Estimated reading time: 4 minutes
’n Groot groep Namibiese boere het vroeg in Maart besoek gebring aan Suid-Afrika met die doel om kennis uit te ruil met hul Suid-Afrikaanse eweknieë.
Die Namibiese boere en die Noord-Kaap-boere het baie in gemeen. Droogtes, tekorte aan weiding, siektes, en so meer is deel van hul daaglikse bestaan. Volgens Roelie Venter, die hoof uitvoerende bestuurder van die Namibiese Landbou-unie, wil die Namibiërs meer te wete kom oor herlewingsboerdery, wat onder meer die verbetering van veld en weiding, die verbetering van genetika en kuddeverbetering, insluit. In Suid-Afrika is dit ’n boerderymetode wat al hoe vinniger posvat.
Daarom is daar besluit om die bul by die horings te pak en ’n kort toer na Suid-Arika te onderneem om meer hieroor uit te vind.
Venter sê hy het uitnodigings na die tien streke in Namibië gestuur en versoek dat opinievormers in elke streek die toer moet meemaak. Hy was verbaas oor die belangstelling en daar was op die einde ’n groep van sowat 60 boere wat die toer meegemaak het.
Beste van die bestes gee raad
Aan die Suid-Afrikaanse kant het dr Louis du Pisani, wat baie goeie verhoudinge met die Namibiese Landbou-unie het, gehelp om die reëlings te tref. Hy het die boere na twee uitstekende skaap- en twee uitstaande beesboere geneem, wat min of meer dieselfde agro-ekologiese areas het as waar die Namibiërs boer. Daar kon hulle sien wat die boere in Suid-Afrika, wat herlewingsboerdery toepas, doen.
Die eerste stoppunt was by Johann Bekker van Noenieput. Hy het die Namibiërs bekendgestel aan sy manier om sy veld te verbeter en dit was veral sy metodes om driedoring uit te roei wat die toergroep baie geïnteresseer het, omdat hulle dieselfde probleem het.
Die volgende besoek was by Charl Saunderson van Kenhardt, wat ook die wenner van die 2024 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur was. Hy het die Namibiërs gewys hoe om die grond se hidrologie deur middel van ploegvore te herstel en hoe om prosopisbome te beheer. Charl het ook ’n interessante praatjie gegee oor die verbetering van ‘n skaapkudde se genetika en soos gewoonlik, die boere met praktiese wenke weggestuur.

Die Namibiese boere uit die suidelike dele van Namibië het baie baat gevind by hierdie besoeke omdat hulle ook skaapboere is.

Die derde besoek was by Willie Storm, ’n beesboer van Olifantshoek wat groot probleme met bosverdigting gehad het. Hy het al in 2008 bosbeheer begin toepas, met ongelooflike resultate.
Die laaste besoekpunt was by Jan van Zyl en sy twee seuns, Jan en Gideon, in die Vryburgarea. Die meer noordelike boere van Namibië kon hier baie leer, omdat hulle ook meer reën per jaar kry. Jan het hulle gewys wat hy en sy seuns doen om die veld in topkondisie te hou en baie goeie diereprestasie te handhaaf.
Dr Du Pisani wat gehelp het om die toer te reël, se uitgangspunt is dat hierdie inisiatief van die Namibiese Landbou-unie ’n wonderlike idee is. Hy glo as ’n boer na iemand wat reeds sukses op ’n bepaalde gebied in die boerdery behaal het kan gaan en by hom gaan leer, is dit reeds ’n stap in die regte rigting. Hy glo Suid-Afrikaanse boere kan ook die voorbeeld neem en by ander wat reeds ‘die wiel ontwerp het’ gaan leer, sodat elkeen se boerdery makliker op die wenpad kan kom. – Koos du Pisanie, Plaas Media






