Estimated reading time: 6 minutes
- Die nege-jaar-droogte in die Karoo het baie boere van hul plase gedryf, maar daar is ook diegene wat planne gemaak het om te oorleef en aan hul Skepper vasgehou het.
- Martin Smit en sy gesin het begin om gegeurde sout, konfyt, braaiwors en droëwors onder die handelsnaam ‘Oom Plaas’ te verkoop as ‘n manier om ekstra inkomste te genereer.
- Die ooi-vleis wat nie winsgewend was by die abattoir nie, is omskep in delikatesse-produkte wat hulle meer as dubbel die prys kon inbring.
- Martin se jongste seun, Stefan, het ’n bergskaap geskiet, wat hulle voorraad biltong en droëwors vergroot het en ’n visie geskep het om die bergskape as ‘n volhoubare bron te beskerm.
- Die ou metodes van biltong en droëwors maak, wat reeds deur vorige geslagte gebruik is, het Martin en sy gesin gehelp om kontantvloei te handhaaf en op hul plaas te bly tydens die droogte.
Die nege-jaar-droogte in die Karoo het baie boere van hul plase gedryf, maar daar is ook diegene wat planne gemaak het om te oorleef en aan hul Skepper vasgehou het. Baie van hulle moes kort-kort stilstaan om die wonderwerke wat hulle beleef, te herkou.
Een van hierdie mense is Martin Smit, ’n skaapboer van Carnarvon wat al deur moeilike droogtetye moes gaan, maar hy en sy gesin weet waar hul hulp vandaan kom en is nie huiwerig om daaroor te praat nie.
Uitkoms vir die droogte
Hulle vertel dat hulle ’n wonderwerk beleef het toe hul oudste dogter, Marje, wat toe nog op skool was, ’n skoolprojek moes doen oor waardetoevoeging en sy gegeurde sout begin maak het. Die gesin het toe al besef hulle moet uitkyk vir ’n ekstra inkomste en het besluit dit is ’n goeie bemarkingsidee wat hulle onder die handelsnaam, ‘Oom Plaas’, by skoue en markte kan verkoop.
Die gegeurde sout was egter nie genoeg om ’n markstalletjie te regverdig nie. Nog produkte moes bygevoeg word. Die omgewing se bobaaskokke is ingeroep om konfyt te maak wat ook onder ‘Oom Plaas’ se naam verkoop is, maar Martin se oudste seun, Kobus, vertel dat hulle in daardie tyd ’n klompie ou Merino-ooie gehad het wat verkoop moes word. Die vleispryse was egter so ellendig dat hulle besluit het om eerder van die ou ooie braaiwors en droëwors te maak en dit as ’n delikatesse by die stalletjies te verkoop.
Dit was ’n goeie manier om waarde toe te voeg tot daardie ooie wat nie meer ’n lam kan gee nie en waarvan verkoop nie meer winsgewend is nie. Kobus sê die braaiwors en droëwors was ’n enorme sukses, maar mense het gevra vir skaapbiltong. Hulle het later biltongstokkies met ’n chilli- of blatjanggeur geproduseer soos sy ouma altyd gemaak het. Op dié manier kon die ooi vir hulle meer as dubbeld die prys inbring as waarvoor sy by die abattoir afgelaai sou word.

Groter voorrade
Hulle kon nie voorbly met voorraad nie, want daar kom nie veel biltong en droëwors uit ’n skaapkarkas nie, maar Martin se jongste seun, Stefan, het eendag met ’n ekstra, goedkoop oplossing vorendag gekom. Hy moes ’n koedoe gaan skiet en het huis toe gekom met ’n bergskaap, of ’n Barbaryskaap soos dit bekendstaan, wat ’n goeie 60kg uitgeslag het.
Stefan vertel die bergskape dwaal in die berge rond en is moeilik sigbaar. Dié dag het hy egter die troppie gesien en een van die diere geskiet. Die vleis is heerlik en uitstekend geskik vir die maak van biltong en droëwors. Op die manier kon hulle hul voorraad vergroot.


Sy visie is om die bergskape op die plaas te beskerm en dit vir hulle veilig te maak sodat die troppe kan uitbrei, want hy sien potensiaal in hierdie diere. Die plan werp reeds vrugte af, want hulle merk groter troppe op wat in die berge op hul plase skuilhou. Heelwat oorsese jagters wil graag ’n bergskaap skiet vir die trofee-horings, maar sy plan is om die bergskape aan te hou en jagters te nooi om te kom skiet vir die trofee solank hy die vleis kan hou vir die maak van biltong en droëwors.
Lees meer oor Tegnologie laat Merino-boer tiek.
Dis niks nuuts nie
Vir die Smit-gesin is die maak van skaapbiltong en -droëwors niks nuuts nie. Martin vertel dat sy oupa aan moederskant, oom Kooitjie Jacobs, met Merino’s geboer het. Sy pa, Kobus, het egter die Merino’s verkoop en eerder met Dorpers en Persieskape geboer. Sy ma het egter vasgesteek en besluit sy eet net Merinovleis. Daarom moes Kobus altyd ’n troppie Merino’s ‘vir eie gebruik’ aanhou.
Lees meer oor Bankrotwurm: ’n Sluiper in veekuddes.
Sy ma het ook gereeld Merinobiltong gemaak, omdat springbokke in die daardie jare nie volop was nie en dit ook ’n metode van preservering was. Hierdie ou metodes het ’n moderne gesin op die plaas gehou in tye van erge droogte. Martin sê egter die Merinobiltong wat hulle gehelp het, is dalk net ’n modegier en hy voorsien nie dat dit ’n voltydse taak gaan word nie. Tot dusver het dit hom en sy gesin gehelp om ’n kontantvloei te kon hê en op die plaas te kon bly. – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, skakel Martin Smit by 083 360 1612