Friday, October 18, 2024

Hommeltuie in presisieboerdery: Die vlug na hoër kostedoeltreffendheid

Estimated reading time: 8 minutes

  • Kunsmatige intelligensie en robotika stuur die bedryf vinnig in ’n nuwe rigting en vorm die grondslag van presisieboerdery.
  • Hommeltuie speel ‘n al hoe meer prominente rol in alledaagse boerdery en help grootliks met risikovermindering, terwyl dit terselfdertyd opbrengste op plase verhoog.
  • Die stygende minimumloon het daartoe gelei dat produsente uit ‘n bekostigbaarheidsoogpunt hulle al hoe meer wend na alternatiewe oplossings soos die afskaling van die werksmag en die gebruik van tegnologie.
  • Hierdie presisietegnologie maak dit moontlik vir produsente om akkuraat te werk sonder verdere stremming en plantskade. Hommeltuie bied ook die voordeel dat dit bykomende data-lae kan skep.
  • Boere wat hommeltuie vir kommersiële boerderydoeleindes wil aanwend, moet ’n sogenaamde Remote Pilot License (RPL) kry en hul hommeltuie registreer.

Met ’n wêreldwye tendens wat die gebruik van tegnologiese innovering aanmoedig, word baie boere in die gesig gestaar deur die vierde nywerheidsrevolusie wat kunsmatige intelligensie (AI) en robotika behels. Die landbousektor is bekend as een van die mees dinamiese bedrywe, met ’n wye reeks faktore wat deurlopend verandering meebring.

Kunsmatige intelligensie en robotika stuur die bedryf vinnig in ’n nuwe rigting en vorm die grondslag van presisieboerdery. Produsente gebruik gevorderde tegnologie om boerdery-aktiwiteite vinniger, doeltreffender en baie meer volhoubaar uit te voer.

Hommeltuie speel ‘n al hoe meer prominente rol in alledaagse boerdery en help grootliks met risikovermindering, terwyl dit terselfdertyd opbrengste op plase verhoog. Hierdie toestelle stel boere in staat om in die huidige ekonomiese klimaat hul winste te maksimeer teen laer insetkoste. Die vraag bly egter of alle boere in die bedryf daarby baat. Hommeltuie word tans reeds met groot sukses in saai-, vee- en wildboerdery aangewend.

Lees meer oor die rewolusie wat hommeltuie na plase kan bring.

Vir die veeboer

Die stygende minimumloon het daartoe gelei dat produsente uit ‘n bekostigbaarheidsoogpunt hulle al hoe meer wend na alternatiewe oplossings soos die afskaling van die werksmag en die gebruik van tegnologie. Veeboere wat werkers moet aanstel om hul kampdrade en wildheinings te patrolleer, is nou in staat om ’n satellietroete op te stel en ’n hommeltuig op daardie presiese roete uit te stuur om heinings na te gaan.

Boonop kan diere in verskillende kampe dopgehou en gemonitor word. Verby is die tyd toe dit dae geneem het om vee te tel. Hommeltuigsagteware is ingestel om diere presies en meer akkuraat te tel, wat ook die moontlikheid van menslike foute uitskakel. Gevorderde hommeltuigstelsels kan ook duidelike fotobeelde deur middel van infrarooi-luggolwe neem wat kan help om veediewe in die nag te identifiseer.

Terselfdertyd kan infrarooi-hittetegnologie gebruik word om diere se gesondheid te bepaal, deurdat dit die dier se temperatuur monitor en die produsent betyds van probleme in kennis stel om vrektes te voorkom. Siektebeheer word aansienlik deur hommeltuie vergemaklik, omdat middels teen uitwendige parasiete vinniger en makliker op ’n trop diere toegedien kan word sonder dat ekstra arbeid nodig is.

‘n Aspek van veeboerdery wat ernstige geldelike implikasies inhou, is skade deur ongediertes soos jakkalse, rooikatte en rondloperhonde. Hommeltuigtegnologie is handig in die bekamping van roofdiere, omdat dit die produsent betyds in kennis stel van roofdiere en hulle terselfdertyd afskrik. Indien die tegnologie dus reg aangewend word, kan dit heelwat verliese by veekuddes voorkom.

Talle vlieënde hommeltuie het ’n hoë geraas-voetspoor, wat beteken dat die frekwensie van die geluid daarvan ‘n relatiewe maklike en goeie afskrikmiddel is vir roofdiere wat kuddes aanval. ’n Afname in veediefstal, vrektes en roofdier-aanvalle in areas wat bekend is hiervoor, lei tot meer bemarkbare vee, wat uiteraard groter wins beteken, asook teelkuddes wat optimaal reproduseer en groei.

