Estimated reading time: 7 minutes
Een van die kragtigste hulpmiddels vir ’n kommersiële vleisbeesboer om die produktiwiteit en doeltreffendheid van sy kudde te verbeter, is om ’n deurdagte kruisteelprogram te gebruik wat die voordeel van heterose (basterkrag) benut om die gunstige eienskappe van elkeen van die ouerrasse in die nageslag vas te lê.
Uitskotbeginsels wat jou kudde én jou wins bevorder.
Die hoogste vlak van basterkrag word verkry wanneer die mees uiteenlopende rasse met mekaar gekruis en die ouerrasse volgens die produksiestelsel en omgewing geselekteer word.
Kruisteling vir kommersiële markte
Stoettelers gebruik die jongste navorsingsinligting en tegnologie om hul kuddes geneties te verbeter en om op die voorpunt van ’n mededingende omgewing te bly. Hul vernaamste mark vir teeldiere is kommersiële beesboere. Deur die regte bulle in kruisteling te gebruik, kom ekonomies belangrike eienskappe soos groei, karkaseienskappe, voerdoeltreffendheid en moedereienskappe maklik binne die bereik van die kommersiële beesboer.

Dr Japie van der Westhuizen van SA Stamboek sê kruisteling is basies die teenoorgestelde van inteling en behels die paring van onverwante diere. Hoe minder verwant die ouers, hoe groter die uitwerking van kruisteling in die nageslag. Normaalweg is ouers van verskillende rasse minder verwant aan mekaar as ouers van dieselfde ras. Dit beteken dat rasse wat geneties ver van mekaar verwyder is, waarskynlik nageslag met groter basterkrag sal verwek.
Die algemene verhoging in prestasie is die gevolg van ’n meer diverse genetiese samestelling van die nageslag wat uit so ’n paring gebore word. Die effek staan as heterose bekend, of basterkrag in die volksmond. Normaalweg word die grootste voordeel hiervan gesien in die eienskappe wat laag oorerflik is, en dit is ook dié eienskappe wat die meeste deur inteling benadeel word.
Maternale en direkte basterkrag
Weldeurdagte kruisteelprogramme benut die voordele van twee spesifieke vorme van heterose, naamlik maternale en direkte basterkrag. Maternale basterkrag benut die voordeel van die gekruisde moeders, soos vrugbaarheid, maklike kalwing, goeie moedereienskappe en aanpassing by die omgewing of produksiestelsel.
Direkte basterkrag benut die voordeel van groeitempo, voeromsetdoeltreffendheid en karkaseienskappe. Dikwels is hierdie voordele nie alleen die gevolg van basterkrag nie, maar ook omdat die rasse mekaar goed aanvul. Dit staan as komplementariteit bekend. Die gewenste eienskappe van die verskillende rasse word gevolglik in hul nageslag benut.
Dr Michael Bradfield van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) sê inteling van meer as 5% in ’n kudde maak nie sin nie, omdat dit eerder swak eienskappe beklemtoon, wat die winsgewendheid van ’n veeboerdery beduidend kan laat daal. Daarteenoor sorg kruisteling vir basterkrag wat die winsgewendheid van die kudde met tot 23% kan laat styg, terwyl dit al die ekonomies belangrike eienskappe ’n hupstoot gee.
Genetiese diversiteit
Sommige veeboere mik na diere wat eenvormig lyk sonder om die genetiese variasie tussen diere te bewaar, wat genetiese vordering aan bande lê. Genetiese vordering is ’n kombinasie van hoe meerderwaardig ’n dier ten opsigte van ekonomies belangrike eienskappe is, hoe oorerflik dié eienskappe is en die genetiese variasie wat in die kudde bestaan.
Genetiese variasie is die genetiese en fenotipiese verskille tussen die beste en swakste tydgenote in die kudde ten opsigte van onder meer vrugbaarheid, groei en karkaseienskappe. Veeboere worstel dikwels met dié teenstrydigheid, naamlik dat hulle eenvormige diere wil hê, maar ook hul kudde geneties wil bevorder.
Met kruisteling word die genetiese diversiteit in die kudde bevorder deur die variasie binne elk van die rasse in die kruisteelstelsel, sowel as die variasie tussen die rasse. As seleksiedruk in ’n ras toegepas word om ’n tekortkoming in ’n ander ras aan te vul, kom ’n hoër frekwensie van die gewenste gene in die kruisdiere voor as wanneer daar slegs met een ras geteel word.
