Estimated reading time: 4 minutes
- Wanneer diere aan ‘n plaasbewoner behoort of waarna ‘n plaasbewoner omsien, sonder toestemming van die grondeienaars waarop die diere is, kan die diere na die skut geneem word.
- Voordat die dier egter geskut word, moet die eienaar of persoon in beheer van die grond die plaasbewoner minstens 72 uur skriftelik kennis gee van sy/haar voorneme om die dier te laat skut.
- ’n Kennisgewing aan ’n plaasbewoner ingevolge Artikel 7(1) van die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, Wet 62 van 1997 (ESTA), moet skriftelik wees.
- Die skut van vee ingevolge Artikel 7 van die ESTA kan egter risiko’s vir grondeienaars inhou.
- Hoewel Artikel 7 van die ESTA dus vir grondeienaars of persone in beheer ’n remedie bied vir diere wat grond sonder toestemming betree, is dit belangrik om jouself te vergewis van die omvang en geskiedenis van die plaasbewoner se reg om vee aan te hou.
Artikel 7 van die Wet op Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, Wet 62 van 1997, of ESTA, handel oor die regte en pligte van grondeienaars. In kort kom dit daarop neer dat, indien ’n dier wat aan ’n plaasbewoner behoort of waarna ’n plaasbewoner omsien, sonder toestemming gevind word op grond wat aan iemand anders behoort, kan dit na die skut geneem word. Voordat die dier egter geskut word, moet die eienaar of persoon in beheer van die grond die plaasbewoner minstens 72 uur skriftelik kennis gee van sy/haar voorneme om die dier te laat skut. Gedurende die kennistydperk kan die plaasbewoner die dier gaan haal waar dit gehou word.
’n Kennisgewing aan ’n plaasbewoner ingevolge Artikel 7(1) van die ESTA moet skriftelik wees en moet op Vorm C voltooi word of moet wesenlik aan Vorm C in die bylaag tot die wet voldoen. So ’n kennisgewing moet ten minste die volgende aantoon:
- Die identiteit en besonderhede van die eienaar en/of persoon in beheer van die plaas wie die kennisgewing aan die plaasbewoner gee.
- ’n Volledige beskrywing en die aantal diere wat oortree.
- Die presiese (onbetwiste) beskrywing van die gedeelte van die plaas wat oortree word.
- Die datum waarop die okkupeerder se diere die plaas betree het.
- Die beskrywing van die huidige ligging waar die diere gehou word ten einde te verhoed dat die diere die plaasgrond beskadig.
- ’n Versoek dat die okkupeerder die diere binne ’n sekere tydperk (mag nie minder as 72 uur wees nie) moet gaan haal.
- ’n Waarskuwing dat indien die okkupeerder nie die diere binne voorgeskrewe tydperk na ontvangs van die kennisgewing gaan haal nie, die diere ooreenkomstig die toepaslike skutordonnansies of regulasies geskut sal word en die plaasbewoner vir die koste van die skut van die vee verantwoordelik sal wees.
- ’n Kennisgewing dat indien die plaasbewoner enige verdere inligting verlang, hy/sy ’n prokureur, ’n nie-regeringsorganisasie of die Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming moet kontak.
Lees meer oor die grondeienaars se regte rakende veiligheid op plase.
Bestaande risiko’s
Die skut van vee ingevolge Artikel 7 van die ESTA kan egter risiko’s vir grondeienaars inhou, veral gesien in die lig van die uitspraak in Moladora Trust vs Mareki en Andere (LCC 70/2022) ZALCC 32 waaroor ons in ’n vorige artikel geskryf het. Die Grondeisehof het op verskeie gronde op 6 Februarie 2023 verlof toegestaan dat teen die uitspraak geappèlleer mag word. Die reg om vee aan te hou, wat nié beskryf hoe die reg beperk moet word nie, kan beteken dat plaasbewoners se diere die hele plaas bewei en eienaars van hul plase ontneem, dat daar ’n dispuut is rondom die ooreengekome weidingskamp, en dat plaasbewoners beweer dat vorige eienaars hulle toegelaat het om die hele plaas te bewei.
Die Grondeisehof het onlangs in die saak van Simelane vs De Villiers NO en Andere (LCC 133/2022) [2022] ZALCC 33 (28 November 2022) bevind dat die plaaseienaar nie aan die bepalings van Artikel 7 voldoen het nie en dat die skut van die okkupeerder se vee onregmatig was. In hierdie saak is ’n kennisgewing ingevolge Artikel 7(1) op die plaasbewoner beteken, waarin die bewoner onder andere aangesê is om die diere binne 72 uur na ontvangs van die kennisgewing en na betaling van ‘n bedrag van R10 988 te verwyder. Die bedrag is aangedui as die koste wat deur die persoon in beheer aangegaan is om die betrokke beeste van 7 tot 15 Julie 2022 te voer.
Die hof het bevind dat die kennisgewing beide geëis het dat die beeste binne 72 uur verwyder word en terselfdertyd ’n retensiereg uitgeoefen het. Volgens die hof kan daardie regsprosesse nie gelyktydig ontstaan nie, aangesien dit inherent in konflik is. Toe betaling as voorvereiste vir die vrylating van die beeste geëis is, het dit die doel van die kennisgewing verontagsaam.
Maak seker!
Hoewel Artikel 7 van die ESTA dus vir grondeienaars of persone in beheer ’n remedie bied vir diere wat grond sonder toestemming betree, is dit belangrik om jouself te vergewis van die omvang en geskiedenis van die plaasbewoner se reg om vee aan te hou. Indien ’n Artikel 7-kennisgewing dan aan die plaasbewoner gegee word, maak seker dat die kennisgewing aan die voorskrifte van die ESTA en die regulasies voldoen. – Clarissa Pienaar, Moolman & Pienaar Ingelyf
Vir meer inligting, kontak Clarissa Pienaar by 033 032 0421 of epos clarissap@mmlaw.co.za.