Snotsiekte: ’n Taai tameletjie

Share This Post

Estimated reading time: 5 minutes

  • Snotsiekte is ’n dodelike virussiekte wat deur wildebeeste na beeste oorgedra word.
  • Beide soorte wildebeeste kan die virus wat snotsiekte by beeste veroorsaak dra. Blouwildebeeste is egter die grootste verspreiders van die siekte, bloot omdat daar beduidend meer blou- as swartwildebeeste is.
  • Die virus kan tot ’n kilometer ver deur die lug gedra word, wat beteken dat besmetting teoreties kan plaasvind wanneer ’n vragmotor wat wildebeeste vervoer, by ’n trop beeste verby ry.
  • Besmette beeste dra normaalweg nie die virus na ander beeste oor nie, maar dragtige koeie kan hul kalwers besmet. Sulke kalwers vrek gewoonlik voor hulle ses weke oud is.
  • Aanvanklik het besmette diere ’n waterige oog- en neusafskeiding wat gou in groot hoeveelhede etterige afskeidings verander. Die neusoppervlakte word droog, seertjies ontwikkel en die etterige afskeiding uit die neus vorm ’n harde kors wat aan die neusgate vasklou.

Duisende beeste in Suid-Afrika vrek jaarliks aan snotsiekte. Dit is ’n dodelike virussiekte wat deur wildebeeste na beeste oorgedra word. ’n Kenmerk van dié siekte is ’n etterige neus- en oogafskeiding wat deur ‘n herpesvirus veroorsaak word.

Beide soorte wildebeeste kan die virus wat snotsiekte by beeste veroorsaak dra. Blouwildebeeste is egter die grootste verspreiders van die siekte, bloot omdat daar beduidend meer blou- as swartwildebeeste is.

Dit is veral wanneer wildebeeste stres ervaar, dat groot getalle van die virus vrygestel word. Wanneer wildebeeste kalf of gevang en vervoer word, bou virusgetalle in die wildebeeste op, word deur hulle asemhalingskanale vrygestel en kwesbare beeste word besmet. Tot nou toe is daar nog nie gevalle bekend van ander wildspesies wat die siekte opgedoen het nie.

Die opbou van slym in beeste se asemhalingskanaal veroorsaak moeilike asemhaling en hulle versmoor uiteindelik aan hul eie slym. Dit kan selfs longontsteking veroorsaak.

Lees meer oor snotsiekte.

Verspreiding van die virus

Die virus kan tot ’n kilometer ver deur die lug gedra word, wat beteken dat besmetting teoreties kan plaasvind wanneer ’n vragmotor wat wildebeeste vervoer, by ’n trop beeste verby ry. Dr Kobus Grobler, ’n veearts van Bergbos Dierekliniek op Rustenburg, sê normaalweg word min diere in ’n trop siek, maar dit is in feitlik alle gevalle noodlottig.

Wildebeeskalwers van twee tot drie maande oud skei groot hoeveelhede van die virus in hul neus- en oogafskeidings uit; dit is in hierdie tydperk wat produsente met wildebeeste in hul omgewing, kan verwag dat van hulle beeste siek kan word.

Besmette beeste dra normaalweg nie die virus na ander beeste oor nie, maar dragtige koeie kan hul kalwers besmet. Sulke kalwers vrek gewoonlik voor hulle ses weke oud is.

Kliniese simptome

Die eerste simptome van die siekte raak gewoonlik van twee tot vier weke ná kontak met die virus sigbaar. Diere kan egter tot sewe maande nadat hulle met die virus in aanraking was, siek word.

Aanvanklik het besmette diere ’n waterige oog- en neusafskeiding wat gou in groot hoeveelhede etterige afskeidings verander. Die neusoppervlakte word droog, seertjies ontwikkel en die etterige afskeiding uit die neus vorm ’n harde kors wat aan die neusgate vasklou.

Besmette diere haal dikwels deur hul bekke asem, omdat die slym hulle neusgate verstop. Die slymvlies in die bek is rooi met seertjies aan die binnekant van die lippe, op die tandvleis, aan die verhemelte en aan die onderkant van die tong.

Die bindvlies van die oë is baie rooi en ontsteek, en die horingvlies is dof. Die ontsteking van die horingvlies ontwikkel van buite na binne.

In sommige gevalle kan die besmette diere bloederige diarree hê, die vel tussen die kloue ontsteek, limfknope vergroot en senuweesimptome kom voor. In terminale gevalle kan hipergevoeligheid, spier- en oogtrillings, en stuiptrekkings voorkom.

Tekens tydens nadoodse ondersoek

Tydens ’n nadoodse ondersoek is daar baie etter in die neusholtes en soms ook afsterwing van die weefsels in die neusholtes. Daar is seertjies aan die slymvlies in die bek, slukderm, grootpens en soms ook in die dun- en dikderm. Puntbloedings is in die lugpyp sigbaar en soms is daar ook tekens van longontsteking. Die lewer is dikwels vergroot en as dit oopgesny word, is daar talle ligte kolle. Die limfknope is vergroot, baie rooi en waterig.

Daar is soms ook seertjies aan die wand van die blaas en die niere kan geswel wees met verskeie wit spikkels daarin. Soms is daar groot areas waar bloeding voorgekom het en dele waarvan die bloedtoevoer in die nierweefsel afgesluit is. Dit is veral sigbaar as die nier deurgesny is. Die breinvlies kan ook baie rooi wees, wat dui op breinvliesontsteking.

Bevestig met ontledings

Om snotsiekte bo alle twyfel te diagnoseer, kan die virus in die bloed opgespoor word deur dit te kweek of dit kan ook met moderne DNS-toetse bevestig word.

Dit is verkieslik dat bloed in ‘n EDTA-buis (met die pers doppie) getrek word voor die dier vrek. Die bloed moet dan op ys gehou en so gou as moontlik na ’n laboratorium gestuur word. Die weefsel van dooie diere, veral die brein, limfknope, milt en oë, kan ook in formalien geplaas en na ’n laboratorium gestuur word vir ontleding.

Daar is nog nie ’n entstof teen snotsiekte in Suid-Afrika beskikbaar nie. Daar is ’n wel ’n lisensie-ooreenkoms tussen Onderstepoort Biologiese Produkte en die Moredun-navorsingsinstituut in Skotland onderteken om hul entstof verder in Suid-Afrika te ontwikkel, registreer en vervaardig. Dit is egter nog nie kommersieel beskikbaar nie.

Dr Grobler sê die beste manier vir ’n produsent om die siekte uit sy beeskudde te probeer hou, is om die diere van wildebeeste af weg te hou, veral wanneer hulle kalf of daar met die wildebeeste gewerk word wat hulle aan stres onderwerp.

Beeste moet minstens 500m, maar verkieslik 1 000m, van die wildebeeste af weggehou word. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Kobus Grobler per epos by kobus@bergbosvet.co.za.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 23 of 2024

The weekly pork carcass prices are brought to you...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...