Uiergesondheid in ’n ooikudde

Estimated reading time: 5 minutes

  • Die uier is ‘n belangrike komponent van vroulike produksiediere en dit is belangrik om te let op behoorlike uierontwikkeling vir goeie melkproduksie en die voorkoms van abnormaliteite wat melkproduksie kan belemmer.
  • Die hormoon estradiool word ter voorbereiding van melkklierontwikkeling deur die plasenta afgeskei. Dit bepaal die ontwikkeling van ‘n ooi se uier gedurende laatdragtigheid en haar melkproduksiekapasiteit.
  • Die uiteindelike grootte van die plasenta of nageboorte bepaal grootliks die geboortemassa van die lammers en word as een van die belangrikste faktore vir lamoorlewing beskou.
  • Om sterk en lewenskragtige lammers met ‘n gewenste geboortemassa van 3,5 tot 5,5kg asook voldoende melkproduksie te verseker, moet voeding in die eerste drie maande van dragtigheid ooie minstens hul massas laat handhaaf vir maksimum plasentagroei.
  • Mastitis word grotendeels deur Pasteurella, en soms ook E. coli en Staphylococcus aureus veroorsaak. Die organismes kan lei tot infeksies wat absesse binne of op die uier kan veroorsaak.

Die uier is ‘n belangrike komponent van vroulike produksiediere en dit is belangrik om te let op behoorlike uierontwikkeling vir goeie melkproduksie en die voorkoms van abnormaliteite wat melkproduksie kan belemmer.

Bom Louw is ‘n voormalige produksie-adviseur by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en ‘n kundige op die gebied van ooigesondheid. Die plasenta, sê hy, speel ‘n groot rol in melkproduksie. “Die hormoon estradiool word ter voorbereiding van melkklierontwikkeling deur die plasenta afgeskei. Dit bepaal die ontwikkeling van ‘n ooi se uier gedurende laatdragtigheid en haar melkproduksiekapasiteit.

“Die belangrikste stadium van plasentagroei vind tussen dag 30 en 90 van dragtigheid plaas. Daarom is dit belangrik om te verstaan dat die negatiewe effek van swak voeding op die ontwikkeling van die plasenta tydens middragtigheid, nie omkeerbaar is nie.”

Lees meer oor die waarde van goeie bestuurspraktykte op ‘n veeplaas.

Rol van die plasenta

Die uiteindelike grootte van die plasenta of nageboorte bepaal grootliks die geboortemassa van die lammers en word as een van die belangrikste faktore vir lamoorlewing beskou. Dit hou verband met die onvermoë van lammers wat minder as 2,5 tot 3kg by geboorte weeg, om genoeg melk te drink. Maksimale lammeroorlewing is aangeteken waar die geboortemassa tussen 3,5 en 5,5kg is, terwyl lamvrektes met tot 15% kan toeneem wanneer die geboortemassa laer as 3,5kg of hoër as 5,5kg is.

Onvoldoende plasenta-ontwikkeling gedurende middragtigheid (tweede en derde maand van dragtigheid) gee aanleiding tot ‘n toename in fetale vrektes, lae geboortemassas, swak lewensvatbaarheid by geboorte, ‘n afname in die lam se energiereserwes, swak moedereienskappe, laer melkproduksie en ‘n toename in lammortaliteit

‘n Hoë voedingspeil gedurende laatdragtigheid kan nooit behoorlik kompenseer vir swak plasenta-ontwikkeling gedurende middragtigheid nie. Die grootte van die plasenta word deur ‘n paar belangrike faktore beïnvloed: voeding, temperatuur, die aantal fetusse in die baarmoeder, ooi-ouderdom, en die kondisie en liggaamsmassa van die ooi.

