Die Noordwes-varkstudiegroep dien sy doel

Estimated reading time: 4 minutes

Die Noordwes-varkstudiegroep, is een van die min oorblywende groepe van sy soort in Suid-Afrika en gaan steeds van krag tot krag. Dié studiegroep vier vanjaar sy 46ste bestaansjaar en beur al vir dekades lank moedig voort om produsente toe te rus met nuwe, akkurate, en toepaslike bedryfsverwante inligting.

Rolspelers van die Noordwes-varkstudiegroep se komitee is; dr Pieter Grimbeek (voormalige voorsitter), CP Kriek (voormalige ondervoorsitter), Fred Bechaz (voorsitter) en Charlie Fourie (ondervoorsitter).
Rolspelers van die Noordwes-varkstudiegroep se komitee is dr Pieter Grimbeek (voormalige voorsitter), CP Kriek (voormalige ondervoorsitter), Fred Bechaz (voorsitter) en Charlie Fourie (ondervoorsitter).

’n Waardevolle samekoms

Lede van dié studiegroep, kenners en ander belanghebbendes in die varkbedryf, was onlangs in Potchefstroom byeen vir ’n inligtingsdag waarop nuwe komiteelede ook aangewys is. Erkenning is tydens die geleentheid aan een van die bedryf se voorste kundiges en staatmakers, dr Pieter Grimbeek, gegee wat die tuig na tien jaar as voorsitter van die studiegroep neergelê het.

Fred Bechaz, ’n voedingskundige by Agri FARMACY SA, neem die leisels by hom oor, terwyl Charlie Fourie, ’n produsent van GTG Fourie Piggeries in Potchefstroom, as die nuwe ondervoorsitter aangewys is. Fourie is in die plek van CP Kriek van die Taaibosch-varkboerdery naby Fochville in Gauteng verkies. Deon Kleynhans en sy vrou, Corné, behou hul posisies as onderskeidelik finansiële bestuurder en administratiewe- en bemarkingsbeampte.

Dr Grimbeek, wat al vir meer as 40 jaar ’n dieregesondheidskonsultant is, sê hy gaan steeds by die studiegroep betrokke wees, maar ’n nuwe generasie leiers moet ’n kans gegun word om ’n impak te maak. Dr Johnny van der Merwe, ’n landbou-ekonoom en besturende direkteur van die AMT Groep, was die gasspreker. Hy het oor marktendense gepraat. Verskeie borge, onder andere Ahrhoff, Chemunique en Hipra het ook spreekbeurte gekry.

Lees meer oor die bestuur van ‘n intensiewe varkproduksie.

’n Stewige grondslag

Die Noordwes-varkstudiegroep is op 22 Augustus 1977 in Klerksdorp deur ’n groep ywerige varkvleisprodusente gestig om hoofsaaklik inligting rakende die bedryf met mekaar te deel. Dr Grimbeek, wat ook die eienaar van Agri FARMACY in Potchefstroom is, vertel dat die meeste van daardie produsente intussen oorlede is, met uitsondering van twee stigterslede, dr Tom Spencer en Dries Kotzѐ van Ratzegaai Boerdery, wat albei steeds erelede van die studiegroep is.

“Produsente het destyds R1 per maand ledegeld betaal en die groep kon slegs 24 lede hê.” Vandag staan die studiegroep steeds sterk en bestaan hoofsaaklik uit produsente van Noordwes, die Vrystaat en Gauteng. Hulle vergader twee maal per jaar. Produsente van ander provinsies woon ook van die inligtingsdae by en by vanjaar se geleentheid was daar meer as 140 mense teenwoordig.

Dr Grimbeek het in 1982 by die studiegroep aangesluit en glo die groep slaag volkome in sy doel om die nuutste bedryfs- en markverwante inligting aan sy lede te verskaf sodat hulle meer volhoubaar kan boer. 

Corné Kleynhans, administratiewe en bemarkingsbeampte van die Noordwes-varkstudiegroep en dr Johnny van der Merwe, ’n landbou-ekonoom van die AMT Groep.
Corné Kleynhans, administratiewe en bemarkingsbeampte van die Noordwes-varkstudiegroep en dr Johnny van der Merwe, ’n landbou-ekonoom van die AMT Groep.

’n Herlewing in die bedryf

Dr Grimbeek is self ook ’n varkprodusent en meen dat hoewel die produsenteprys nog laag is, sien marktoestande nou ietwat beter daarna uit as wat die geval in Februarie vanjaar was. Daar is ’n herlewing in die bedryf nadat produsente vir meer as drie jaar swaar getrek het weens taai ekonomiese toestande en onvoorsiene faktore soos die impak van Rusland se inval van Oekraïne.

“Ek glo dit gaan beter in die bedryf, maar dit is hartseer dat ons goeie produsente in die proses verloor het. Hulle het dit nie finansieel gemaak nie, omdat produsentepryse laag was weens oorproduksie, terwyl insetkoste hoog was.” Varkprodusente en alle intensiewe vleisprodusente het ’n opdraande stryd gevoer en moes hoë kommoditeitspryse trotseer om winsgewend te wees. Volgens hom is dieregesondheid ook ’n reuse-uitdaging met Afrika-varkpes wat onlangs endemies tot Suid-Afrika verklaar is. Biosekuriteit is daarom nou meer as ooit vantevore van belang.

Beter vooruitsigte

Dr Johnny van der Merwe het ’n positiewe prentjie vir die bedryf geskets. Hy meen plaaslike varkvleispryse kan in die korter termyn ietwat opwaarts beweeg, terwyl hierdie opwaartse tendens vir die res van die jaar kan voorkom. “Die uitwerking van die situasie in China in terme van hul bestaande aanvraag na varkvleis kan ’n addisionele hupstoot aan plaaslike varkvleispryse gee.”

Hy sê produsente kan hul regmaak vir pryse wat tussen R36/kg en R37/kg kan wissel. Dit mag ietwat laer wees as verlede jaar se top pryse. Varkvleis se gewildheid hou aan onder verbruikers groei. Daarteenoor kan veevoerpryse in die nabye toekoms sywaarts of ietwat afwaarts beweeg, maar nader aan die einde van die jaar weer toeneem. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Onbetaalde skorsing as ‘n alternatief tot ontslag

Estimated reading time: 4 minutes Die Wet op Arbeidsverhoudinge,1995 (Wet 66 van 1995) (die...

’n Beplanningskalender vir herkouerprodusente

Estimated reading time: 8 minutes Veeplaas het by finansiële kenners gaan aanklop om uit...

Regverdige en billike vergoeding vir grond

Estimated reading time: 5 minutes Artikel 25(2) van die Grondwet van die Republiek van...

Predators and problem animals on South African livestock farms

Estimated reading time: 6 minutes Livestock producers face many challenges, such as predator-related losses....