Estimated reading time: 5 minutes
- Die oordrag van siektes tussen mens en dier is sekerlik een van die grootste uitdagings van ons tyd.
- Twee belangrike faktore by menslike oordrag van siektes na diere wat soms onderskat word, is voorkoming van meganiese oordrag van siekte-organismes en die oordrag van siektes tussen opeenvolgende diere tydens ondersoeke.
- Konsultante wat vee vir klassering hanteer, veeartse en persone wat tegniese dienste lewer, soos kunsmatige inseminasie en monsterneming, moet oplet vir kontrolelyste en planne.
- Die belangrikste aspek is die bewusmaking oor siektes en die risiko’s daarvan vir alle betrokke partye.
- Besoekers moet deeglik bewus gemaak word van biosekuriteitsmaatreëls op die plaas deur middel van ’n duidelike kennisgewing by die ingang.
Soos wat die menslike bevolking wêreldwyd aanhou groei, steek al hoe meer nuwe probleme kop uit. Die oordrag van siektes tussen mens en dier is sekerlik een van die grootste uitdagings van ons tyd.
Die Covid-19 pandemie het ’n totale ommeswaai in denkwyses, leefstyl en prioriteite tot gevolg gehad. Soönoses en siekte-oordrag van diere na mense is egter slegs die een kant van die muntstuk. Baie siektes word ook deur mense aan diere oorgedra. Byvoorbeeld, by melkerye is dit baie belangrik dat werkers tuberkulose-vry moet wees.
Lees meer oor die beginsels van biosekuriteit op die plaas.
Daar is ook onlangs gevind dat middelweerstandige menslike infeksies wat in hospitale voorkom ook na skaaptroppe oorgedra kan word. Lammers in lamhokke wat net na geboorte gevrek het van erge longontsteking het aan Staphylococcus saprophyticus gely – dit is ’n menslike urienweginfeksie. Hierdie infeksie het die ooie reeds voor die lammers se geboorte besmet, en was so gevorderd dat die lammers nie selfstandig kon asemhaal nie.
Twee belangrike faktore by menslike oordrag van siektes na diere wat soms onderskat word, is:
- Voorkoming van meganiese oordrag van siekte-organismes wanneer mense vanaf siek en besmette diere na gesonde troppe en kuddes beweeg.
- Die oordrag van siektes tussen opeenvolgende diere tydens ondersoeke of behandeling, skeersessies of die sny van sterte kan tot siekte-uitbrekings lei.
Kontrolelyste en planne
Konsultante wat vee vir klassering hanteer, veeartse en persone wat tegniese dienste lewer, soos kunsmatige inseminasie en monsterneming, moet op die volgende bedag wees:
- Produsente behoort ’n standaardkontrolelys in samewerking met die kuddeveearts op te stel. Dit behoort in die vorm van ’n verklaring of ’n vorm te wees wat vooraf aan die besoeker gestuur kan word. In die dokument kan die besoeker ingelig word oor voorafopgestelde vereistes van ’n betrokke plaas, wat die persoon in staat sal stel om die nodige voorsorg te tref.
- Daar moet ’n plan B wees, wat insluit die beskikbaarstelling van oorpakke en oorskoene in drie groottes (of sterk plastieksakke) en selfs handskoene indien die besoeker nie vooraf aan die nodige vereistes voldoen nie.
- Daar moet ’n fasiliteit beskikbaar wees waar besoekers hul skoensole kan ontsmet, hande kan was en skoon klere kan aantrek.
- Die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad (SAVR) se regulasies bepaal dat veeartse wat tussen plase en verskillende pasiënte beweeg, die nodige skoonmaak en ontsmetting moet onderneem om basiese biosekuriteit te verseker. Tabel 1 bevat ’n kontrolelys vir die plaas was as ’n basis vir hierdie rekords kan dien; dit is ook ’n inligtingstuk vir besoekers wat met diere kom werk.
Lees meer oor hoe om biosekuriteit toe te pas met vee-aankope.
Tabel 1: Kontrolelys van biosekuriteitsmaatreëls vir besoekers.
