BEK: Nasionale kudde-inenting op pad

Estimated reading time: 1 minute

Daar is lig in die bek-en-klouseer (BEK)-tonnel! Die minister van landbou, John Steenhuisen, het Woensdag 26 November, tydens die leierskap- en strategiese venootskap-konferensie, wat deur die African Farmer’s Association of South Africa (Afasa) aangebied is, aangekondig dat genoeg entstof beskikbaar gestel gaan word om die hele nasionale beeskudde in te ent. Elke produsent sal wetlik verplig wees om sy diere teen BEK in te ent.

Die Noord-Kaap en Limpopo (buiten die rooilyngebied) is tans die enigste twee Suid-Afrikaanse provinsies wat nie met aktiewe BEK uitbrekings struwel nie. Die plan wat hy aan die boere gestel het, was dat daar in die toekoms elke maand sowat 1 miljoen dosisse beskikbaar gestel gaan word. Die entstowwe word van verskeie plekke gekry en entstowwe van vervaardigers in verskillende word getoets ten einde te beste resultate te bepaal vir die Suid-Afrikaanse omstandighede. Plaaslik word daar ook hard gewerk om entstof te vervaardig.

Melkerye en voerkrale is eerste op die minister se prioriteitslys en gaan ook eerste voorkeur geniet met entstowwe soos dit beskikbaar gestel word. Daar word veral na sekere gebiede gekyk waar BEK ernstige afmetings aanneem.

Sodra hierdie plan aan die rol is, gaan die Nasionale Departement van Landbou (NDL) by die Wêreld Organisasie vir Dieregesondheid (WOAH) aansoek doen om “BEK-vrye status met inenting” te verkry. Die langtermyn doel is om die diere uiteindelik BEK-vry te maak sodat die status kan verander na “BEK-vrye status sonder inenting”.

Brasilië is ’n voorbeeld

Die minister se ideaal is dat Suid-Afrika die Brasiliaanse roete moet volg om op die lang duur ook BEK-vry te wees. Dit was ’n lang pad vir Brasiliaanse landbou, maar deur goeie samewerking tussen die veeprodusente, die regering en die private sektor, is dié land BEK-vry verklaar.

Die het aanvanklik lank geneem vir Brasiliaanse boere om te besef dat streng beheermaatreëls, naspeurbaarheid en biosekuriteit uiters noodsaaklik is. Met uitgebreide veeartsenykundige dienste, omvattende waarneming van diere en verpligte inentings kon hulle oor ’n lang tydperk die status geniet van “BEK-vry sonder enting”

Suid-Afrika het geen keuse meer nie

Suid-Afrika staan nou op daardie punt. BEK-gevalle is in feitlik al die provinsies reeds aangemeld en Steenhuisen wat hierdie warm stoel van minister van landbou gekry het, het ook die BEK-probleem daarmee saamgekry, maar het van die begin af die probleem aktief aangespreek en dit het nie net by woorde en beloftes gebly nie.

Steenhuisen sê verskeie projekte is sedert 2019 van stapel gestuur met die doel om BEK-tye te beheer, maar dit het nie gewerk nie. Daarom sal daar ’n verandering in beleid wees wat inenting van die nasionale kudde verpligtend maak.

Hy het ook bygevoeg dat Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) en die Landbounavorsingsraad (LNR) reeds baie werk ingesit het om plaaslike entstof te vervaardig en twee miljoen plaaslike dosisse behoort teen Februarie volgende jaar beskikbaar te wees.

Steenhuisen het ook alle boere en besighede in die rooivleisbedryf aangemoedig om by die RMIS se naspeurbaardheidprogram betrokke te raak. Volgens hom sal hierdie probleem nooit opgelos word sonder goeie samewerking tussen alle rolspelers in die bedryf nie.

RPO verwelkom die besluit

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het in ’n persverklaring genoem die probleem met BEK-uitbrekings is nie soseer die siekte self nie, maar die ekonomiese terugslag wat produsente moet verduur omdat hulle nie in die normale handelskanale kan deelneem nie, aangesien hul diere ingeënt is. Voerkrale moet ook vir lang tye onder kwarantyn bly en dit veroorsaak prysskommelinge in die mark.

Die RPO het bygevoeg dat daar nog baie werk voorlê voordat hierdie ideaal bewaarheid gaan word, maar hulle is dankbaar vir hierdie stap in die regte rigting. Die RPO het ook sy bereidwilligheid verklaar om betrokke te wees om die BEK-probleem hok te slaan.

Agbiz juig ook

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê dié stap is ’n reusebeleidsprong vooruit. “Die bedryf is op ’n krisisvlak en struwel om BEK te beheer. Die regering se besluit om die hele nasionale kudde in te ent is reeds ’n reaksie van die regering om die uitdaging te aanvaar,” het Sihlobo vanuit die Afasa-kongres geskryf. “Ons nasionale kudde is sowat 7,2 miljoen beeste sterk, en om al dié diere in te ent gaan ’n massiewe taak wees.”

Die stap wys manhaftigheid, en sal verseker dat Suid-Afrika sy kudde kan beskerm en kan aanhou om op rooivleisuitvoere te fokus. Die grootste uitdaging nou is die logistieke hantering van die saak, asook die skakeling wat met markagente in uitvoerlande moet geskiet, sê Sihlobo.

“Nog ’n kwessie is natuurlik om die nodige hoeveelheid entstof te verkry.” Die regering poog tans om die LNR en OBP se vermoë om entstof te vervaardig te laat herleef, maar dit alleen is nie genoeg nie, waarsku Sihlobo. “Ons moet verseker dat ander private sektor-rolspelers ook entstof kan vervaardig. As ons op hierdie pad wil voortbou sal private laboratoriums ingesluit moet word.”

Sihlobo sê die lewende hawe- en pluimveebedrywe tel vir die helfte van Suid-Afrika se landbousektor. Daarom raak dié kwessie direk aan die hart van die landbou-ekonomie.

Realistiese tydlyne plaas demper

Dr Mark Chimes, Melk SA se veterinêre raadgewer en bestuurder van hul dieregesondheid- en -welsynsprogram, het egter tydens dié organisasie se jaarvergadering  wat ook vandag plaasgevind het, gesê mense moet realisties wees oor die tempo waarteen inenting kan geskied. Tans is alle beskikbare entstof reeds geoormerk om iewers te gebruik.

“Ongelukkig is genoeg entstof nie vinnig genoeg bestel nie en nou het ons ’n situasie waarin nuwe entstof die mark op die vroegste einde Januarie of begin Februarie kan bereik,” het dr Chimes gesê, maar dank uitgespreek vir die minister se ernstige beskouing van die situasie.

Op ’n positiewe noot het hy bygevoeg dat dit wel lyk asof die Oos-Kaap en Wes-Kaap binnekort hul BEK-vrye status kan herwin. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Vir meer inligting oor BEK-oplossings, kyk na hierdie onderhoud wat onlangs met dr Danie Odendaal gevoer is.

Popular stories