Tuesday, December 16, 2025

Aartappelpryse laat boere verslae

Estimated reading time: 4 minutes

Die onmiddellike toekoms vir aartappelboere in die Wes-Vrystaat, Oos-Vrystaat, Noord-Kaap, en Limpopo, lyk donker. Die huidige plaashekprys vir aartappels het in die hek geduik. Waar boere verlede jaar hierdie tyd nog R128 per sakkie ontvang het, is die prys nou beswaarlik R45 per sakkie.

FP Coetzee, bestuurder van inligting en streeksdienste by Aartappels SA, sê die afgelope jaar het die klimaat goed saamgewerk en ’n uitstekende aartappeloes is ingebring, maar ongelukkig het die goeie oes ook twee keer ’n bottelnek veroorsaak.

Figure 1: Totale hoeveelheid 10kg-sakke wat op markte verkoop is. (Bron: Aartappels SA)

Bottelnekke verduidelik

In April was daar baie vakansiedae en boonop was die reënmeters vol. Gevolglik kon aartappelboere nie die oes uithaal nie, omdat die lande te nat was. Dus was daar in Mei ’n rekordoes gewees. Dit was die eerste keer dat die aartappelpryse onder geweldige druk gekom het. Sommige streke was tot ’n maand laat met hul oes en het dus langer in die ander streke se bemarkingsvenster geboer.  In Augustus  was daar ook rekordvolumes aartappels in die mark, wat die prys weer onder druk geplaas het. Waar daar jaarliks gemiddeld 8 miljoen sakkies in Augustus ontvang word, het die oes vanjaar sowat 11 miljoen sakkies opgelewer.

Coetzee sê daar is eintlik drie redes vir die oormatige oorskot van aartappels wat die mark nou tref. Verlede jaar het die boere goeie pryse gekry en die gevolg was dat daar vanjaar heelwat meer hektare aangeplant is. Die tweede rede is die geweldige goeie oeste wat van Limpopo af kom. As Limpopo in volle produksie is neem hulle tot 80% van die markaandeel. Die derde rede is dat dele van Vrystaat eers ’n maand later as normaal in die mark gekom het.

Pryse het reeds tot so laag as R3,50 per kilogram gedaal en volgens Coetzee is dit sowat R2 onder die produksiekoste. Dit is nie ’n lewensvatbare prys nie en in baie gevalle breek die boere nie eens gelyk nie.

Coetzee verwag dat die pryse nog kan daal afhangend van die oeste wat van Limpopo af moet inkom. Die volle oes is nog nie in die mark nie en die prys van aartappels sal verder beïnvloed word afhangend van wat die boere in Limpopo gaan doen.

Swak pryse was verwag

“Ons het hierdie daling in pryse verwag. In die verlede het ons al geleer dat in die goeie jare is daar gewoonlik in die volgende jare meer boere wat hektare aanplant en die gevolg is ’n ooraanbod van aartappels,” sê Coetzee.

Verlede jaar is daar teen die einde van September sowat 75 miljoen sakkies aartappels teen ’n gemiddelde prys van R67,98 verkoop. Vanjaar is daar reeds 80 miljoen sakkies verkoop en die gemiddelde prys vir die jaar is R55,48.

Coetzee verwag dat sommige boere die bedryf gaan verlaat, afhangend van hoe hul boerderystrukture opgestel is. Diegene wat in die goeie jare finansiële voorsiening gemaak het vir so ’n tendens sal dit nog kan oorleef.

Figure 2: JHB-mark daagliks: Pryse van top-10% teenoor laagste 10% – Klas 1 medium (vanaf Januarie 2025). (Bron: Aartappels SA)

Poging tot krisisbestuur

Volgens Coetzee poog Aartappels SA om die bedryf deur hierdie krisis te bestuur deur produsente aan te moedig om laer klas aartappels te verwyder ten einde die aanbod te verminder. “Baie van die ooraanbod word ook deur boere gebruik as voer vir hul beeste en wild, en hulle ondersteun ook verskeie projekte waar die armstes van die armes met voedsel ondersteun word.

Hy verduidelik ook dat die uitvoermark tans geen verskil aan die ooraanbod maak nie. Aartappels word wel na naburige lande uitgevoer soos Botswana, Mosambiek, Zimbabwe, en Namibië – en vanaf Namibië gaan daar ook van die aartappel na Angola – maar dit is steeds nie genoeg om die binnelandse vraag en aanbod reg te trek nie. Hy sê daar word tans na ander uitvoerlande, soos Rusland, gekyk met ’n goeie moontlikheid om in die 2026-seisoen aartappels daarheen uit te voer.

Die verbruiker trek voordeel

Vir die korttermyn lyk die sake goed vir die verbruiker. Die prys wat die boer op die varsproduktemark kry, word meestal ook na die verbruiker deurgevoer, sê Coetzee. “Ons hoop dat diegene wat nooit aartappels gekoop het nie, nou gaan begin koop en as die prys in die toekoms weer styg gaan hulle hopelik steeds aartappels koop. Op dié manier verwag ons dat die markaandeel sal styg, maar op die oomblik lyk dit nie vir die produsente goed nie.” – Koos du Pisanie, Plaas Media

Skakel FP Coetzee by 071 606 9675 vir meer inligting.

Related Posts

Chubby Chick: Verdagte aangekla vir dubbele moord

Estimated reading time: 3 minutes Die 73-jarige verdagte, wat verbind...

Wheat farmers financially strained as Section 7 investigation looms

Estimated reading time: 5 minutes The Wheat Forum has applied...

Agri X Fusion 2026 to align research and industry for the future of South Africa’s red meat sector

Estimated reading time: 2 minutes Agri X, in partnership with...

Chubby Chick skietvoorval – tweede direkteur sterf

Estimated reading time: 6 minutes Deon Fourie, mede-direkteur van Chubby...

Voer oppad na kurkdroë Boesmanland

Estimated reading time: 3 minutes Terwyl swaar reënbuie die afgelope...

BEK-oorwinning laat Wes-Kaap juig

Estimated reading time: 3 minutes Wes-Kaap kan BEK-beeste begin slag Agri...