Estimated reading time: 7 minutes
In die beleggingsbedryf is een van die moeilikste dinge waarskynlik om mense te oortuig dat hulle die resultate van enige besparingspoging op die langduur gaan sien. Daar is nie ’n kitsoplossing nie. Jy gaan eers oor ’n paar jaar die vrugte van jou poging pluk.
Dieselfde beginsel geld vir die veldverbetering- en kuddeverbeteringsmetodes wat Charl Saunderson, eienaar van die Nooitgedacht Dorperstoet in die Kenhardt-distrik en Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur van 2024, altyd bepleit. Vanjaar, met die goeie reën wat die dankbare veld van die Noordkaap ontvang het, sukkel Charl om uit sy mooi veld te bly. “Nou boer ek dat dit bars, want ek sien die dividende op jarelange harde werk,” vertel hy met ’n glimlag.
Lees meer oor ‘n groep Namibiese boere wat onlangs by Charl Saunderson gaan besoek aflê het.
Veldverbetering is ’n 100 jaar-resies
Hy erken dat jy soms in hierdie droë streke op jou tande moet kners, want dit lyk dikwels of die veld nooit gaan herstel nie. Maar binne ’n week of twee nadat die eerste bietjie reën geval het, lyk dit of ’n fee met ’n towerstaffie oor die plaas gevlieg het. Kort voor lank staan die plante in die saad en jy weet jy het ’n voorraad saad vir die volgende jaar ook.
Charl sê sy pa en sy oupa het al met hierdie boerderymetodes begin om die veld te verbeter en hy het daarmee voortgegaan. Hulle was die pioniers, en het indringerbosse uitgekap en vore geploeg om die saad en water vasgevang te kry. Sedert Charl die plaas oorgeneem het, het hy egter ’n stap verder gegaan.
Verbeter op vorige werk
Waar daar aanvanklik 4 meter uitmekaar geploeg is, is sy ploegvoere deesdae net 2 meter uitmekaar. Hy sê die rede hiervoor is dat daar steeds kaalkolle tussen die ploegvoere bly wat moeilik is om toe te groei.
Charl het in sy werksaamhede ook ’n paar interessante dinge in die veld opgemerk, wat hy gevolglik verander het. “Veldverbetering kan nie oornag gebeur nie. Dit is ook nie net een of twee dinge wat jy doen en siedaar, jy staan in ’n oase nie. Ek het gesien ’n mens moet aandag aan die detail gee. Dit is daardie klein dingetjies wat jou op die ou end help om groot resultate te sien,” gesels Charl.
Beter infiltrasie van water
Een van die waarnemings was dat die grond oor die algemeen hard is en die water baie vinnig wegvloei. Hy het dit sy missie gemaak om die grondstrukture verder te verander sodat die infiltrasie van die water baie beter sal wees.
“Dit het vir my geen nut as die water teen ’n vinnige spoed oor my plaas loop nie. Ek moet probeer om alle moontlike slote in te perk en ’n manier te vind om die grond toegankliker te maak, sodat die water maklik kan infiltreer,” gesels Charl opgewonde.
Hy verduidelik dat hy en dr Louis du Pisani, ’n weidingkundige, al proewe gedoen het: Op plekke waar die grond met ’n vlerkploeg omgeploeg is, is die bolaag van die grond reeds ’n bietjie versteur, en as dit kom reën – al is dit dan ook ’n jaar of twee later – syfer die water makliker in die grond in en bly dit behoue vir die saadjies wat moet ontkiem. Hulle het ook gevind dat die water soveel makliker infiltreer waar daar digter plantegroei is en die plantwortels die aarde losgemaak het.
Charl sê dit was wonderlik om weer vanjaar na die reën te sien hoe sy planne in plek begin val en die plantjies digter begin opkom, meer klimaksplante hul verskyning maak, en die veld soveel vinniger herstel as op baie ander plekke op sy plaas wat nog nie hierdie spesiale aandag gekry het nie.
Aandag aan die detail
Hy vertel dat hy ’n stap verder gegaan het as om net ploegvore te maak. Hy het ook die mis wat in sy krale en onder die skaapskaduwees in die veld is, gebruik om in die ploegvore te strooi ten einde die grond te bemes, stiktof te verhoog, rumaterial te verhoog en sodoende die infiltreerbaarheid of wateropneembaarheid van die grond te verhoog. Die opgaar en behoud van vog het ook wondere verrig, omdat die vog en mis’n goeie medium vir die plantjies is om in te ontkiem en hul vastrapplek te kry.
