Tuesday, October 8, 2024

Genetiese vordering wat suksesvol versnel word

Estimated reading time: 7 minutes

  • Mari Roets en haar pa, Kobus Delport, bestuur die Makojalo Angusstoetery buite Potchefstroom in Noordwes.
  • Kobus, ’n geoktrooieerde rekenmeester, het die plaas Makojalo in 1999 aangekoop en sy Angusstoetery geregistreer.
  • Kobus het voortgegaan met sy Angus-stoetkudde en het later, toe Mari van die Nguni-bul ontslae moes raak, voorgestel dat hulle ’n Angusstoetbul op suiwer Nguni-verse en -koeie gebruik.
  • ‘n Eienskap van dié kruisspeenkalwers, of Anguni’s soos Mari hulle noem, is ’n hoër speenkalfgewig.
  • Alle stoetdiere wat op veiling aangebied word, is deur die Angus-telersgenootskap goedgekeur en geregistreer.

Mari Roets en haar pa, Kobus Delport, bestuur die Makojalo Angusstoetery buite Potchefstroom in Noordwes. Hulle doen die basiese dinge reg en spits hulle toe op die teling van ’n geharde, veldaangepaste, funksioneel-doeltreffende mediumraambees. Dié pa-en-dogter kombinasie behaal hierdie teeldoelwit met bloedlyne wat al verskeie kampioene oplewer het.

Die feit dat hulle met genetika eksperimenteer en dit tot hul voordeel gebruik om vinnige genetiese voortuitgang te maak, staan uit. Boonop benut hulle die voordele van kruisteling vir doeltreffende speenkalfproduksie.

’n Gedugte span

Kobus, ’n geoktrooieerde rekenmeester, het die plaas Makojalo in 1999 aangekoop en sy Angusstoetery geregistreer. Kobus het aanvanklik embriospoelings op Anguskoeie gedoen. Bonsmaraverse is as surrogate gebruik, maar die uitdagings in terme van besetting en persentasie kalwings was groot. Hy het toe stoetbulle en vroulike diere by top Angustelers soos Jurie Geldenhuys, Loutjie Campher, Brian Angus en Philip Barnard aangekoop en met puik genetika weggespring. Kobus het dit ook uit die staanspoor geniet om te skou en sy stoetdiere het al verskeie eerbewyse ingepalm.  

Mari het haar liefde vir beeste ontdek nadat sy haar studies in toerisme en bemarking aan Noordwes Universiteit (NWU) voltooi en op die plaas uitgehelp het. Haar pa was in daardie stadium na ’n nuwe plaasbestuurder op soek. Mari is in 2014 getroud en het saam met haar man, Morné, na Kaapstad verhuis, maar was steeds by die boerdery-administrasie betrokke. Hulle het in 2020 teruggekeer en Mari bestuur sedertdien die stoet en kommersiële kudde.

‘n Kruising wat sin maak

Mari en haar ma, Louise, het in ’n stadium besluit om hul Friesperdstoet te staak en in Nguni’s belê, omdat hulle gaande was oor dié beesras. In 2008, toe Mari nog op universiteit was, het hulle tien stoet Nguni-verse, wat goeie basisverse was, en ’n Nguni-stoetbul aangeskaf. Kobus het voortgegaan met sy Angus-stoetkudde en het later, toe Mari van die Nguni-bul ontslae moes raak, voorgestel dat hulle ’n Angusstoetbul op suiwer Nguni-verse en -koeie gebruik. Dié kruisspeenkalwers het baie beïndruk en hulle kommersiële speenkalfboerdery het vlamgevat.

‘n Eienskap van dié kruisspeenkalwers, of Anguni’s soos Mari hulle noem, is ’n hoër speenkalfgewig. Al die kalwers is poena, omdat die Angus poena-geen baie sterk is. Hulle het ook ’n goeie temperament.

Hoewel sy bont Nguni-tipe speenkalwers verkies vir hul estetiese waarde, is die Angus/Nguni-kruisspeenkalwers meestal een kleur. Dit is in die breë voordelig, omdat bonttipe kalwers nie groot aftrek by voerkrale kry nie. Mari sê die Angus en Nguni het albei goeie eienskappe en hul genepoel sorg vir ’n besonderse dier wat uiters geskik is vir die voerkraal.

“Die Nguni en Angus se goeie moedereienskappe en melk staan vir my uit en as dit saamgevoeg word, is dié kruisteelkoeie puik moeders met baie melk.”

Lees meer oor die riglyne vir voerkrale.

Sukses met reproduksietegnieke

Hulle maak in die somer (September tot einde Januarie) hoofsaaklik van natuurlike dekking in hul stoet- en kommersiële kuddes gebruik. Met natuurlike dekking word twee jonger bulle op ’n drie-tot-vier-weke grondslag in kleiner dekgroepe van sowat 35 koeie geroteer, omdat besetting in ’n kleiner bestuurbare groep koeie beter is en die bulle ruskans kry. “Die ouer bulle (’n bul in ’n groep van 40 koeie) word selde indien ooit tydens die dekseisoen geruil.”

Kunsmatige inseminasie (KI) word by haar uitskieter stoetkoeie gebruik, omdat koeie in produksie se besetting beter as dié van verse is. Hulle het wel al sukses behaal deur verse te KI. Twee siklusse word per jaar gebruik. KI word op twee groepe koeie in Oktober en November toegepas, en die res van die kudde word natuurlik gedek. Mari gebruik van hul eie stoetbulle asook plaaslike en ingevoerde semen. Sy verkies hierdie metode, omdat ’n groep van 50 of 60 koeie op ’n dag gesinkroniseer kan word en dan in ’n bestek van ’n week of twee uitmekaar kalf. “Ek dra daardie selfde groep weer oor om te laat KI, want hulle val in dieselfde kalfgroep.”

