vee met ’n beter klomp te vervang, sodat hulle uiteindelik volhoubaar kan boer.

Die uitgroei van verse as vervangingsdiere is een so ’n langtermynbelegging om die kudde te verbeter. Hierdie belegging sal ’n tien-jaar invloed op die boerdery se inkomste hê, en daarom moet die fondasie dus baie deeglik gelê word.

Johan Mouton, tegniese bestuurder van navorsing en ontwikkeling by Molatek, glo die beste plek om te begin is by die seleksie van ouers uit ’n kudde met ’n positiewe reproduksietempo, met inagneming van die boerdery se teelbeleid en hulpbronsamestelling. Die doel is om uiteindelik ’n vers groot te maak wat jaarliks ’n lewenskragtige kalf sal produseer.

Om in dié doel te slaag, is dit nodig om duidelike teeldoelwitte daar te stel asook ’n teelbeleid om daardie doelwitte te verwesenlik. Die teelbeleid sluit nie net seleksie in nie, maar ook veld- en voedingsbestuur, rekordhouding, vrugbaarheid, sowel as kuddegesondheid en bestuur, sê hy.

Lees meer oor ‘n natuurlike benadering tot veeboerdery hier.

Vroeë paring van verse

Versuitgroei het finansiële gewin ten doel. Daar is verskillende denkskole rondom die suksesvolle uitgroei van verse. Die een skool reken verse moet so vroeg as moontlik by die bulle gejaag word sodat hulle hul kant op die plaas kan bring, terwyl ander produsente dit glad nie toelaat nie. Sommige telers poog om hul verse reeds op tweejarige ouderdom te laat kalf, terwyl ander nog ’n jaar langer wag en hul verse eers op drie jaar laat kalf.

Volgens Johan kan beide praktyke suksesvol toegepas word. “ ’n Vers wat vroeg gedek word kan potensieel 150kg ekstra vleis in haar produktiewe lewe produseer, indien sy nooit oorslaan nie,” sê hy.

Oor die lang termyn het albei denkskole egter voor- en nadele. Hoewel die teler wat sy verse op twee jaar laat kalf, gouer wins daaruit kan genereer, kan hy op die lange duur probleme begin ondervind. Die langslewendheid van die koei word ingeboet en die kalwers van hierdie verse word gewoonlik ligter gespeen.

Deur dieselfde som oor ’n tydperk van tien jaar uit te werk, mag die syfers dalk aansienlik anders lyk. Die beste praktyk vir die boerderystelsel moet dus baie noukeurig ondersoek word.

Volgens Johan lê die geheim daarin dat die vers wat op twee jaar reeds moet kalf, haar ideale massa moet bereik. Dit is rofweg 65% van haar volwasse massa met die eerste paring en 85% met die tweede paring. In die praktyk verkies Johan egter om nie verse voor die ouderdom van 18 maande te laat dek nie.

Lees meer oor kuddebestuur hier.

Voedingsbehoeftes van verse

’n Vers wat ’n aanwins is moet nie net haar teikenmassa van 65 tot 70% van haar volwasse massa bereik nie, maar moet ook ’n goeie kondisietelling hê voordat sy by die bul gesit word. Johan sê die kuns lê in gebalanseerde voedingsbestuur. Verse moet uitgegroei wees, maar nie oorvet nie. Die 65 tot 70% teikenmassa moet as onderste drempelwaarde gesien word, eerder as ‘n groepsgemiddeld. ’n Bietjie swaarder, sonder vet, sal geen skade doen nie.

Hy verduidelik dat die tipiese Suid-Afrikaanse voervloei onder veldtoestande in die somerreënvalstreke, gekenmerk word deur hoogs produktiewe somerveld, gevolg deur winterveld wat, vanuit ’n voedingsoogpunt, onvoldoende is om onderhoud te handhaaf. Daarom is ’n behoorlike voervloeiprogram noodsaaklik.