Uiteindelik gaan dit oor die winsgewendheid van die kudde. Navorsing by die Amerikaanse Beef Cattle Research Center (BCRC) toon dat kruisgeteelde koeie jaarliks 23% meer geld genereer, hul lewensverwagting 15% beter is, en hul leeftydproduksie met 30% styg in vergelyking met suiwergeteelde koeie.
Louis Steyl, uitvoerende hoof van Bonsmara SA, sê kruisteling raak wêreldwyd belangriker vir beesvleisproduksie. Verskeie wetenskaplik-gefundeerde studies bevestig dat aansienlike verbetering in vleisbeesproduksie moontlik is deur kruisteelstelsels te gebruik. Ongelukkig dui dié studies ook aan dat kruisteelprogramme dikwels nie goed deurdink en optimaal bestuur word nie, wat tot die verbastering van beesrasse lei en die voordele van basterkrag verlore laat gaan.
Belangrikheid van rasegte bulle
Rasegte bulle is nodig vir ’n geslaagde kruisteelprogram. Dié stelsel is nie ’n eenvoudige praktyk nie, want dit vereis ’n hoë vlak van bestuursvernuf, goeie infrastruktuur en die deurlopende voorsiening van rasegte teelmateriaal.
Bulle maak net sowat 3 tot 4% van die diere in ’n teelkudde uit, maar hy dra 50% van die eienskappe van elke kalf by. Altesaam 87% van die genetiese samestelling van ’n kalf word bepaal deur die bulle wat in die laaste drie geslagte in die kudde gebruik is. Tot 90% van die genetiese vordering in ’n kudde word deur bulseleksie bewerkstellig.

Dat rasegte bulle die prestasie van ’n vleisbeeskudde werklik verhoog, word weerspieël deur die resultate van ’n proef waarin die speenkalwers van drie suiwer rasse op ouderdom 205 dae gemiddeld 186kg geweeg het. Waar suiwer koeie met van die ander rasse se bulle gekruis was, het die F1-kalwers gemiddeld 200kg geweeg. Met rasegte bulle wat op F1-koeie uit die kruisings gebruik is, het die speenkalwers gemiddeld 208kg geweeg.
Dieselfde vordering word egter nie gemaak as kruisrasbulle op suiwer of kruiskoeie gebruik word nie.
Bonsmaras en Brahmane
Louis sê die Bonsmara kan met welslae in verskeie kruisteelstelsels gebruik word. Saamgestelde rasse wat opgebou is uit twee, drie en vier suiwer rasse, behou onderskeidelik 50, 67 en 75% van die maksimum kalf- en moederbasterkrag, en verbeter produksie met 12, 15 en 17% onderskeidelik.
Oor die algemeen is die vlak van basterkrag groter in swak omgewingstoestande waar die inheemse beesrasse van Afrika beter vaar. Daarom sal die persentasie van die Bos indicus– of Sanga-komponent in kruisteling wissel, afhangend van die klimaat en voedingstoestande. In die meer ongunstige klimaat van Namibië, byvoorbeeld, word aanbeveel dat Bos indicus of Sanga tot 70% in die kruisteelprogram moet wees om maksimum voordeel te trek.
Willem Barnard, ondervoorsitter van die Brahman-beestelersgenootskap van Suid-Afrika, sê kommersiële beesboere beskou basterkrag as ’n belangrike werktuig in hul produksiestelsels om kuddes te verbeter en maksimale wins te verseker. Die Brahman se vermoë om F1-koeie as topgehalte moeders vir sulke stelsels te lewer, dra regstreeks tot verhoogde beesvleisproduksie by. Daarom word daar dikwels na die Brahman verwys as die koning van kruisteling.
Die basterkrag wat die Brahman byvoorbeeld in kruisings bewerkstellig, maak die ras wêreldwyd gesog in kruisteelstelsels. Daarby is die ras ook bekend vir goeie moedereienskappe, langslewendheid, hitte- en droogteverdraagsaamheid, goeie groeipotensiaal en weerstand teen siektes en parasiete. Die ras het ’n besondere vermoë om F1-koeie as moederlyn te lewer wat dié eienskappe na haar nageslag oordra, wat produksie kan verhoog.
Navorsingsresultate uit verskillende lande het bevestig dat die Brahmane, met hul sterk raseienskappe, as Zebu-tipe beeste uitstyg en hul plek volstaan, sê Willem.
Vir meer inligting, kontak dr Japie van der Westhuizen by 082 331 9923 of japie@studbook.co.za, Louis Steyl by 084 815 9487 of louis@bonsmara.co.za, of Willem Barnard by 082 578 2664 of willem@sanlam.co.za.
