Biosekuriteit in Suid-Afrika: Die perfekte storm?

Estimated reading time: 3 minutes

Hoewel kommersiële landbou noodsaaklik is om voedselsekerheid vir ‘n groeiende bevolking te verseker, hou dit baie uitdagings in. Een hiervan is die verhoogde risiko van siekte-uitbreking weens veeboerdery op intensiewe skaal, waar diere na aan mekaar lewe. Min lande was die afgelope jare verplig om siektes te bestuur soos wat Suid-Afrika was.

Read this in English.

Verskeie kundiges is dit eens dat die feitlik gelyktydige uitbreking van siektes deur verskeie faktore gedryf word. Dit sluit die volgende in:

  • Onverantwoordelike of onwettige beweging van diere.
  • ‘n Gebrek aan staatstoesig, inentings en behoorlike bewustheid.
  • ‘n Gebrek aan kapasiteit om beheermaatreëls te versterk.
  • Min tot geen staatsbefondsing.

Wat is die uitdagings vir biosekuriteit?

Die protokol vir beheerde siektes soos bek-en-klouseer en voëlgriep is om alle plase wat geraak word onder streng kwarantyn te plaas, alle oorlewende diere van kant te maak en so vinnig as moontlik van die karkasse ontslae te raak om te verhoed dat siektes versprei.

Ongelukkig het so ‘n stelsel baie leemtes. Staatsveeartsenydienste het nie genoeg hulpbronne om die uitbreek van siektes doeltreffend te bestuur nie en, omdat die staat produsente nie vir hul verliese vergoed nie, is hulle huiwerig om te voldoen aan opdragte om van die diere ontslae te raak, wat daartoe lei dat siektes versprei.

Entstowwe is ook ‘n probleem, en nadat produksielyne by die staatsbeheerde Onderstepoort Biologiese Produkte onklaar geraak het, het die bedryf vroeër vanjaar ‘n ernstige tekort aan entstowwe vir bek-en-klouseer ondervind.

Verbasend genoeg is voëlgriep-entstowwe nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar volgens verslae is regering se gesprekke om toegang te finaliseer in ‘n gevorderde stadium en word die registrasie van hierdie medisyne bespoedig.

Die impak is fel

Ongelukkig bedreig hierdie situasie die lewensbestaan van kommersiële en kleinskaalse produsente, asook die 500 000 mense wat in die veebedryf werksaam is. Daarmee saam is die ontwrigting van plaaslike, nasionale en internasionale markte nog ‘n groot probleem.

Volgens Trade Map se data, het beesvleis slegs sowat 1% van landbou-uitvoere in 2022 verteenwoordig, maar dit was 12% minder as die vorige jaar, hoofsaaklik weens die noodgedwonge sluiting van baie uitvoermarkte na die uitbreking van bek-en-klouseer.

Die wol- en varkbedryf is ook swaar getref. Die data het ook getoon dat China, ‘n beduidende mark vir Suid-Afrikaanse wol, invoere in 2022 opgeskort het, wat ‘n jaar-tot-jaar-afname van 21% in die uitvoerwaarde van wol daardie jaar tot gevolg gehad het.

Namibië, wat voor Augustus 2022 Suid-Afrika se grootste mark vir varkvleisuitvoere was, het ‘n verbod op Suid-Afrikaanse varkvleis ingestel weens die vrees dat dié siekte na varke kan versprei. Dit het egter nog nie enige varke in Suid-Afrika aangetas nie.

Buiten die probleme wat bek-en-klouseer meebring, is die varkbedryf teen die einde van verlede jaar onder meer druk geplaas toe gevalle van Afrika-varkpes aangemeld is. Meer onlangs moes pluimveeboere voëlgriep hanteer en sowat ‘n kwart van Suid-Afrika se hoenders het gevrek of is van kant gemaak. Telers van lêhenne en braaikuikens het tot dusver verliese van sowat $25 miljoen, oftewel R460 miljoen, gely.

Wat moet in terme van biosekuriteit verander?

Kundiges stem saam dat beide regerings- en bedryfsrolspelers aanspreeklikheid vir biosekuriteit moet aanvaar en saam moet werk om die situasie aan te spreek. Ongelukkig is daar wantroue tussen die privaatsektor en staatsorganisasies. Verskille moet opsy geskuif word en plek maak vir nuwe en innoverende denke om die saak te beredder.

Die afwesigheid van ‘n betroubare nasionale siektebeheerstelsel laat die versekering van voedselveiligheid, landboufinansiering en vertroue tussen verbruikers en produsente in die weegskaal, met produsente wat die swaarste aan die gevolglike finansiële druk dra.

Die Suid-Afrikaanse landbousektor staar baie dringende uitdagings in die gesig. Biosekuriteit moet as een van die dringendste erken word – die land se voedselsekerheid en uitvoerpotensiaal hang daarvan af. – Deur John Hudson, nasionale hoof van landbou by Nedbank

Dink groter. Dink Nedbank Kommersiële Banksake.

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na agriculture@nedbank.co.za.

Sinkronisasie by skape: Voordele, nadele, tegnieke en vangplekke

Estimated reading time: 7 minutes Skape se teelsiklus word beheer deur twee hormone, naamlik...

Meganiese veldherstel: Kies die regte ploeg vir die regte doel

Estimated reading time: 8 minutes Klimaatsverandering sal vorentoe ‘n al hoe groter rol speel...

Die hof se bevoegdheid om deliktuele eise te bereg

Estimated reading time: 5 minutes ’n Delik kan omskryf word as die daad van...

Protect your livestock from two-host ticks

Estimated reading time: 5 minutes Ticks are small, external parasitic arachnids that belong to...