Estimated reading time: 6 minutes

Wyle dr Jasper Coetsee, ’n bekende skaapvoedingkundige, het altyd gesê dat laatdragtigheid die maak-of-breek tyd in ooibestuur is. Dit is egter ook die maak-of-breek tyd wat predasiebestuur betref. As die ooie lam, wil jy nie met ’n roofdierprobleem tydens die lamseisoen sit nie. Begin dus tydens laatdragtigheid reeds die lamkampe vir ongediertes monitor, en tref voorsorg deur gate onder heinings toe te pak. Moet dit nie tot lamtyd uitstel nie, want dan het die ooie jou volle aandag nodig.

Ooivoeding in laatdragtigheid

Ooie verloor maklik kondisie tydens laatdragtigheid omdat ongeveer 70% van die ongebore lam gedurende die laaste ses weke van dragtigheid ontwikkel en die ooi se buik vol lê. Sy het dan minder spasie om voldoende ruvoer in te neem, veral as die gehalte van die ruvoer laag is. Om te verhoed dat laatdragtige ooie kondisie verloor, behoort dié met enkel fetusse 150 tot 250g/dag in massa toe te neem, en ooie met meerlingfetusse 250 tot 350g/dag.

Ooie moet in ’n goeie kondisie lam (3,5 kondisietelling). Evalueer die ooie weekliks in die laaste ses tot agt weke van dragtigheid – sodra die kuddegemiddeld onder ’n kondisietelling van 3 beweeg, moet daar opgetree word. Gee ook vroegtydig aandag aan daardie ooi wat ’n kondisietelling van 2,5 en laer het, anders gaan sy nie haar lam grootmaak nie.

Estradiool, ’n hormoon wat deur die plasenta afgeskei word, berei die ooi se uier vir laktasie voor. Sodra die ooi gelam het, stop die afskeiding van estradiool. Daarom is dit belangrik om uierontwikkeling vóór lamtyd maksimaal te ontgin, deur ’n lek wat ryk aan deurvloeiproteïen is, aan die ooie te voorsien.

Deur bogenoemde toe te pas, kan die skaapboer lewenskragtige lammers van tussen 3,5 en 5,5kg verwag, en ooie se uiers sal ook voldoende ontwikkel wees vir maksimum bies- en melkproduksie. Dit verseker ook die optimale ontwikkeling van wolfollikels vir leeftydwolproduksie.

Lees meer oor lamgroei en vrugbaarheid wat sit in jou bank sit hier.

Inenting en parasietbeheer

In die eerste ses tot twaalf weke van sy lewe, is die lam afhanklik van die teenliggame wat in die ooi se biesmelk voorkom, om hom teen siektes soos bloednier, bloutong, Slenkdalkoors, klostridiale en longsiektes, ensovoorts te beskerm. Daarom is dit belangrik dat ooie die regte inentings op die regte tyd ontvang – vir haar eie immuniteit nie en sodat sy die nodige teenliggame aan haar lammers oordra.

Rondom lamtyd vind ’n verslapping van die ooi se natuurlike weerstand teen rondewurms plaas – die sogenaamde ‘PPRR’ (peri-parturient relaxation of resistance), met erkenning aan dr Faffa Malan. PPRR kom vanaf ’n paar weke vóór tot ’n paar weke ná lamtyd in die ooi voor. Dit is raadsaam om die ooie tydens laatdragtigheid met ’n breë-spektrum wurmmiddel te doseer.

Predasiebestuur

Baie tyd en geld word aan reproduksiebestuur bestee, soos die vrugbaarheid van ramme, paring van ooie en versorging van ooie tydens lamtyd. Voorbereiding van die lamkampe ten opsigte van beskerming teen roofdierbewegings en -getalle, reeds vóór die ooie begin lam, is egter net so belangrik.

Behalwe dat lamkampe voldoende kos en water moet hê, moet verseker word dat die lam-areas en omliggende gebiede vry van die vernaamste roofdiere is. Tydens lamtyd is die lug snags met die reuk van nageboorte en bloed gevul, wat roofdiere lok. Dit is raadsaam om dié areas met jakkalswerende heinings af te sper en/of heinings te elektrifiseer.

Lamkampe kan ook vooraf gemonitor word deur boskameras te gebruik. Installeer die kameras op strategiese plekke in lamkampte, ses weke voordat die ooie begin lam (minstens vier kameras per 1 000ha). Dit is veral belangrik om die waterpunte te monitor. Voorsien elke kamera van ’n aaspunt reg vóór die kamera en versterk die reuk daarvan elke derde dag. Laai die foto’s gereeld af en stel vas watter diere die aaspunte besoek.