“Onder normale veldtoestande is die tekort aan proteïen gedurende die winter 250 tot 300g/dag/vers. Daarby benodig sy bykomende energie van tot 1,5kg/dag. ’n Gewone oorwinteringslek is onvoldoende vir die uitgroei van verse op winterveld met die doel om vroeg te dek. ’n Produksielek van ten minste 1 tot 1,5kg/vers/dag word vir die hele winter benodig. Die eerste winter se goeie voeding is baie belangriker as om ’n vers vroeg te probeer paar,” sê hy.

Hy glo ook die teler moet in gedagte hou dat die effek van aanvulling net so goed as die gehalte van die weiding is wat voorsien word. Die klem lê op die voorsiening van goeie gehalte ruvoer tesame met ’n proteïen- en energie-aanvulling.

Lees meer oor vervangingsverse as die toekoms van die suiwelbedryf hier.

Verskillende opsies kan gebruik word om hierdie voedingsprogram uit te voer. Johan stel die volgende voor:

  • ‘n Produksielek op ‘sagte’ winterveld.
  • Die gebruik van voersorghumkuilvoer as staandehooi in die winter. Hier word aanplantings so laat as moontlik gedoen om ruvoergehalte te verseker.
  • Die aanwending van goeie gehalte hooi dwarsdeur die winter.
  • Die gebruik van besproeiing vir byvoorbeeld raaigras of swenkgras.
  • Maksimale uitgroei van diere op die somerveld met produksielekke en ’n meer konserwatiewe benadering gedurende die winter.

“Ek beveel glad nie méér voedingstowwe aan as wat nodig is vir sinvolle liggaamsontwikkeling nie. Dit kan tot vetneerlegging, toekomstige verlaagde melkproduksie en kalfprobeme lei. Massatoename moet op spier- en skeletontwikkeling gegrond wees, en nie op vet nie,” meen hy.

Hy voeg by dat verse gedurende kalftyd in ’n goeie kondisie moet wees. Indien hul kondisie nie na wense is nie, sal matige energie-aanvulling geen skade doen nie, maar eerder herkonsepsie bevoordeel.

Lees meer oor kuilvoer hier.

Bestuursaspekte by versuitgroei

Johan glo versgroei is ’n fyn balans wat gehandhaaf moet word. “In gevalle waar die hulpbronsamestelling en voervloei dit regverdig, die weidingsbestuur behoorlik toegepas word en gehalte ruvoer ekonomies voorsien kan word, kan verse vroeër gedek word sonder nadelige langtermyn gevolge, maar dit is belangrik dat diere nie oorvoer moet wees nie,” sê hy.

In meer ekstensiewe toestande, voeg hy by, is dit goeie praktyk om die verse eers op drie jaar oud te laat kalf, maar dan moet daar ook gewaak word dat die diere nie te groot word nie.

Hoewel die ideaal is om verse vroeër te laat kalf is dit, weens die kompleksiteit van al die faktore wat in ag geneem met word, moeilik om ’n duimreëlsyfer te gee. Johan meen egter die netto inkomste van ’n kudde kan met tot 8% verhoog word met die suksesvolle vroeë paring van verse. Dié syfer is bereik onder werklik ideale toestande wat selde in die Suid-Afrikaanse konteks voorkom.

“Hou in gedagte dat maksimum produksie nie maksimum ekonomie is nie, en dat produksie nie ‘gekoop’ moet word ter wille van die sigwaarde daarvan nie – dit is ’n duur artikel. Om dié rede is rekordhouding van groot belang ten einde te bepaal of dit op die lang duur die moeite werd is. Die ekstra inkomste uit die vers wat vroeg gekalf het, moet afgespeel word teen die koste van die voorbereiding vir dekking.”

Om verse suksesvol uit te groei en ’n volhoubare wins te verseker, verg uitstekende bestuur. Daar is talle faktore wat ’n invloed op hierdie praktyk het en ál hierdie faktore moet holisties bestuur word om die uiteindelike doelwit te kan bereik. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Johan Mouton by 083 278 7746 of johan.mouton@rclfoods.com.