Estimated reading time: 7 minutes
Skape uit die hoëdigtheidsgroep het meer gelê en herkou, meer gereeld geëet en minder gereeld gestaan as skape uit die ander groepe
Lees deel een van hierdie reeks oor voer- en waterinname hier.
Die aanbevole digtheid waarteen skape in intensiewe stelsels in Suid-Afrika aangehou moet word, wissel tans tussen 1 en 2m² per skaap. Daar word egter selde oorweging gegee aan die welstand van diere wat in sulke stelsels gehuisves word. Te hoë digthede kan die hipotalamus-pituïtêre-adrenale-as aktiveer en gevolglik die immuunstelsel en vleisgehalte van die dier benadeel.
In die vorige artikel het ons verduidelik hoe ’n veedigtheid van 0,5m² per dier nie sy voer- en waterinname of groei benadeel nie. Produksiemaatstawwe kan egter nie as die enigste standaard gebruik word om die welsyn van diere in intensiewe stelsels soos voerkrale te bepaal nie.
Wat beteken dierewelsyn?
Dit is ons mening dat daar tans geen aanvaarde internasionale definisie van dierewelsyn bestaan nie, aangesien verskillende terme gebruik word en afhang van dit wat vir die betrokke partye belangrik is. Fraser (1993) het wel ’n wetenskaplike benadering gevolg en drie afsonderlike kategorieë geïdentifiseer om dierewelsyn te bepaal. Die kategorieë word op onderskeidelik die biologiese funksionering, emosionele reaksie en gedragsreaksie van die dier gebaseer.
Die vlak van aktivering van die immuunstelsel en adrenokortikale aktiwiteit bepaal die biologiese funksionering. Die emosionele reaksie van die dier kan gemeet word deur temperamentassessering, en hul gedrag kan waargeneem en vergelyk word met die normale, natuurlike gedrag van die betrokke spesie.
Agtergrond van studie
Altesaam 60 gekastreerde ramlammers – 30 Dorpers en 30 Dohne Merino’s met ’n gemiddelde lewende massa van 29,52 ± 0,30kg – is deur ’n betroubare vee-agent verkry en in ’n binnenshuise voerkraalomgewing met hortjiesvloere aangehou. Vensters aan weerskante van die fasiliteit het voldoende natuurlike lig en ventilasie toegelaat.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard (SANS) beveel ’n veedigtheid van 0,9m² per droë ooi en 1m² per ram in groepbehuising aan (SANS, 2021). Vir hierdie rede is daar op ’n kontroledigtheid van 1m² per dier besluit. Medium en hoë veedigthede van onderskeidelik 0,75 en 0,5m² per dier is ingesluit om die invloed van intensivering op die welsyn van skape te bepaal.
Die eksperiment het agt weke geduur. Gedurende die eerste twee weke (aanpassingstydperk) is die lammers teen ’n digtheid van 1,7m² per dier gehuisves, gevolg deur ’n proeftydperk van ses weke. Laasgenoemde het ’n kommersiële voerkraalafrondingsproses gesimuleer. Etiese goedkeuring vir die studie is van die Universiteit Stellenbosch se Navorsingsetiekkomitee: Diereversorging en -gebruik verkry.
Evaluering van gedrag
Elke skaap se temperament is aan die begin en einde van die aanpassingstydperk, sowel as aan die einde van die proeftydperk, via die isolasieboks-metode geëvalueer. Elke dier is vir twee minute per evalueringsessie geïsoleer, waarna die aantal vokalisasies (blêr), voorbeentreë (trippel), 180°-draaie, en spronge of ontsnappingspogings aangeteken is.
Daaglikse gedrag is weekliks vir ’n totaal van 21 uur gemonitor deur middel van direkte waarneming. Elke aksie, insluitend staan, lê, herkou, slaap en eet, is elke halfuur tydens ‘n waarnemingstydperk van sewe uur aangeteken. Antagonistiese gedrag in die hok en rondom die voerbakke is deur middel van ’n verplasingstelling geëvalueer.
Mismonsters is aan die begin van die aanpassingstydperk asook elke week daarna versamel om die fekale glukokortikoïedmetaboliete (fGCM) te bepaal. Die verhouding van neutrofiel tot limfosiet (N:L), ’n aanduiding van spanning onder soogdiere, is aan die begin van die aanpassingstydperk en daarna op ‘n weeklikse basis bepaal.
