Sunday, August 14, 2022

Slaan munt uit die voerkraalvoorbereiding van kalwers

Estimated reading time: 7 minutes

Die voorbereiding van kalwers vir die voerkraal (backgrounding in Engels) kan ’n positiewe invloed op hul prestasie in die voerkraal hê, en verskillende stelsels van voerkraalvoorbereiding kan hiervoor ingespan word.

Dr Vlok Ferreira, ’n herkouervoedingspesialis by Molatek by RCL Foods, het tydens verlede jaar se Vleisbeesskool op Aldam ’n praatjie oor verskillende stelsels gelewer en spesifiek na voedingsdoelwitte in hierdie stelsels verwys.

Dryfvere vir backgrounding

In sekere omstandighede sal ’n produsent self sy kalwers vir die voerkraal begin voorberei, voor hy hulle verkoop. In sekere gevalle sal voerkrale ook, wanneer hulle kalwers inkoop, die kalwers eers apart voorberei, voor hulle in die voerkraal opgeneem word. ’n Voorbeeld van sulke omstandighede is wanneer die voerprys besonder hoog en karkaspryse minder hoog is.



“In die voerkraal,” verduidelik dr Ferreira, “vreet kalwers 3% van hul liggaamsmassa, terwyl kalwers wat vooraf op die veld voorberei word, aansienlik minder voer benodig. Gedurende die tradisionele speentyd – April en Mei op die Hoëveld – wanneer kalwers volop en goedkoop is, betaal dit om te wag tot kalwers op die mark skaarser raak, voor jy joune bemark. Dit is die ideale tyd om met die voorbereidingsproses te begin, en dalk ná die winter te verkoop of vir die Desembermark af te rond.”

Nog ’n tyd om kalwers terug te hou is gedurende ’n goeie reënjaar. As die produsent dan sy kalwers speen en hy ’n goeie ruvoerbank op die veld het, is dit ’n goeie opsie om sy kalwers eers terug te hou.

Speenkalwers vir die voerkraal: Berei hulle só voor

“Ek is oortuig dat die waarde van die gewig wat jy wen deur kalwers terug te hou, altyd meer is as die voerkraal se penalisering van swaarder kalwers. Dit bly die moeite werd om swaarder kalwers te verkoop, al is dit teen effens laer pryse.”

’n Ander goeie rede om kalwers terug te hou, sê hy, is om meer opsies in die boerdery te bewerkstellig, veral in terme van kontantvloei, deur nie al jou kalwers op een slag te bemark nie.

Stelsels vir backgrounding

Verskillende voorbereidingstelsels kan na gelang van omstandighede toegepas word. Die eerste, sê dr Ferreira, is om vroeg te speen.

“Die voorvereiste vir vroegspeen is dat jy genoeg goeie gehalte proteïen aan die kalwers kan voorsien, sodat hulle goed uitgroei. Hoewel dit streng gesproke nie backgrounding is nie, word vervangingsverse se kalwers dikwels vroeg gespeen, sodat die verse ordentlik deur die winter kan ontwikkel tot en met hul tweede kalwing.”

In hierdie stelsel word kalwers tussen 160 en 180kg gespeen maar, waarsku dr Ferreira, dit is belangrik om te weet waarom daardie kalf so lig is. “Dit is een ding om vroeg te speen, maar iets heel anders as daardie kalf deel is van die stertkant van die groep wat doodgewoon swak groei.”

Vir kalwers wat vroeg gespeen word, is ’n rantsoen met 18% proteïen nodig, waarvan minstens 25% ’n deurvloeiproteïen is, met 9 tot 9,5MJ/kg energie, sodat die kalf se raam behoorlik kan ontwikkel en hy nie te gou vet raak nie.

’n Tweede stelsel is om kalwers op die normale gewig van 220 tot 230kg in die herfs te speen. Hulle oorwinter dan op mieliereste of staande hooi, met ’n normale proteïenlek as aanvulling. ’n Ander opsie is om kalwers ’n backgrounding-byvoeding deur die winter te gee, teen 1,5% van hul liggaamsmassa. Hulle kan dan ná die winter aan die voerkraal verkoop word, of self vir die Desembermark afgerond word. Die groeiteiken in hierdie stelsel is tussen 650g en 1,2kg/dag.

“As jy jou herfskalwers op hierdie manier deur die somer neem, terwyl die veld proteïen- en energieryke weiding verskaf, hoef jy slegs 0,75% van liggaamsmassa in die vorm van lek te voer, wat dit die helfte goedkoper as in die winter maak. As jy egter ’n winterdekgewas het, geld dieselfde riglyn as in die somer.”

Die derde stelsel is om kalwers op ’n onderhoudsproteïenlek te oorwinter. In so ’n stelsel behoort die kalwers in die loop van die winter steeds sowat 30kg gewig op te tel, hoewel dit hoofsaaklik raamgroei is en dit mag lyk of hulle eintlik skraler word. Indien die produsent egter voldoende somerveld het, sal sterk kompensatoriese groei plaasvind.

“Hou hulle vir die eerste helfte van die somer op die veld met ’n fosfaatlekaanvulling,” sê dr Ferreira. “Sit hulle dan in die tweede helfte van die somer, wanneer veldgehalte begin afneem, op ’n backgrounding-rantsoen met ’n 18% proteïeninhoud en 9 tot 9,5MJ energie. Aan die einde van die somer verkoop jy die kalwers dan direk aan die abattoir.”