Genetika speel ’n rol in hierdie proses en nie net een bul se semenstrooitjie word per KI gebruik nie. “Ek sal maklik tien verskillende bulle se semen gebruik om verskeidenheid in te bring.”

Voordeel van embriospoelings

Haar Angus/Nguni-kruiskoeie dien as surrogaatmoeders met embriospoelings, omdat hulle vrugbaar is en goed reageer op die middels wat gebruik word. Mari selekteer haar top stoetkoeie en verse vir embriospoeling, want hoewel verse minder eierselle produseer, benodig hulle nie hormoonbehandelings nie. Hulle maak gebruik van In Vitro Africa in Parys.

Sy is ook ’n voorstander van hierdie bevrugtingsmetode, omdat meer van haar topkoeie se embrio’s in ontvangerkoeie gebruik kan word. “Al is dit ’n duur proses, glo ek dit is op die lange duur die moeite werd, omdat jy genetiese voortuitgang wil hê.”

Mari vertel ook trots dat hulle onlangs twee bulle (Red Box Mann en Bieber Let’s Roll) se semen privaat vanaf Amerika ingevoer het met die oog op embriospoelings. Vyftien embrio’s is reeds in Angus/Nguni-kruiskoeie asook in suiwer Anguskoeie ingeplant.

Speen vroeër

Hulle maak staat op BLUP-teelwaardes wat die beraamde genetiese meriete van hul stoetdiere oordra. In die kommersiële kudde teken sy die algemene inligting en agtergrond rakende dekkings, kalwings, asook speengewig aan, maar die algehele bestuur van die stoetery en kommersiële kudde ten opsigte van dek- en kalfseisoene, inentingsiklusse en voeding, vind egter op dieselfde grondslag plaas.

Koeie kalf nie in die somer nie, maar gewoonlik middel-winter, hoewel Mari nou mik om dit nader aan die einde van die winter te maak. Sy sê die risiko van parasiete en bosluisoordraagbare siektes in die somer is te groot in die gebied waar hulle kuddes ekstensief op hoofsaaklik aangeplante Smutsvingergras (70%) aangehou word.

Kalwers word op sewe maande (tussen Januarie tot selfs in April) gespeen en die kommersiële kruisteelbulkalwers word aan voerkrale gelewer. Stoetkalwers word geselekteer en vir die stoet en kommersiële mark grootgemaak. Mari sê sy verkies om op hierdie ouderdom te speen, want dit gee aan haar koeie genoegsame tyd om te herstel voordat hulle weer moet kalf. ’n Koei se uier moet rus.

Sy glo as kalwers volgens gewig gespeen word, kan dit op agt tot nege maande geskied, maar sy speen vroeër sodat sy die koeie ‘regverdig kan beoordeel’ as al die kalwers op dieselfde tydstip gespeen word.

Lees meer oor driegasheerbosluise.

Seleksie van diere

Vroulike diere word streng op grond van produksie- en reproduksiewaardes geselekteer. Mari sê koeie wat nie hul kalwers tot op sewe maande kan grootmaak nie en ’n ligte kalf speen, word uitgeskot, want ’n ondergemiddelde speenkalfgewig is vir haar onvoldoende. Sy neem egter omgewingsfaktore en die ouderdom van die moeder (ou koeie en eerstekalfkoeie speen soms ligter kalwers) in ag voordat koeie uitgeskot word. Mari bepaal ook of die koei/kalf in ’n stadium siek was of beserings opgedoen het.

Sy selekteer ook vir mediumraamkoeie, omdat dié diere op die einde van die dag dieselfde kalf as ’n grootraamkoei kan produseer. Besetting op grootraamkoeie is soms laer. Hierdie diere kry in wintermaande ook swaar op die veld. Bulle word volgens strukturele korrektheid en BLUP-syfers geselekteer.

As gevolg van die stoetery se goeie syfers, het sy nog maar min diere uitgeskot. Sy plaas egter geen uitskotdiere terug in die mark nie.

Lees meer oor die seleksie van Bonsmaras.

Alle stoetdiere wat op veiling aangebied word, is deur die Angus-telersgenootskap goedgekeur en geregistreer. Vanjaar kan voornemende kopers uitsien na Makojalo en vriende se jaarlikse produksieveiling wat op 23 Augustus op die plaas buite Potchefstroom plaasvind. ’n Verskeidenheid stoet- en kommersiële diere word aangebied en daar is ook verskeie gasverkopers. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Mari Roets by 084 601 0263 of mariroets@icloud.com.

Wees lief vir jou motor

Estimated reading time: 4 minutes “Waarom poets Mbali ons Stout se wiele blink?” vra Gert...

Boosting communal sheep production

Estimated reading time: 8 minutes The National Wool Growers’ Association (NWGA) has significantly increased wool...

Veldverbetering is ’n 100-jaar wedloop

Estimated reading time: 7 minutes Charl, 2024 se Veeplaas Klimaatslim-ambassadeur, sê dit is vir hom...

A healthy gut makes for a healthy pig

Estimated reading time: 5 minutes The diets of healthy pigs consist of a series of...