Estimated reading time: 3 minutes
Landbouleiers glo die huidige uitbrekings van bek-en-klouseer (BEK) hou ’n ernstige gevaar vir die voortbestaan van kommersiële produsente in.
TLU SA en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het vandeesweek in ’n gesamentlike persverklaring gesê hoewel hul die noodsaaklikheid van biosekuriteitsmaatreëls erken en ondersteun, kan langdurige beperkings op die beweging van vee landboubedrywighede tot stilstand bring.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê produsente bevind hulself in ’n benarde posisie op voetsoolvlak. “Hulle kan nie hul vee na veilings, voerkrale, of abattoirs neem nie, wat ’n direkte impak op kontantvloei vir noodsaaklike uitgawes soos voedsel, elektrisiteit, en lone het.” Hy beklemtoon dat hoewel daar begrip vir die maatreëls is, die produsente daardeur sonder enige markte gelaat word terwyl daar tot op datum nog geen alternatiewe in plek is nie. “Ons is besig om boere ekonomies te ruïneer,” voeg hy by.
Dr Frikkie Maré, hoof uitvoerende bestuurder van die RPO, sê dis belangrik om te onthou dat BEK ’n staatsbeheerde siekte is, en daarom kan die bedryf slegs voorstelle maak en hulp aan die regering bied. “Aangesien BEK ’n staatsbeheerde siekte is, moet die regering besef dat hulle verantwoordelikheid nie net by die bekamping van die siekte lê nie, maar ook by die besighede en individue wat deur die maatreëls geraak word.”
Beter monitering nodig
Van Zyl sê die staat versuim sy wetlike verpligtinge deur byvoorbeeld nie dikwels genoeg padblokkades op te rig, wat die beweging van vee in geteisterde gebiede kan monitor nie. “Hierdie versuim word weer voor die deur van landbou gelê, aangesien boere en organisasies nou self moet poog om hierdie beweging met behulp van privaat kameras dop te hou. Die oprigting en monitering van hierdie stelsels is sonder enige bydrae van die staat gedoen – tog word daar van die landbousektor verwag om dit te bestuur en verantwoordbaarheid te dra vir ’n plig wat wetlik by die owerhede berus.”
Lees meer oor Bek-en-klouseer vereis nuwe benadering.
Landbouminister betrek
Na konsultasie met dr Maré, het Van Zyl tydens verlede week se NAMPO Oesdag ’n gesprek met John Steenhuisen, minister van landbou, oor die ernstige gevolge van BEK-beperkings gevoer en dit onder die minister se aandag gebring dat dié uitdagende tyd oorbrug moet word, sodat boerderybedrywighede voortgesit kan word.
Na afloop van die gesprek het die TLU SA en RPO ’n beroep op die regering gedoen om ’n rampbestuursprogram of noodfonds in plek te stel wat produsente kan help om hierdie periode te oorbrug. “Sonder toegang tot inkomste kan produsente nie aan hul kontraktuele verpligtinge voldoen nie, en dit raak ook hul werkers direk,” sê Van Zyl. “Die feit dat boerderye in wese uit sirkulasie gehaal word sonder enige vorm van ondersteuning, is onhoudbaar.”
Siektebeheerareas het marktoegang nodig
Daar moet verder dringend gepoog word om produsente in die siektebeheer-area marktoegang te gee, sê Van Zyl. “Die bedryf het ’n voorstel aan die regering gemaak om lae risiko-plase, wat die nodige biosekuriteit maatreëls in plek het, te identifiseer en te oudit om hierdie produsente marktoegang te gee, maar die proses is nog nie afgehandel aan die regering se kant nie.” Verder moet abattoirs in die siektebeheer-area geklassifiseer word om BEK-diere te slag sodat produsente van hoë risiko- en besmette plase ook marktoegang kan hê.
Die organisasies sê in die persverklaring die staat moet dringend optree om boerderyvolhoubaarheid te beskerm, veral waar dit oor voedselproduksie en werksekerheid gaan. “Die wêreld moet besef onder watter druk Suid-Afrikaanse boere tans verkeer. Sonder daadwerklike ingryping kan dié druk rampspoedige gevolge vir die hele landbouwaardeketting inhou,” sê Van Zyl. – Persverklaring