In die saaibedryf

Bewaringslandbou het ’n pragmatiese effek op produsente, en vereis dat boere groener moet produseer en volhoubaarheid ter harte moet neem. Uitheemse indringerplante is bekend daarvoor dat hulle die oppervlak waar gewasse verbou kan word, inneem en verklein. Dit put ook ondergrondse waterbronne uit.

Vir saaiboere is daar reeds ’n wye reeks hommeltuigoplossings wat hierdie bedreigings akkuraat en met groter kostebesparings kan beveg. Van die nuutste hommeltuie het sagtewarestelsels wat met hitte-beelde duidelik toon waar indringerplante groei, relatief tot aangeplante gewasse en veld.

Hierdie beelde word gebruik om kolbespuiting te doen, wat dan plantdoders spesifiek op kolle indringerplante spuit. In gevalle waar gewasse al verby die piek-groeistadiums uitgegroei het, word dit moeilik vir konvensionele spuitkarre om in die land te kom sonder om skade aan te rig. Hommeltuigbespuitings dien as van die besonder unieke tegnieke wat gebruik kan word om sonder hindernisse, onkruide en indringerplante effektief te bespuit.

Moderne hommeltuigstelsels vergemaklik ook die mikrobestuur van gewasse deurdat boere duidelike beelde op hul lande kan sien. Die normalised difference vegetation index (NDVI) maak daarvoor voorsiening dat produsente hoëresolusie beelde op hul lande kan sien waar gewasse uitstekend groei en waar groeistremming ervaar word. NDVI-beelde toon ook waar onkruide en peste wat nadelig is vir plantegroei op die land staan.

Meer akkurate bestuur

Hierdie presisietegnologie maak dit moontlik vir produsente om akkuraat te werk sonder verdere stremming en plantskade. Hommeltuie bied ook die voordeel dat dit bykomende data-lae kan skep. Dit bring meer akkurate en presiese voeding en besproeiingsbestuur mee.

Die gevorderde GPS-stelsels spuit meer presies, waar die vlugspoed ook relatief stadiger is met betrekking tot die afstand tussen die spuitstuk en die gewas self. Uiteindelik word meer gekonsentreerde chemikalieë toegedien, en dit bied sekerheid wat doeltreffende gewasbedekking betref. Bykomend tot gevorderde GPS-stelsels en sagteware het die nuutste hommeltuie groter spuittenks van tot 60 liter. Hierdie hoër kapasiteit stel die instrument in staat om groter areas per vlugspuit te dek, wat spuitkoste verminder.

Die hoër doeltreffendheid lei tot reuse-besparings in koste per hektaar of per uur. Terselfdertyd gaan minder chemikalieë in die lug en grondwater verlore.

Verliese as gevolg van natuurrampe is ‘n faktor wat produsente finansieel knou. Daarom is gewasversekering baie belangrik. Hoëkapasiteit databerging in hommeltuigsagteware gee versekeringsmaatskappye die geleentheid om die skade wat berokken is, akkuraat te bepaal. Die data bied meer akkurate aanduidings oor gewasskade, wat meebring dat vergoeding beter bepaal kan word.

Kostebesparing is ‘n groot voordeel van hommeltuie, maar daar is ’n paar faktore wat produsente in ag moet neem om seker te maak dit is die moeite werd.

Koop ’n hommeltuig

Om ’n hommeltuig te bekom, is nie goedkoop nie en prys is ‘n bepalende faktor by die produsent se aankoop. Pryse wissel van R2 000 tot R500 000 per hommeltuig, gegrond op die gevorderdheid van die tegnologie. Van die hommeltuie in die mark het ’n besonder lang batterylewe en kan selfs so ver as 12km van die beheerder af vlieg. Instandhoudingskoste moet ook in ag geneem word.

Daarby wissel die prys van karteringsagteware van R6 000 tot R111 700 per jaar, afhangende van hoe gevorderd die sagteware is. Karteringsagteware is ‘n wesenlike deel van hommeltuigtegnologie – dit is so gevorderd dat dit besonderse topografiese data kan versamel, verwerk en analiseer.

Wetgewing rakende hommeltuie

Suid-Afrika het van die strengste wetgewing ter wêreld wat hommeltuie betref. Boere wat hommeltuie vir kommersiële boerderydoeleindes wil aanwend, moet ’n sogenaamde Remote Pilot License (RPL) kry en hul hommeltuie registreer. Die koste van ’n RPL-kursus (teorie en prakties) is sowat R19 800, belasting uitgesluit – ’n prys wat wenkbroue dikwels laat lig.

