Estimated reading time: 3 minutes
Na meer as ’n jaar het ’n enkele Suid-Afrikaanse hoenderplaas die regering se seën ontvang om teen voëlgriep in te ent.
Suid-Afrika se grootste geïntegreerde braaikuikenprodusent, Astral Foods, het geskiedenis gemaak toe hy in Junie die goedkeuring van die Nasionale Departement van Landbou (NDL) gekry het. Ná ’n 18-maande lange, intensiewe aansoekproses om aan die voorgeskrewe protokolle en hoë biosekuriteitsmaatreëls te voldoen, het die NDL se Direktoraat Dieregesondheid goedkeuring verleen.
Izaak Breitenbach, uitvoerende hoof van die braaikuikenafdeling by die SA Pluimveevereniging (SAPV) sê Astral Foods se goedkeuring is ’n geskiedkundige oomblik vir die hoenderbedryf. Hulle het dit ook met die minister van landbou, John Steenhuisen, opgeneem om hierdie toegewing meer toeganklik vir ander produsente te maak. Volgens Breitenbach behoort ’n goeie inentingsprogram – tesame met goeie biosekuriteitsmaatreëls – onontbeerlik vir alle hoenderplase te wees.
Inentingsprogram vir H5-stam
Hoewel hierdie groen lig tot ’n enkele Astral Foods-plaas beperk is, is dit steeds uitstekende nuus onder meer omdat hierdie een van hul grootste hoenderplase in Gauteng is, volgens Gary Arnold, uitvoerende hoof van Astral Foods. Daar gaan so spoedig moontlik met die inentingsprogram begin word. Arnold beklemtoon dat proaktiewe optrede om siektes onder braaikuikens te voorkom deel van Astral Foods se strategie vorm om aan Suid-Afrikaners voedselsekerheid en -veiligheid te bied.
Die voëls sal teen die H5-stam van voëlgriep ingeënt word. Die entstof is reeds met groot sukses in ander dele van die wêreld gebruik. Dit is egter nie geskik vir die H7-stam van voëlgriep, wat Suid-Afrika in 2023 ervaar het nie. Die huidige algemene siekterisiko – wêreldwyd én plaaslik – is die H5-stam. ’n Plaaslik-vervaardigde H7-entstof wag nog op finale registrasie.
Pluimveebedryf het hulp nodig
In 2023 het hoenderprodusente swaar onder ’n voëlgriep-uitbreking gebuk gegaan wat die bedryf R9,5 miljard gekos het. Hierdie terugslag moes by verbruikers verhaal word. Breitenbach sê om die siekte te beheer moes sowat 30% van die land se produserende hoenders van kant gemaak word – ’n geweldige slag vir beide die hoendervleis- en eierproduksie in die land.
Breitenbach noem dat daar die afgelope week twee gevalle van voëlgriep aangemeld is, maar indien meer produsente toestemming kry om hul pluimvee in te ent, kan ’n volgende uitbreking betyds gekeer word. Hy meen dit moes lankal reeds gebeur het, maar ’n volgende uitbreking is steeds keerbaar.
Beheer deur in te enting, nie uit te skot nie
Breitenbach het benadruk dat voëlgriep nie beheer kan word deur pluimvee uit te skot nie. Produsente kan dit nie langer bekostig nie, en die bedryf as geheel kan nie nóg ’n R9,5 miljard-terugslag oorleef nie.
“In 2023 het eierpryse die hoogte ingeskiet en hoendervleis het weens voëlgriep ook te duur geword. As meer produsente toestemming kry om in Astral Foods se voetspore te volg en hul diere in te ent, kan ons ’n verdere uitspattige prysverhoging keer,” sê hy. Hy glo dit is die enigste manier om ’n uitbreking van die omvang van die 2023-uitbreking te voorkom, en voedselsekerheid in die land te verseker. — Koos du Pisanie, Plaas Media