Vereiste vir konsultante | J/N/NVT |
Die konsultant, veearts en/of tegnikus is vooraf ingelig dat die agribesigheid ’n streng biosekuriteitsprogram volg. | |
Die besoeker is versoek om enige vorige kontak met diere wat die biosekuriteitstatus van die plaas bedreig, aan te meld. | |
Die besoeker is versoek om klere, toerusting, skaaphonde en voertuie te ontsmet voordat toegang tot die plaas verleen word. | |
Skoon, beskermende klere en oorskoene is aan die besoeker aangebied indien twyfel bestaan oor vorige blootstelling. | |
’n Dekontaminasie-area is beskikbaar gestel vir skoonmaak/reiniging, insluitend ’n voetbad wat gevul kan word met verdunde F10, of enige ander toepaslike produk. |
Leer meer oor hoe om biosekuriteit op besoekersvoertuie op die plaas toe te pas.
Skeerders en hanteerders
Daar is talle voorbeelde van insidente waar skeerspanne verantwoordelik was vir die verspreiding van siektes soos Corynebacterium ovis-absesse, brandsiekte en vuilbek. Dit is dus belangrik dat die skeerspanbestuurder ’n kontrolelys ontvang en voltooi vóórdat die skeerders inval.
Die belangrikste aspek is die bewusmaking oor siektes en die risiko’s daarvan vir alle betrokke partye. Daar kan soms weerstand wees, maar die plaas het die reg om op hierdie prosedures aan te dring. Ons het al gevind dat skeerders byvoorbeeld nie hul skêre wil ontsmet nie omdat hulle glo die ontsmettingsmiddel maak die skêre stomp, of dat hulle nie snywonde wil aanmeld nie, omdat dit dalk die aantal lootjies vir die dag kan verminder.
Lees meer oor biosekuriteit in kommunale gebiede hier.
Hierdie tipe weerstand kan moontlik oorkom word deur die skeerders te bedank en te beloon vir goeie gedrag en ’n positiewe houding, pleks van ’n uittrapparade wat veroorsaak dat insidente weggesteek sal word. Ons is geneig om werkers wat nie foute maak nie te beloon, terwyl ons eintlik diegene moet beloon wat foute openlik erken, want dit bied die geleentheid om dit reg te stel.
Leer meer oor die biosekuriteitsbeginsels van kwarantyn, higiëne en interne siektebedreigings.
Tabel 2: Kontrolelys vir skeerders en hanteerders.
Vereistes vir hanteerders, skeerders | J/N/NVT |
Is die hanteerders en skeerders opgelei in basiese biosekuriteit, noodhulp en higiëne? | |
Is die spanbestuurder ingelig dat die agribesigheid ’n baie streng biosekuriteitsprogram toepas? | |
Is die vorige plaas waar die hanteerders en skeerders gewerk het vooraf gekontak om enige moontlike risiko’s vas te stel? | |
Is ’n verklaring van die vorige plaas ten opsigte van die biosekuriteitsbedreigings (verkopersverklaring) deur die bestuurder van die skeerspan of hanteerders ingedien? | |
Is die hanteerders en skeerders gedekontamineer voordat hulle die skeerskuur binnegaan het? | |
Is daaglikse skoonmaakgeriewe soos storte, klerewas-area, ’n plek om hande te was, en skoonmaakprodukte beskikbaar? | |
Word skoon oorpakke vooraf voorsien? | |
Is persoonlike versiersels soos armbande, nekbande en hoede verwyder of gedekontamineer? | |
Is skêre vooraf skoongemaak en met F10 ontsmet? | |
Is voorsorg getref om biosekuriteitsrisiko’s wat geassosieer word met hanteerders en skeerders se beddegoed en huishoudelike items, te voorkom? | |
Is die hanteerders en skeerders versoek om enige wol, vleis, plantmateriaal, velle of melk in hul besit te verklaar? | |
Is die plaaspersoneel ingelig oor die rol van hanteerders en skeerders in biosekuriteitsrisiko’s, en versoek om waaksaam te wees? |
Lees meer oor biosekuriteit en die verkopersverklaring.
Besoekers voor en tydens veilings
Besoekers moet deeglik bewus gemaak word van biosekuriteitsmaatreëls op die plaas deur middel van ’n duidelike kennisgewing by die ingang. Besoekende voertuie moet verkieslik deur ’n bad met ontsmettingsmiddel ry, of die bande moet met ’n hoëdrukwasser gespuit word.
In die laaste aflewering van hierdie reeks oor biosekuriteitsmaatreëls op die plaas, vestig ek die aandag op die noodsaaklikheid van goeie kommunale biosekuriteit asook enkele punte rakende ramtoetsing. – Dr Johan van Rooyen, spesialisveearts, Steynsburg-dierehospitaal
Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 087 551 2783 of veearts.sdh@nokwi.co.za.