Die Dorpers het ’n meer reaktiewe temperament getoon in vergelyking met hul Dohne Merino-eweknieë; dit sluit meer voorbeentreë sowel as spronge of ontsnappingspogings in (Tabel 1). Geen verskille wat reaktiewe gedrag betref is tydens die voerkraaltydperk tussen die verskillende digtheidsgroepe waargeneem nie. Dit beteken dat die tyd wat die skape in die voerkraalomgewing deurgebring het, nie ‘n negatiewe invloed op hul welsyn gehad het nie.
Tabel 1: Invloed van ras op temperamentparameters (gemiddeld ± standaardfout) van Dorper- en Dohne Merino-lammers in ’n voerkraalstudie.
| Temperamentparameters | Skaapras | |
| Dorper | Dohne Merino | |
| Aantal vokalisasies | 2 ± 0,16 | 1,60 ± 0,15 |
| Aantal voorbeentreë (trippel) | 7,92a ± 0,25 | 5,94b ± 0,24 |
| Aantal 180°-draaie | 1,39 ± 0,09 | 1,06 ± 0,09 |
| Aantal spronge of ontsnappingspogings | 1,13a ± 0,11 | 0,37b ± 0,12 |
*Gemiddeldes met verskillende boskrifte binne ’n ry verskil beduidend (p<0,05).
Lae stresvlakke bevestig
Die N:L-verhouding van 0,6:1 vir die hele studietydperk van agt weke dui daarop dat skape min spanning ervaar het. ’n Gemiddelde fGCM-konsentrasie van 0,229µg/g droë mis is in die studie waargeneem. Indien hierdie konsentrasie met die bevindinge van Lexen et al. (2008) vergelyk word, is dit duidelik dat lammers wat by die onderskeie veedigthede in hierdie studie gehuisves is, nie gespanne was tydens die studietydperk nie.
Die fGCM-konsentrasie het van die aanpassings- tot die proeftydperk afgeneem, wat beteken dat die blootstelling aan die voerkraalomgewing met aankoms meer spanningsvol was as die hoër veedigtheid gedurende die voerkraaltydperk (Tabel 2).
Die hoër fGCM-vlakke van die Dorpers gedurende die aanpassingstydperk kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat hulle meer gesukkel het om by die nuwe omgewing aan te pas. Dié waarneming word verder ondersteun deur die hoër N:L-verhouding van 1,11:1 van die Dorpers tydens die aanpassingstydperk in vergelyking met ’n 0,63:1-verhouding van die Dohne Merino’s.
Tabel 2: Invloed van ras en proeftydperk op witbloedselprofiel (gemiddelde % witbloedselle ± standaardfout) en fGCM-konsentrasie (gemiddeld ± standaardfout) van Dorper- en Dohne Merino-lammers.
| Welsynparameters | Proeftydperk | |||
| Aanpassing | Voerkraal | |||
| Dorper | Dohne Merino | Dorper | Dohne Merino | |
| Neutrofiele (%) | 50,51c ± 1,23 | 37,01b ± 1,22 | 27,73a ± 0,63 | 27,73a ± 0,63 |
| Limfosiete (%) | 45,42a ± 1,26 | 58,33b ± 1,25 | 56,97b ± 0,64 | 56,97b ± 0,64 |
| fGCM (µg/g droë mis) | 0,56c ± 0,03 | 0,37b ± 0,03 | 0,11a ± 0,02 | 0,11a ± 0,02 |
*Gemiddeldes met verskillende boskrifte binne ’n ry verskil beduidend (p<0,05).
Die Dorpers het gedurende beide die aanpassings- en voerkraaltydperke meer gereeld herkou, wat op lae spanningsvlakke dui (Tabel 3). Verminderde herkou tydens die voerkraaltydperk beteken dat diere spanning ervaar.
