As vrotpootjie vastrapplek kry

Estimated reading time: 4 minutes

Mankheid by skape het verskeie oorsake — van aangebore afwykings, infeksies en voedingstekorte tot vergiftiging, parasiete en beserings. Die vernaamste oorsake is egter infeksies soos vrotpootjie en sweerklou. Mankheid is egter bloot ’n kliniese teken en daarom moet elke klou, gewrig en been deeglik ondersoek word om die onderliggende oorsaak so akkuraat as moontlik te bepaal. Indien dit nie ’n besering, doring of bosluis tussen die kloue is nie, moet die veearts geraadpleeg word.

Lees ‘n artikel hier oor mankheid by skape.

Die erns van vrotpootjie

Dr Paul Reynolds, ’n veearts by die Warden Dierehospitaal, sê ‘n onderskeid moet getref word tussen vrotpootjie en oorerflike hoefprobleme, asook laminitis wat deur suurpens en hoefkrake veroorsaak word. Vrotpootjie word deur die hoogs aansteeklike bakterie, Dichelobacter nodosus, veroorsaak. Diere met sagte hoewe as gevolg van vog, of wat sere op die hoewe of omliggende weefsel ontwikkel weens bosluisbyte, snye of skeurtjies, is veral vatbaar want die bakterie kan maklik die dieperliggende weefsel via beskadigde vel binnedring.

Die kliniese voorkoms van vrotpootjie kan wissel. Dit kan begin met ‘n geringe swelling tussen die kloue tot ernstige gevalle waar ‘n duidelik sigbare swartgrys, smetterige, stink vloeistof vorm. Hierdie toestand verswak die dier se algemene kondisie en aangetaste skape sal eerder lê as om aktief na weiding te soek.

Vrotpootjie kom in drie fases voor: Fase 1 behels swelling en inflammasie van die vel tussen die kloue, wat met pyn en mankheid gepaard gaan; fase 2 behels ‘n breuk of oopskeer van die interdigitale vel; en fase 3 behels abnormale weefselgroei wat in die interdigitale area vorm aanneem.

Mankheidsprobleme ontstaan dikwels in die somer, veral wanneer skape ‘n paar maande vantevore op landerye (mieliereste) gewei het. Dan is die sondebok nie altyd vrotpootjie nie, maar eerder hoefabsesse weens die verswakking van die hoefaanhegting aan die sool. Dié toestand word dikwels aan ‘n voedingsteurnis toegeskryf wat die hoef struktureel laat verswak, kraak en uiteindelik oopbreek.

Vuilgoed kan dan die onderliggende weefsel binnedring. “Wanneer ‘n hoefabses teenwoordig is, sien ‘n mens dikwels ‘n knoppie wat bo die hoef vorm, of dat die abses by die kroon van die hoef oopbreek.”

Voorkoming is beter as genesing

Vrotpootjie word meestal oorgedra in misbevuilde krale of areas waar skape dig saamgegroepeer is, soos rondom waterbakke. Behandeling is arbeidsintensief en tydrowend. Daar is tans geen geregistreerde entstof vir vrotpootjie beskikbaar nie. Tree dus proaktief op deur die risikofaktore te bestuur.

Die bakterieë wat vrotpootjie veroorsaak kan nie in ‘n alkaliese omgewing oorleef nie. Bestrooi dus krale en ander hoë-risiko areas gereeld met landboukalk. Die kalk kan in die krale self gestrooi word, en op die voetpaaie waarlangs die skape in en uit die kraal beweeg.

Skape kan ook voorkomend elke 30 dae deur ‘n voetbad gelei word. Voetbaddens wat ‘n 1% kopersulfaat- of formalienoplossing bevat, is doeltreffend en kan help om uitbrekings vroegtydig te stuit. Ander opsies sluit ‘n 10% sinksulfaat-oplossing in wat ook suksesvol gebruik kan word om die verspreiding van die siekte te beperk.

Kloue moet gereeld geknip word om oormatige groei te voorkom, en infeksies en klouprobleme vroegtydig te identifiseer. Diere moet ook voldoende vitamiene en minerale ontvang, aangesien dit hul immuunstelsel versterk sodat hulle infeksies soos dié kan beveg.

Nog ’n belangrike voorkomende maatreël is korrekte sinkvlakke in voeding. Goeie voeding, tesame met sinkaanvullings, speel ’n belangrike rol in die versterking van die hoewe, mits dit betyds voorsien word. ’n Multiminerale inspuiting of lekblokke kan as sinkaanvulling gegee word. Nog ’n belangrike mikromineraal is koper wat help om die dier se kloue en vel gesond en sterk te hou.

Dr Reynolds sê vrotpootjie is hoogs aansteeklik. Produsente moet versigtig wees wanneer hulle diere aankoop, aangesien dit ‘n biosekuriteitsrisiko vir hul plaas inhou. Nuut-aangekoopte diere moet vir minstens 30 dae onder kwarantyn geplaas word om enige moontlike besmetting te voorkom. Die bakterie wat vrotpootjie veroorsaak, kan ook lewerabsesse meebring wat daartoe kan lei dat karkasse by abattoirs afgekeur word.

Behandeling

Wanneer vrotpootjie bespeur word, moet ’n veearts se hulp ingeroep word en die aanbevelings noukeurig gevolg word. ’n Voetbad met kopersulfaat, sinksulfaat of formalien word meestal gebruik, maar moet teen die korrekte dosis en regte kontaktyd toegepas word om doeltreffend te wees. Aangetaste diere, veral in die eerste fase van besmetting, moet vir 30 dae gekwarantyn word om verdere verspreiding te voorkom.

As die diere reeds siek is, moet antibiotika met tulatromisien of tetrasiklien toegedien word. Dit is ook belangrik om ‘n pynstiller saam met die antibiotika toe te dien. Die dier se toestand sal soms ná die toediening van antibiotika nie verbeter nie, juis omdat die klou steeds seer is. Pynbestuur is dus noodsaaklik. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Paul Reynolds by 082 587 7607 of e-pos wardendier@gmail.com

Must read

Agri Wes-Kaap stel Jongboer van die Jaar 2026-kandidate bekend

Estimated reading time: 4 minutes Agri Wes-Kaap het vandeesweek die kandidate vir sy 2026 Agri Wes-Kaap Santam Jongboer van die Jaar-kompetisie aangekondig. Die organisasie het...

Biosecurity under pressure: What it means for South African agriculture

Estimated reading time: 4 minutes Biosecurity has become one of the most pressing challenges facing South African agriculture in 2026. This is underscored by the...

Karoo Winter Wool Festival returns in 2026 – better than ever!

Estimated reading time: 5 minutes This July, all roads once again lead to the heart of the Karoo and the historic town of Middelburg in...

Oorvloedige reën bring hoop én uitdagings vir Noord-Kaapse produsente

Estimated reading time: 2 minutes Almal in die Noord-Kaap het verwag dat boere die winter met ’n swaar hart sou ingaan. Die reën het egter...

Stamboek Times Mei 2026

Die jongste weergawe van SA Stamboek se nuusbrief, Stamboek Times, is nou beskikbaar. In die Mei-uitgawe kan lesers uitsien na die volgende: BGP2: Jaar 3 skop...