Dit is natuurlik nie nodig om net aan voerkraalvoorbereiding te dink nie, sê hy. Vervangingsverse en bulletjies wat vir teling grootgemaak word, kan baie doeltreffend met ’n backgrounding-rantsoen op weiding grootgemaak word.

Inkoop van kalwers

Indien produsente kalwers inkoop, is dit belangrik om die regte tipe dier te koop, sê dr Ferreira. Verskalwers groei byvoorbeeld tussen 5 en 10% stadiger as oskalwers. Hulle is ook minder doeltreffende voeromsetters. Op dieselfde ouderdom sal verskalwers tussen 15 en 20kg minder as hulle manlike eweknieë weeg.

Dit is raadsaam om ’n verhouding met ’n betroubare voorsiener van goeie gehalte kalwers, wat in jou stelsel pas, op te bou. Hy waarsku egter dat kalwers van melkrasse soos Holsteins glad nie in ’n backgrounding-stelsel pas nie, omdat hulle eenvoudig te veel proteïen en energie benodig om te groei. Indien ’n vroeg- tot mediumryp vleisbul egter op melkkoeie gebruik word, is daardie kalwers al ’n heelwat beter proposisie vir backgrounding, sê hy.

“Vroegryp-tipe rasse leen hulle uitstekend tot backgrounding, deurdat jy hulle vir relatief lank kan background voor jy hulle vir ’n kort tydperk in die voerkraal afrond. Die uitdaging met laatryp-tipe rasse is dat hul voedingsbehoeftes só hoog is – beide vir onderhoud en groei – dat raamgroei moeilik is om te bewerkstellig. Dit is meer doeltreffend om hulle direk in die voerkraal op te neem.”

Voordele van backgrounding

Om kalwers vir die voerkraal voor te berei, bied verskeie voordele. Die eerste is dat die kalf lank voor hy in die voerkraal opgeneem word, reeds geleer het om uit ’n voerkrip te vreet. Daarmee saam word die kalwers deeglik teen algemene siektes geïmmuniseer, en omdat hulle gesondheids- en voedingstatus optimaal is, ervaar hulle heelwat minder spanning in die voerkraal en presteer dus na hul volle potensiaal.

Ter illustrasie sê dr Ferreira dat 3,4% van alle kalwers wat in die voerkraal siek word, op die ou end vrek. Die gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) van ’n kalf wat siek was, maar reggekom het, is 6% minder, en die koste van sy gewigstoename 10% meer as dié van gesonde kalwers, wat die netto opbrengs uit daardie kalf gewoonlik in die negatiewe syfers druk.

“Kalwers wat twee keer behandel is, lewer 12,5% donker snitte (sogenaamde dark cutters), terwyl kalwers wat een keer behandel is, 4% donker snitte gee. Die normale voorkoms van donker snitte in gesonde kalwers is minder as 1,5%.”

Wanneer die prestasie van goed-voorbereide voerkraalkalwers met dié van ’n kontrolegroep wat nie voorberei is nie, vergelyk word, sê hy, kom die werklike waarde van voerkraalvoorbereiding duidelik na vore.

“Morbiditeit neem met 23% af en mortaliteit met 7%. Verder is die voerkoste in ’n backgrounding-stelsel ongeveer 50% van die totale koste, terwyl dit in ’n voerkraal by sowat 80% draai. Dit is dus relatief goedkoop om kalwers deeglik voor te berei, sodat hulle optimaal in die voerkraal kan presteer.”

Daar is baie riglyne rondom die gehalte en tipe weiding, en die uitwerking daarvan op GDT. Iets wat egter dikwels misgekyk word, is die effek wat die dalende gehalte van somerweiding aan die einde van die seisoen op GDT het.

“ ’n Verlaging van 10% in die verteerbaarheid van veld in die laatsomer, kan tot ’n 400g vermindering in GDT veroorsaak. Hou verder in gedagte dat dit nie net die weidingsgehalte is wat afneem nie, maar ook die innames.”

Backgrounding in droogtetye

Ter afsluiting verwys dr Ferreira na die waarde van backgrounding-beginsels in droogtetye. “Die waarde daarvan om kalwers in droogtetye vroeg te kan speen, sonder om groei en ontwikkeling in te boet, moet nie misgekyk word nie.

“In gebiede met ’n droë laatsomer, hou vroegspeen nie net voordele in vir die koei gedurende daardie eerste winter nie, maar die uitwerking daarvan kan selfs ’n jaar later nog aan dragtigheidskoerse gesien word.

Backgrounding is ekonomies as jy in gedagte hou dat ’n vroeggespeende koei makliker deur die winter kom, en sy haar liggaamskondisie genoegsaam kan verbeter dat sy maklik in die daaropvolgende dekseisoen weer dragtig raak.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Vlok Ferreira by vlok.ferreira@rclfoods.com.

Related Posts

Weeklikse plaashek-rooivleispryse / Weekly farm gate red meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Die jongste vleispryse word...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Hydroponic feed for intensive sheep production

Academics around the world tend to reject hydroponic feed...

Ivermektien: Veilig vir dier én mens?

Estimated reading time: 4 minutes Die potensiaal van ivermektien...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...