Estimated reading time: 6 minutes
- Die Grootfontein Dohne Merino-kudde is in 2001 gestig met die doel om ’n genetiese poel van fynwol-dubbeldoelskape te skep wat topgehalte vleis en superfyn wol produseer.
- Die langtermyn genetika- en genomika-navorsing wat by Grootfontein plaasvind en die Dohne-kudde insluit, is ’n tydsame proses.
- Die doel van die fynwolstudie was om die Dohne-ras te ondersoek en basislynwaardes te vind rakende veseldeursneë en liggaamsgewig, en dan ooie te identifiseer vir die vestiging van die genetiese poel by Grootfontein.
- Hierdie studie het tot 2010 voortgeduur en die projek se doelwitte is behaal.
- Hierdie hulpbronne is ook beskikbaar om ander navorsingsinstellings met hul genomika-navorsing te help.
Die Grootfontein Dohne Merino-kudde is in 2001 gestig met die doel om ’n genetiese poel van fynwol-dubbeldoelskape te skep wat topgehalte vleis en superfyn wol onder ektensiewe omstandighede produseer. Die navorsing het uiteindelik verskuif na DNS-studies. Met dit in gedagte, het Veeplaas die Grootfontein Landboukundige Ontwikkelingsinstituut (GADI) besoek waar drs Willem Botha en Gretha Snyman, beide veekundiges, ons meer oor hierdie navorsing vertel het.

Die langtermyn genetika- en genomika-navorsing wat by Grootfontein plaasvind en die Dohne-kudde insluit, is ’n tydsame proses wat voldoende finansiering verg om dit enduit te sien. “Dit sou vir ’n skaapprodusent baie moeilik wees om soortgelyke navorsing op die plaas te doen, want hulle is in die geldmaakbesigheid,” sê dr Olivier.
In hierdie opsig beklemtoon dr Snyman dat Grootfontein ’n navorsingsinstituut is wat staatmaak op projekfinansiering vanuit die wol-, vleis- en sybokhaarbedrywe in Suid-Afrika. “Dit stel ons in staat om navorsing te doen en produsente te voorsien van geldmaakoplossings wat op die plaas geïmplementeer kan word,” sê sy.
Vestiging van ’n genetiese poel
GADI is naby Middelburg in die Oos-Kaap geleë en hul navorsing is spesifiek op die instansie se Dohne-kudde gefokus. Dr Olivier verduidelik: “Om die doel van die Grootfontein Dohne Merino-kudde beter te verstaan, moet ’n mens teruggaan na die 1980’s toe die wolinkomste van dubbeldoelskaaprasse soos die Dohne Merino tot sowat 20% van ‘n produsent se inkomste bygedra het.
“Met dit in gedagte, het die Suid-Afrikaanse wolbedryf toe versoek dat navorsing gedoen word oor ’n Dohne Merino-kudde by Grootfontein. Die doel was om die gehalte van skaapwol te verbeter deur middel van ’n seleksieproses wat produsente se winsgewendheid sou verhoog.”

