Estimated reading time: 2 minutes
Die Hoogland-studiegroep bestaan uit ’n groep Simmentaler-stoettelers in die Oos-Vrystaat wie se mikpunt die teling van uitstekende Simmentalers is. Dis vir hierdie doel dat heelwat van die studiegroep se lede ook aan veldbultoetse deelneem. Teen hierdie agtergrond is ’n inligtingsvergadering oor veldbultoetse onlangs op Bethlehem gehou.
John Rafferty, sameroeper, sê die doel van die vergadering, wat vir almal oop was, was om die veldbulkonsep in detail aan belangstellendes te verduidelik en wanbegrippe uit die weg te ruim. Daar is natuurlik niemand beter om dit te doen nie as die vader van veldbultoetsing in Suid-Afrika, dr Hannes Dreyer.
John sê die meeste stoetbulle in Suid-Afrika beland in die kuddes van kommersiële produsente. Dit is dus uiters belangrik dat die behoeftes van kommersiële produsente deeglik in gedagte gehou moet word wanneer stoettelers hul teelprogramme beplan. Dit is waar die waarde van veldbultoetse lê. Veldbultoetse kwantifiseer daardie eienskappe wat vir ’n bul belangrik is om onder ekstensiewe toestande optimaal te funksioneer.
Genoeg vir ’n veiling
“’n Vooruitsig wat my opgewonde maak,” sê hy, “is dat as daar genoeg veldbultoetse in ’n omgewing uitgevoer word, die moontlikheid bestaan om genoeg hoogstaande bulle te betrek om ’n veldbulveiling in daardie streek aan te bied.”
Dr Hannes Dreyer sê die doel van ’n veldbultoets is om die beste diere te identifiseer wat op veld of ruvoer kan presteer. Dit is nie ’n oorlewingstoets nie.
“Hier op die Oostelike Hoëveld begin ons die toetse gewoonlik in September of Oktober sodat die finale evaluasie in Maart kan plaasvind. Dit is ’n aanvaarde feit dat ’n boer se beste bulle daardie bulle is wat op sy eie plaas grootgeword het, omdat hulle by die plaas se spesifieke omstandighede aangepas is.
Veldbultoetse bied dan ’n gestruktureerde maatstaf om te beoordeel watter bulle op daardie plaas meerderwaardig is, en geskik is om goeie speenkalwers te produseer, maar belangriker, goed-aangepaste vervangingsverse te produseer.”
Kondisietelling die belangrikste
Hoewel die groei-eienskap belangrik is, is ’n reeks aanpasbaarheidseienskappe net so belangrik. Kondisietelling is waarskynlik die heel belangrikste eienskap.
“As jou bul nie in staat is om natuurlik kondisie te handhaaf nie, gaan sy dogters ook nie in staat wees om kondisie te handhaaf nie, wat ’n wesenlike negatiewe impak op vrugbaarheid sal hê. Ander uiters belangrike eienskappe is temperament, haarkleed, bespiering en groei.”
Vir meer inligting, skakel dr Hannes Dreyer by 082 823 1045, of John Rafferty by 078 187 3073. – Izak Hofmeyr, Plaas Media