Buiten die registrasie van die tuig moet regulasies deur die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid in ag geneem word. Hommeltuie mag nie naby bemande vliegtuie gevlieg word nie. Hulle mag ook nie binne ’n omtrek van 10km vanaf lughawens, vliegvelde en helikopter-landingstroke gevlieg word nie. Burgerlugvaart vereis ook dat hommeltuie ten minste 50m van mense af weggehou moet word.

Wat moet ek koop?

Maryke Buys van Hennie’s Drone Repair & Training Pty (Ltd) (HDRT) by Rietfontein in Pretoria, sê die aanwending van hommeltuie in die landbou is verbasend omvattend. Voor jy egter ‘n hommeltuig koop, is dit belangrik om eers te besluit wat presies jy met die hommeltuig wil doen en dan die regte model te gaan soek. In die geval van veeboere word hommeltuie dikwels gebruik om vee te tel, veral in die nag en op plekke waar veediefstal ’n probleem is.

“Sommige hommeltuie het goeie navigasievermoë, terwyl jy met ander weer die diere beter kan onderskei. Nie alle hommeltuie kan byvoorbeeld tussen jakkalse en honde onderskei nie. Al die kameras kan ook nie inzoem nie. Daarom is dit nodig om die doel van ‘n hommeltuig deeglik te omskryf voordat jy een aanskaf.”

Hommeltuie met goeie nagsigtoerusting kan gebruik word om die omgewing te bespied vir verdagte oortreders op jou eiendom, terwyl jy veilig is. Dit gee jou kans om jou oog op die verdagtes te hou terwyl jy sekuriteitsdienste of versterkings inroep. Sommige hommeltuie is toegerus met ’n luidspreker waarmee jy met verdagte persone kan praat, en ’n kollig om vir sekuriteitsdienste die pad te wys. Die tuie word ook vir ‘n legio ander gebruike aangewend, soos om kunsmis toe te dien of gif te spuit.

“Dit is beter om ‘n bietjie meer te betaal en die nuutste tegnologie te koop. Kyk na die tuig wat vir jou batterye, ’n batterystasie, die tuig self, én die kamera bied. Indien jy later sou besluit om die kamera op te gradeer, kan jy net die kamera koop. Hommeltuigkameras verbeter voortdurend, en indien jy ’n hommeltuig met ’n ingeboude kamera gekoop het, moet jy ‘n hele nuwe pakket koop as jy wil opgradeer.

“Hommeltuie gebruik sagteware om inligting vir verskillende aanwendings op te laai. Indien die sagteware nie met die hommeltuig kommunikeer nie, sal dit nie in jou doel dien nie. Daarom is dit belangrik dat die sagteware verteenwoordigend moet wees. Baie belangrik: Dit moet deur die vervaardiger onderskryf word om te kwalifiseer vir die waarborg.”

Doen dus goeie navorsing doen, besoek verskillende maatskappye se webwerwe, en gesels met kenners op die gebied. – Brent Jammer, Departement Landbou-Ekonomie, Universiteit van die Vrystaat, en Koos du Pisanie

Vir verwysings, stuur ’n epos aan JammerBD@ufs.ac.za of kontak Maryke Buys by 072 276 1297 vir tegniese inligting.

Must read

RSG Landbou: 17 Oktober 2024 – geborg deur Pioneer Saad

Die optimale gebruik van die regte veehanteringstoerusting kan vir die veeprodusent tot groot voordeel wees. Charlotte Esterhuizen van Algar deel ‘n paar wenke in vandag se RSG Landbou. Gerard Ramage van die VKB Groep, verskaf...

SAPPO Retail Price Statistics: September 2024

The monthly SAPPO Retail Price Statistics Report provides detailed statistics and trends on the retail prices of various meat products, including pork, chicken, beef, and lamb. Monthly Price Changes: Pork: Average retail prices of selected pork products (incl. Bacon...
meteorology water meter rain gauge

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is weer terug op sy pos met sy weeklikse weersake-gesprek met Lise Roberts op RSG Landbou. Luister nou na hierdie week se weerverslag soos op 17...

World Food Day 2024: Focus on the Sandveld

Estimated reading time: 4 minutes Despite being an agricultural powerhouse, over 20% of South Africa’s population is food insecure. This year, after Potatoes SA commemorated World Food Day on 16 October, we look at challenges...
Johan van den Berg

RSG Landbou: 16 Oktober 2024 – geborg deur Pioneer Saad

Grondvoorbereiding vir gewasproduksie kom onder bespreking in moreoggend se RSG Landbou. Mauritz van Heerden van Pioneer Saad gesels onder meer oor doeltreffende grondbewerkingspraktyke, ideale plantdiepte en grondtemperature. Pieter van Zyl van PGL Boerdery in...