Voorbereiding van ramme

Gesonde, fikse, viriele ramme met ’n hoë libido en goeie dekbehendigheid, is nodig vir optimale besetting van die ooie. Prikkelvoeding met hawerpitte of ’n goeie lek, lewer goeie resultate om ramme in ’n goeie kondisie voor paring te kry. Wees egter versigtig vir skoon of sjokolademielies, aangesien dit tot die aansameling van vet om die testes kan lei, wat vrugbaarheid aantas. ’n Hoë-proteïen lek of voer word aanbeveel. Maak ook seker elke ram het genoeg vreetspasie sodat almal gelyktydig kan vreet.

Prikkelvoeding moet vanaf twee tot drie maande voor paring gegee word om testesgroei en spermproduksie te bevorder. Voeding met ’n hoë deurvloeiproteïeninhoud bevorder spiergroei en verhoed oormatige vetaansameling. Aanvulling met minerale en vitamine 75 dae voor paring, sal ’n hoë gehalte en volume semen verseker.

Ramme moet pers tussen die voor- en agterbene vertoon wanneer hulle na die ooie gaan – dit is ’n teken van hoë testosteroonvlakke.

Rambestuurpraktyke vóór paring

Die volgende bestuursaksies moet minstens agt weke voor die aanvang van paartyd afgehandel wees. Hierdie aksies kan tydelike onvrugbaarheid veroorsaak en dit neem minstens agt weke vir semenvolume om te herstel. Lewendige entstowwe, soos teen bloutong en Slenkdalkoors, veroorsaak koors en moet eerder ná die paartyd toegedien word, op die dag wat die ramme uitgehaal word:

  • Vervang ou ramme vroegtydig met jong ramme. Gee voorkeur aan ramme uit vrugbare moederlyne met goeie reproduksiesyfers. Vervang ’n derde van die ramme jaarliks.
  • Toets ramme vir vrugbaarheid en geslagsiektes voor elke paring.
  • Kry die ramme fiks deur hulle twee tot drie maande voor paring, een of twee keer ’n dag minstens 1km te laat stap. Navorsing het getoon dat waar ramme daagliks 3km in 25 minute kon aflê, die lampersentasie 92% was, teenoor die 76% by die ongeoefende ramme.
  • Skeer ramme agt tot tien weke voor paring. Langwol verhoog hittestres, wat libido benadeel.
  • Doen alle nodige inentings, doserings en aanvullings van minerale en vitamine:
  • Teelramme moet vier tot ses weke voor paring teen bloednier ingeënt word.
  • Vermy entstowwe wat ’n koorsreaksie veroorsaak tot ná die paarseisoen.
  • Doseer teen neuswurm (baie aktief vanaf November tot Januarie) vier tot ses weke voor paring.
  • Doseer elke ram weekliks met 20ml koringkiem vir die laaste vier weke voor paring.
  • Voorsien die nodige minerale en vitamines.
  • Knip die ramme se hoewe (indien nodig) sodat hulle sonder moeite kan loop en dek.
  • Kyk uit vir brommeraanvalle. Selfs kleiner aanvalle, so groot soos ’n R5-muntstuk by die basis van die horings, kan ramme tydelik onvrugbaar maak.
  • Maak ramme wat vir kunsmatige inseminasie gebruik gaan word, vroegtydig aan die kunsvagina gewoond.

Bestuurpraktyke tydens paring

Ramme is geweldig aktief gedurende die eerste 24 uur tussen die ooie. Om hitte-uitputting te voorkom, moet die ramme liefs laatmiddag vir die eerste keer tussen die ooie gesit word. Sorg dat voldoende koelte en skoon water deurentyd beskikbaar is.

Groot kampe met meer as een waterpunt kan ’n negatiewe ram:ooi-verhouding tot gevolg hê – maak die trop minstens eenkeer per week bymekaar.

Vergemaklik die lamseisoen deur ooie te sinkroniseer.

Wees versigtig om die helfte van die gebruiksramme vir die eerste 17 dae by die ooie te sit en die ander helfte vir die res van die paarseisoen in te jaag. Ooie wat goed voorberei is, kom in groot getalle tydens die eerste siklus op hitte, en té min ramme sal tot laer besetting lei.

Gebruik merkers om aan te dui watter ooie wanneer gaan lam. Ooie wat gedurende die eerste week gemerk word, sal byvoorbeeld eerste lam. So kan lamtroppe beter geïdentifiseer en bestuur word. – Dr Louis du Pisani, onafhanklike landboukonsultant

Vir meer inligting en bronverwysings, kontak dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.