Finansiering deur Cape Wools SA het die aankoop van Dohne-ooie moontlik gemaak en die Grootfontein Dohne-kudde is gevolglik gedurende 2001 en 2002 bymekaargemaak. Hierdie proses is weer moontlik gemaak deur die Dohne Merino-skaaptelersgenootskap. Hulle het Dohne-telers met niedragtige, fynwol-ooie geïdentifiseer wat in die Grootfontein-kudde se genetiese poel ingesluit kon word. Dit was die eerste fase van die Dohne-projek.
Fynwolprojek van 2001 tot 2010
Die doel van die fynwolstudie was om die Dohne-ras te ondersoek en basislynwaardes te vind rakende veseldeursneë en liggaamsgewig, en dan ooie te identifiseer vir die vestiging van die genetiese poel by Grootfontein. Die oorspronklike doel van die projek was om ’n genetiese poel van dubbeldoel Dohne-skape met wol van uitstaande veseldeursneë onder ekstensiewe omstandighede te vestig.
Hierdie studie het tot 2010 voortgeduur en die projek se doelwitte is behaal. Die kudde se liggaamsgewig asook stapellengte het verbeter en dit het Grootfontein in staat gestel om die bedryf van fynwol Dohne-ramme te voorsien. ’n Drempel is egter bereik ten opsigte van die seleksie van verlaagde veseldeursneë weens ’n toename in penswol wat teen die sy van die dier in die vagwol opgekruip het, sowel as ’n afname in treksterkte. Verdere navorsing is dus nodig ten opsigte van die verhouding tussen seleksie vir verlaagde veseldeursneë, die karaktereienskappe van wolgehalte, en treksterkte.
‘n Paar vrae rondom fynwolproduksie bly onbeantwoord:
- Die eerste aspek van fynwolproduksie is die feit dat die veseldeursneë in dubbeldoelskape steeds nie baie aandag geniet nie, ongeag die belangrike bydrae wat dié skape tot die Suid-Afrikaanse wolskeersel maak. Die gevolg is dat die huidige status en variasie in veseldeursneë nie goed gedefinieer is nie.
- Die impak van seleksie vir wolfynheid op die vleisgehalte en groeiprestasie van dubbeldoelskape, aangesien dit beskou word as een van die mees ekonomies-belangrike eienskappe van hierdie diere.
- Die vraag bestaan steeds tot watter mate die inkomstepotensiaal van dubbeldoelskape kan groei deur middel van beter wolgehalte, verminderde veseldeursneë en beter vleisgehalte.
Huidige projek

Dr Olivier het in 2022 ’n projek van stapel gestuur om die stelsel waarvolgens ramme geklas word, te bestudeer. Die Dohne Merino-skaaptelersvereniging se riglyne lui dat ’n manlike dier wat as ’n A-ram geklas is, nie meer as ’n stoetram in die kudde gebruik kan word nie. Die enigste klasse wat vir teeldoeleindes in ’n kudde toegelaat kan word, is AA-ramme sowel as A- en AA-ooie.
Dit beteken dat enige ram met uitstekende produksie- en reproduksie-eienskappe (AA-data) wat visueel as ’n A-ram geklas is, slegs in ’n kommersiële kudde gebruik kan word. In die praktyk is die probleem dat te min ramme na afloop van ‘n visuele assessering as AA geklas word om vir prestasiekenmerke te selekteer. In die huidige projek sal die nageslag van AA- en A-vaars (beide AA vir prestasie) geëvalueer word op grond van prestasie-eienskappe en die persentasie nageslag wat elke klassimbool ontvang. Die projek sal ook kyk na die redes vir uitskot asook die wol- en vleisinkomste van die nageslag uit elke vaargroep.
Beide drs Olivier en Snyman hoop dat, sou die Dohne Merino-skaaptelersgenootskap ’n gemeenskaplike teeldoelwit in die oog het, die subjektiewe evaluering van kenmerke verfyn en gestandaardiseer sal word, aangesien beoordelaars tans die grootste invloed op die finale seleksie van teelvaars het.
Genomika-studies

Die Grootfontein Dohne-kudde is ook deel van die sogenaamde parasietweerstandigheidsprojek wat in 2011 begin is. Dit vind plaas in oorleg met ’n produsent naby Stutterheim en fokus op haarwurm wat algemeen in die somerreënvalgebiede voorkom. Die Grootfontein Dohne-kudde is sedert 2014 by dié projek ingesluit.
Die kudde is ook sedert 2010 betrokke by die Grootfontein-biobank waarvan die doel is om bloedmonsters in te samel, en produksie- en reproduksie-eienskappe sowel as stamboekinligting aan te teken. Hierdie hulpbronne is ook beskikbaar om ander navorsingsinstellings met hul genomika-navorsing te help. – Carin Venter, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak GADI by 049 802 6600, dr Willem Olivier by 049 802 6620, of dr Gretha Snyman by 049 802 6608.






