Estimated reading time: 4 minutes
Fetale ontwikkelingsprogrammering is ’n fisiologiese verskynsel wat voorkom wanneer faktore soos gesondheid, liggaamskondisietelling en omgewingsveranderlikes soos voeding en klimaatsverandering tydens dragtigheid, fetus-ontwikkeling in so ’n mate beïnvloed dat postnatale groei, metabolisme, immuniteit en vrugbaarheid as gevolg daarvan verander word.
Hierdie artikel fokus op die uitwerking van voedingstekorte in die dieet van dragtige koeie op fetale ontwikkelingsprogrammering. Resensies deur Vautier & Cadaret (2022), en Wathes (2022), bied insig oor hoe makro- en mikrovoedingstofbeperkings, wat deur ’n omgewingsversteuring soos ’n droogte veroorsaak word, fetusontwikkeling kan beïnvloed.
Orgaan-ontwikkeling
Hulle verduidelik dat onvoldoende voorsiening of beskikbaarheid van noodsaaklike makro- en mikrovoedingstowwe aan die moeder tydens piekontwikkeling van die plasenta, plasentagroei kan stuit. ’n Onderontwikkelde plasenta lei tot minder voedingstof- en suurstoftoevoer na die fetus. Beperkte voedingstof- en suurstofvoorsiening tydens die verskillende stadiums van fetusontwikkeling kan op sy beurt orgaanontwikkeling (eierstokke, lewer, pankreas, longe, milt) negatief beïnvloed.
As die plasenta normaal ontwikkel, kan makro- en mikrovoedingstofbeperkings na die moeder (in geval van ’n droogte) ook swak orgaanontwikkeling by die fetus veroorsaak, afhangend van die stadium van dragtigheid waarop sulke beperkings minder as optimaal is. Ontwikkeling van die fetus gebeur in fases gedurende die drie trimesters en benodig dus verskillende makro- en mikrovoedingstowwe.
Vroeë embrio-ontwikkeling en plasentavorming vind in die eerste trimester (nul tot drie maande) plaas; daar is geen spesifieke voedingsbehoeftes gedurende hierdie trimester nie. Inwendige organe ontwikkel saam met beengroei in die tweede trimester (drie tot ses maande), en meer mikrovoedingstowwe word spesifiek hiervoor benodig.
Tempo van fetusgroei
Die derde trimester (ses tot nege maande) word deur baie vinnige gewigstoename en fetusgroei gekenmerk; baie meer energie en proteïen word tydens hierdie trimester benodig. Tabel 1 verskaf ’n opsomming van die makro- en mikrovoedingstofbehoeftes tydens die drie trimesters.
Die gevolge van swak orgaanontwikkeling as gevolg van mikrovoedingstofbeperkings sal tot veranderde metabolisme en groei van die fetus lei, wat verdere beperkings op die kalf se produksie- en reproduksievermoë plaas.
Tabel 1: Opsomming van makro- en mikrovoedingstofbehoeftes gedurende dragtigheid.
| Trimester | Makro- en mikrovoedingstofbehoeftes |
| 1 (0-3 maande) Fokus: Vestiging van dragtigheid en vroeë embrio-ontwikkeling. |
|
| 2 (3-6 maande) Fokus: Fetusgroei en -ontwikkeling. |
|
| 3 (6-9 maande) Fokus: Vinnige fetusgroei. |
|
Navorsing dui daarop dat ‘transaksionele’ ontwikkeling by fetusse kan plaasvind tydens ernstige makro- en mikrovoedingstofbeperkings (Vautier & Cadaret, 2022). Dit kom daarop neer dat makro- en mikrovoedingstofverdeling soos ’n uitruiltransaksie werk, waar noodsaaklike organe se ontwikkeling prysgegee word om die fetus ’n beter kans op oorlewing te gee.
Die gevolge hiervan sal wees dat, hoewel fetusontwikkeling plaasgevind het, dit ten koste was van die ontwikkeling van die organe wat noodsaaklik is vir optimale postnatale metabolisme en immuniteit. Dit sal tot laer vrugbaarheid lei met verse wat sal sukkel om dragtig te raak, tensy hulle in ’n baie hoë kondisiepeil is. Dit is egter onwaarskynlik as gevolg van onderontwikkelde metabolismes en immuniteitstelsels.
Groei onder druk
Indien verse wel dragtig raak, kan dit ook gebeur dat die ontwikkeling van die ongebore kalf, veral in die derde trimester, onder druk sal kom weens die moeder se swak funksionerende metaboliese stelsel. Dit lei noodwendig tot beperkte fetusgroei wat ligter, swakker, nie-lewenskragtige kalwers tot gevolg sal hê. Neem in ag dat ’n dier se liggaam altyd voedingsbehoeftes vir oorlewing bo reproduksie sal prioritiseer.
Hoewel ‘n dier se genotipe (en dus haar postnatale ontwikkeling en prestasie) tydens bevrugting bepaal word, kan die mate waarin ’n individu se genetiese potensiaal pre- en/of postnataal uitgedruk word, sterk deur eksterne veranderlikes beïnvloed word. Prenatale blootstelling aan nadelige eksterne veranderlikes, soos makro- en mikrovoedingstofbeperkings tydens ’n droogte, kan permanente epigenetiese veranderinge aan die genoom veroorsaak, wat op oorerflike veranderings in geenuitdrukking neerkom. – Kobus Bester, rasdirekteur, Simbra-beestelersvereniging
Vir meer inligting en verwysings, stuur ’n epos aan die outeur by kobus@simbra.org.





