Estimated reading time: 6 minutes

  • Hoewel lewende diere en siektedraers die grootste risiko inhou vir die inbring van siektes op ’n plaas, is daar tog baie voorbeelde van hoe mense en voertuie ook siektes kan versprei.
  • Veeartse is terdeë bewus van hul groot rol in biosekuriteit en waar beskermende kleredrag vervang moet word, en instrumente en gereedskap ontsmet moet word. Hulle moet selfs dikwels eers stort voor die volgende plaasbesoek.
  • Skeerders kom in kontak met velsiektes en parasiete op diere wat deur die hele skeerspan van plaas na plaas oorgedra kan word.
  • Dit is raadsaam om jou kuddeveearts te raadpleeg om die lys se effektiwiteit vir siektepatrone in jou omgewing te verseker.

Hoewel lewende diere en siektedraers soos insekte, bosluise en klein diere die grootste risiko inhou vir die inbring van siektes op ’n plaas, is daar tog baie voorbeelde van hoe mense en voertuie ook siektes kan versprei.

Veeartse is terdeë bewus van hul groot rol in biosekuriteit en waar beskermende kleredrag vervang moet word, en instrumente en gereedskap ontsmet moet word. Hulle moet selfs dikwels eers stort voor die volgende plaasbesoek.

Die volgende voorbeelde toon hoe belangrik dit is om maatreëls in plek te hê om die verspreiding van siektes deur mense, voertuie en goedere te beheer.

Lees deel een van die biosekuriteit op die plaas artikelreeks hier.

Biosekuriteit vs siekteverspreiding

Skeerders kom in kontak met velsiektes en parasiete op diere wat deur die hele skeerspan van plaas na plaas oorgedra kan word. Skeerders kom dikwels op die plaas aan met dieselfde klere waarmee hulle op ander plase gewerk het, en wat besmet is met lewende brandsiekmyte of hul eiers.

Soms werk skeerders ook met die vleis van diere wat moontlik weens sponssiekte gevrek het, en kleef die spore daarvan aan die volgende trop skape se skeerwonde – dikwels met noodlottige gevolge. Ons praktyk was al betrokke by uitbrekings van sponssiekte op ’n veepos, waar 50 dragtige ooie gevrek het aan skeerwonde wat besmet geraak het weens die skeerspan.

Lees meer oor kruipvoer hier.

Die mis onder mense se voete kan ook siektes soos kriptosporidiose van plaas na plaas oordra. Besoekers, personeel en agente hoef slegs een van die kriptoörganismes na ’n volgende plaas aan te dra, om ’n uitbreking met gevolglike kalf- en lamvrektes te veroorsaak.

Dit gebeur soms dat vragmotors wat beeste in hartwatergebiede vervoer en op Karooplase aankom om lusern te laai, die siekte versprei na ’n gebied waar die hartwaterbosluis nie natuurlik kan oorleef nie. Dit gebeur gewoonlik nadat die beesmis en bontbosluise op die vragmotor-laaibank uitgevee is. Dit gebeur ook dat bale voer wat vervoer word, bosluise saambring wat bees- en perdesiektes dra.

Tydens die 1970-vloed, het bale lusern uit rooiwatergebiede in die Vrystaat met die Oranjerivier afgespoel en ’n groot uitbreking van rooiwater op ’n plaas in die Noord-Kaap veroorsaak.

Die meegaande vraelyste dien as ’n riglyn vir produsente se biosekuriteitskontrolelyste. Dit is wel raadsaam om jou kuddeveearts te raadpleeg om die lys se effektiwiteit vir siektepatrone in jou omgewing te verseker.

Lees deel twee van die biosekuriteit op die plaas artikelreeks hier.

Tabel 1: Vereistes vir konsultante.

Vereistes vir konsultanteJ / N / n.v.t. Y / N / n/a
Die konsultant, veearts en/of tegnikus is vooraf ingelig dat die boerdery of landboubesigheid ’n streng biosekuriteitsprogram volg. 
Die besoeker is versoek om enige vorige kontak met diere wat die biosekuriteitstatus van die plaas kan bedreig, aan te meld. 
Die besoeker is versoek om klere, toerusting, skaaphonde en voertuie te ontsmet voordat toegang tot die plaas verleen word. 
Skoon, beskermende klere en oorskoene is aan die besoeker aangebied indien twyfel bestaan oor vorige blootstelling. 
’n Ontsmettingsarea is beskikbaar vir skoonmaak/reiniging, insluitend ’n voetbad wat gevul kan word met verdunde F10, of enige ander toepaslike produk. 

Tabel 2: Vereistes vir hanteerders en skeerders.