Tabel 3: Invloed van ras en proeftydperk op waargenome gedragsparameters (gemiddeld ± standaardfout) van Dorper- en Dohne Merino-lammers.
| Gedragsparameters | Proeftydperk | |||
| Aanpassing | Voerkraal | |||
| Dorper | Dohne Merino | Dorper | Dohne Merino | |
| Staan (%) | 29,29b ± 1,26 | 26,79ab ± 1,26 | 23,91a ± 0,60 | 28,31b ± 0,60 |
| Staan en herkou (%) | 5,60c ± 0,35 | 3,69b ± 0,35 | 0,90a ± 0,17 | 1,20a ± 0,17 |
| Lê en herkou (%) | 18,33b ± 1,15 | 14,88b ± 1,15 | 16,93b ± 0,55 | 9,56a ± 0,54 |
*Gemiddeldes met verskillende boskrifte binne ’n ry verskil beduidend (p<0,05).
Skape uit die hoëdigtheidsgroep het meer gelê en herkou, meer gereeld geëet en minder gereeld gestaan as skape uit die ander groepe (Tabel 4). Dit is ’n positiewe teken, aangesien lê en herkou op tevrede diere dui. Dit beteken dat hoër veedigtheid nie normale skaapgedrag benadeel nie en dat die beperkte ruimte die diere tot meer stilstaande aktiwiteite gedwing het.
Tabel 4: Invloed van veedigtheid op waargenome gedragsparameters (gemiddeld ± standaardfout) van lammers tydens ’n voerkraalstudie.
| Gedragsparameters | Veedigtheid | ||
| Hoog (0,5m²/dier) | Medium (0,75m²/dier) | Laag (1m²/dier) | |
| Staan (%) | 22,66a ± 0,55 | 27,41b ± 0,56 | 28,27b ± 0,55 |
| Lê en herkou (%) | 14,13b ± 0,48 | 12,42a ± 0,49 | 13,14ab ± 0,48 |
| Eet (%) | 10,12b ± 0,37 | 8,33a ± 0,38 | 7,46a ± 0,37 |
*Gemiddeldes met verskillende boskrifte binne ’n ry verskil beduidend (p<0,05).
Interaksie sonder aggressie
Die voerkraaltydperk is gekenmerk deur meer verplasings as die aanpassingstydperk, asook minder gevalle van nie-antagonistiese gedrag en mededinging of bakleiery (Tabel 5). Die toename in verplasings beteken die diere het minder geveg, maar meer interaksie met mekaar gehad namate hulle aangepas en ’n sosiale hiërargie gevestig het. Dit dui daarop dat hoër veedigthede nie tot ’n toename in aggressiewe interaksies gelei het nie.
Die hoërdigtheidsgroepe het nie meer gevegte of verplasings getoon soos aanvanklik verwag is nie. Die Dorpers was rustiger en minder interaktief as die Dohne Merino’s.
Tabel 5: Invloed van die proeftydperk op die verplasingstelling (gemiddeld ± standaardfout) van Dorper- en Dohne Merino-lammers.
| Gedragsparameters | Proeftydperk | |
| Aanpassing | Voerkraal | |
| Nie-antagonistiese gedrag (%) | 92,56b ± 2,22 | 85,85a ± 1,05 |
| Verplasing (%) | 4,46a ± 2,05 | 12,96b ± 0,97 |
| Kompetisie of bakleiery (%) | 2,98b ± 0,76 | 1,19a ± 0,36 |
*Gemiddeldes met verskillende boskrifte binne ’n ry verskil beduidend (p<0,05).
Gevolgtrekking
Deur die skape in digthede van tot 0,5m² per skaap aan te hou, het nie die welsyn van die diere benadeel nie. Aangesien geen verskille tussen die fGCM-konsentrasie en die N:L-verhouding van die onderskeie veedigtheidsgroepe waargeneem is nie, ondersteun dit hierdie gevolgtrekking.
Die Dorpers het egter ’n groter uitdaging ervaar om by die voerkraalomgewing aan te pas, soos dit duidelik blyk uit die hoër fGCM-konsentrasie en N:L-verhouding gedurende beide die aanpassings- en voerkraaltydperke. Die resultate moet egter met omsigtigheid beskou word, aangesien die Dohne Merino’s meer gespanne voorgekom het as gevolg van die hoër mate van kompetisie en interaksie gedurende die voerkraaltydperk. – E van Schalkwyk, H Lambrechts, JHC van Zyl, PE Strydom en A Ganswindt, Universiteit Stellenbosch
Vir meer inligting of verwysings, stuur ’n e-pos aan Helet Lambrechts by helet@sun.ac.za