Hy het ook groot ronde bale tef of oulandsgras op die droë kolle oopgerol, oftewel “pleisters geplak”, soos hy daarna verwys. Dit is bale wat die boere as droogtehulp-voer gekry het, maar op die vragmotors natgereën het of vol muf was, en nie meer as voer gebruik kon word nie. Die bale is in die oop kolle in sy veld oopgerol en met ou hout pale vasgepak sodat dit nie kon rondwaai nie. Dit het die grond koel gehou en die vog bewaar. Hierdie plan het uitstekend gewerk en die boesmangras kon behoorlik uit die ou voerbale gedy.
Meet om te weet
Charl glo aan die beginsel van “om te weet is om te meet” en dit is nie net op jou diere van toepassing nie. Hy sê daar is’n paar indikators wat vir hom ’n goeie maatstaf is om die toestand van sy veld te meet.
“Driedorings is vir my ’n goeie aanduiding van vernielde veld, terwyl Wolvingergras wat ook familie van Smutsvingergras is, weer ’n goeie aanduiding van goeie veld is. Dit is ’n goeie klimaksgras vir die diere. Ek glo goed bewaarde veld is die gevolg van ’n goeie beweidingstelsel, wat goeie snoei en goeie rus insluit. In die Noordkaap waar ons nie volop reën kry nie, kan ons ons veld verbeter deur met ’n goeie weidingstelsel te begin. Rus en snoei, rus en snoei. Dit is een van die hoofpilare van herlewingsboerdery,” raak Charl ernstig oor sy boerdery.
Kuddeverbetering
Vir Charl is goeie weiding die as waarom kuddeverbetering draai. Hy verduidelik dat as jy elke jaar net fondse het om 1% van jou indringerplante uit te haal, beteken dit jy gaan op ’n plaas van 10 000ha sowat 100ha skoonmaak en gereedmaak vir beter weiding. Oor vyf jaar het jy 500ha skoongemaak en dan kan jy al tot soveel as 20 en 50 ekstra ooie aanhou, en 24 tot 60 ekstra lammers speen. Sit dit om in ’n netto winssom wat jy in jou sak kan steek, dan begin boerdery meer aanloklik lyk. Hy glo hierdie somme moenie in groot syfers gemaak word nie. Elke bietjie gaan help om jou kudde se genetika te verbeter en jou kontantvloei te verbeter, wat jou volhoubaarheid verseker.
Die beginsel is doen alles wat jy kan, maar “moet net nie niks doen nie, begin klein en weet dat elke klein dingetjie wat jy doen gaan help om die sneeubal van veld, kudde en netto inkomste te verbeter,” is sy raad.
Om aan te pas by sy veldverbetering, selekteer Charl sy skape streng vir funksionaliteit, langslewendheid, hoogs vrugbaar, maklik lam, hoogs produktief, interlam periode van 270 dae vir die Karoo. Aangesien hy genoeg voeding in die veld het, kan hy begin om hierdie aspekte in sy kudde in te bring. “Voeding ontsluit genetika. Dit help nie ek het uitstekende genetika, maar ek het nie ’n plaas wat daardie genetika kan ontsluit nie,” is sy mening.
“Daar kan ’n klomp plante op jou plaas staan, maar as dit nie smaaklike plante met hoë voedingswaarde is nie, het jy nog net bedekking. Bedekking is egter ’n goeie begin, en dan werk jy van geen bedekking na bedekking van pionierplante, na klimaksplante. Uiteindelik het jy goeie voeding vir jou diere. Die geheim lê in doelbewuste en doelgerigte bestuur. Jy bestuur jou weiding doelbewus, nie net om plante te vermeerder nie, maar om klimaksplante te vermeerder. Dit kry jy net deur snoei, rus en reën. Jou weidingbestuur moet daarop gemik wees om maksimum klimaksplante te bewaar en te vermeerder,” is sy boodskap aan elke veeboer.
“Ons het óf goeie redes óf goeie verskonings wat ons bestuursinsette dryf of nie dryf nie. As jy nie minstens vyf goeie redes het om jou grond se drakrag te verhoog, jou voerbank te vergroot om meer droogteweerstandig te raak, en jou kudde se genetiese vermoë te verhoog nie, sal die effek van inflasie en die kosteknyptang al die vreugde uit jou boerdery haal en jou in ’n groef laat beland. Die enigste verskil tussen ’n groef en ’n graf is die diepte. Bestuur jou boerdery ten alle koste uit die groef uit en doelbewus na welvaart, want dit is hoe boere boer dat dit bars,” sluit hy af. – Koos du Pisanie, Plaas Media

