Ondervoeding van dragtige ooie lei gewoonlik tot heelwat klein enkelinge by geboorte, ooie wat onwillig is om hul lammers te laat suip, of wat traag is om melk vry te stel. Om sterk en lewenskragtige lammers met ‘n gewenste geboortemassa van 3,5 tot 5,5kg asook voldoende melkproduksie te verseker, moet voeding in die eerste drie maande van dragtigheid ooie minstens hul massas laat handhaaf vir maksimum plasentagroei.

‘n Afname van tot 25% in melkproduksie is al waargeneem by ooie wat voor dag 100 van dragtigheid ondervoed was, al het hulle goeie voeding gedurende die laaste ses weke van dragtigheid ontvang.

“Onvoldoende plasenta-ontwikkeling kan veroorsaak dat meer ooie hul lammers weggooi, wat ‘n groot invloed op lamvrektes en speenpersentasie het.” Meer aandag moet tydens middragtigheid aan skraal, en veral jong vervangingsooitjies gegee word. Hulle verkeer nog in ‘n laat stadium van groei en moet verkieslik in ‘n aparte kamp met beter weiding of ekstra lekaanvulling gehou word.

Leer hoe om snotsiekte onder jou kudde te bekamp.

Produksiestelselprobleme

Dr Johan van Rooyen van die Steynsburg-dierehospitaal sê die gebruik van ureum, klawerweiding en sinkronisering (spons en dragtige-merrieserum) het selfs ‘n groter uitwerking op plasenta- en lamontwikkeling as ondervoeding. Die effek daarvan is ook vroeër waarneembaar as wat algemeen aanvaar word.

“Ek skandeer 50 000 tot 60 000 ooie per jaar en vind dat die onderontwikkeling van die plasenta reeds op dag 60 van dragtigheid merkbaar is. Ons vermoed dat mikotoksiene ‘n baie groot rol daarin speel. Waar ons ureum, klawer, sinkronisasie en mikotoksiene uit die produksiestelsel haal, verbeter lamoorlewing en veral die probleem van uitsaklamsindroom (ill-thrift) en gebrekkige immuniteit.”

Toestande wat die uier belemmer

Mastitis word grotendeels deur Pasteurella, en soms ook E. coli en Staphylococcus aureus veroorsaak. Die organismes kan lei tot infeksies wat absesse binne of op die uier kan veroorsaak. Nog gevolge is uierverharding, septisemie of bloedvergiftiging wat in mastitis kan omsit, en gangreneuse mastitis of blou-uier.

Absesse vorm vir verskeie redes:

  • ‘n Ooi kan gedurende ‘n droëtydperk mastitis ontwikkel weens die Pasteurella-bakterie. Dit kan lei tot die ontwikkeling van ‘n abses wat deur Trueperella (voorheen Corynebacterium) veroorsaak word.
  • Kaasagtige klierverswering (Corynebacterium ovis) wat absesse kan veroorsaak.
  • Bosluisbyte en ‘n wond veroorsaak deur byvoorbeeld ’n skerp voorwerp soos grassade of draad.
  • Tydens ‘n droëtydperk kan absesse binne-in die speenkanaal van die uier vorm, wat veroorsaak dat die speen afsluit en melkproduksie gestaak word.
  • Ander oorsake van ‘n geswolle uier kan dui op jaagsiekte, breuke, of kanker (adenoom).

Mastitis kan voorkom word met ‘n multi-antigeenentstof vir laatdragtige ooie, maar dit is nie noodwendig 100% doeltreffend nie. Goeie omgewingshigiëne, veral by lamhokke, en biosekuriteitsmaatreëls is belangrik. Akute mastitis kan ook behandel word met antibiotika, anti-inflammatoriese middels en kortisoon.

Lees oor die skandering van ooie.

Behandeling van ‘n abses kan ‘n ooi se uier beskadig en dr Van Rooyen beveel aan dat so ‘n ooi geprul word as die ander helfte van haar uier nie funksioneer nie. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Bom Louw by 082 652 2243 of bomlouw53@gmail.com, of dr Johan van Rooyen by 082 463 3087 of veearts.sdh@nokwi.co.za.

Popular stories