Vereistes vir hanteerders en skeerdersJ / N / n.v.t. Y / N / n/a.
Is hanteerders en skeerders opgelei in basiese biosekuriteit en higiëne? 
Is die spanbestuurder ingelig dat die landboubesigheid/boerdery ’n baie streng biosekuriteitprogram volg en toepas? 
Is die vorige plaas waar die hanteerders en skeerders gewerk het gekontak, sodat alle potensiële risiko’s vasgestel kon word? 
Is die hanteerders en skeerders ontsmet voordat hulle die skeerskuur binnegaan? 
Is daaglikse skoonmaakgeriewe soos storte, wasbakke, ’n klerewas-area en skoonmaakprodukte beskikbaar? 
Word skoon oorpakke voorsien voordat skeer begin? 
Is persoonlike versiersels (armbande, nekbande en hoede) verwyder of ontsmet? 
Is skêre skoongemaak en ontsmet met F10 voor gebruik? 
Is voorsorg getref om ’n biosekuriteitsrisiko te voorkom wat geassosieer is met die hanteerders en skeerders se beddegoed en huishoudelike items? 
Is die hanteerders en skeerders versoek om enige wol, vleis, plantmateriaal, velle of melk wat hulle besit te verklaar? 
Is die plaas se personeel ingelig oor die rol van hanteerders en skeerders in biosekuriteitsrisiko’s en versoek om waaksaam te wees? 

Tabel 3: Vereistes vir kliënte by velddae en veilings, asook besoekende familie en vriende.

Vereistes vir kliënte by velddae en veilings, asook besoekende familie en vriendeJ / N / n.v.t. Y / N / n/a
Word ’n duidelike kennisgewing gebruik om besoekers in te lig oor biosekuriteitsreëlings? 
Word ’n enkele toegangspunt gebruik vir ’n voetbad, handreiniging en ’n besoekersregister om besoekers te prosesseer voor hulle die dierehanteringsarea binnegaan? 

Figuur 1: Bewoording vir biosekuriteitskennisgewing.

KONSECURE BIOSEKURITEITSVERSOEK
Moet asseblief nie binnekom sonder voorafkennisgewing nie. Skakel XXX XXX XXXX Verklaar asseblief enige onlangse blootstelling aan plaasdiere en geriewe. Dekontaminasiegeriewe beskikbaar by aankoms.

Tabel 4: Vereistes vir vervoer van diere.

Vereistes vir vervoer van diereJ / N / n.v.t. Y / N / n/a
Is die voertuig vry van sigbare mis, hare, modder en beddegoed wat voorheen gebruik is? 
Is die voertuig vry van foutiewe vloere, skerp kante, hake of enige moontlike oorsaak van besering? 
Is die vee-area in orde, sonder enige los voorwerpe soos toue, sakke, draad of voer teenwoordig? 
Het die dierehanteerders skoon klere wat nie in aanraking was met diere tydens die vorige besending van diere of plaasbesoek nie? 
Is die bande van die voertuig en skoensole van hanteerders vry van modder of enige potensiële bron van besmetting? 
Het die voertuigeienaar of bestuurder alle inligting oor die vorige besending bekendgemaak ten opsigte van diere, oorsprong, bestemming, siektes, beserings of parasiete wat waargeneem is? 
Is die vervoerkontrakteur ingelig dat die kliënt die reg voorbehou om die voertuig skoon te maak voordat diere gelaai word, en dat hy billike uitgawes sal verhaal van die vervoerkoste om arbeid en verbruiksitems te verhaal? 

Tabel 5: Vervoer van goedere en voere m.b.t. biologiese of toksiese besmetting.

Vervoer van goedere en voere (slegs indien biologiese of toksiese besmetting van toepassing is)J / N / n.v.t. Y / N / n/a
Is die goedere en voer in geslote verpakkings, elk met lotnommers en bronidentifikasie? 
Is die bron van goedere bekend en betroubaar? 
Is al voorheen goedere en voer van hierdie verskaffer aangekoop? 
Is die verskaffer ingelig en ondervra oor moontlike biosekuriteitsrisiko’s? 
Is die geskiedenis van die goedere en voere bekend? Byvoorbeeld, is dit ’n hartwatergebied? 
Is die goedere en voere ondersoek voordat dit opgelaai is? 
Is die goedere en voere geïnspekteer voordat dit afgelaai is? 
Is die goedere en voere apart geberg en op sodanige wyse dat naspeuring moontlik is indien probleme sou opduik? 
Is die plaas se personeel ingelig oor biosekuriteit-risiko’s en versoek om waaksaam te wees wanneer voer hanteer word? 
Is voorsorg getref om insekte en siektes te beheer wat met die goedere en voere geassosieer is? Byvoorbeeld, beroking van bale met insekmiddels, indien aangedui. 

Volgende in die reeks trek ons kwarantynmaatreëls nader en word gekyk na die basiese beginsels van higiëne en metodes om interne siektebedreigings te hanteer. – Dr Johan van Rooyen, spesialisveearts, Steynsburg-dierehospitaal

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 087 551 2783 ofveearts.sdh@nokwi.co.za.