Die toekoms is goud vir kanola in Suid-Afrika

Estimated reading time: 3 minutes

Corné Louw, landbou-ekonoom by Graan SA, het die paneelbespreking gelei.

Graan SA het vanjaar by NAMPO Kaap die geleentheid gebruik om groei in Suid-Afrika se kanolabedryf te bespreek. Die gewas het die afgelope dekade sterk momentum gekry en toenemend van ’n alternatiewe gewas na ’n belangrike komponent van wisselboustelsels in die land ontwikkel.

Die gesprek het op verskeie fasette van kanolaverbouing gefokus. Die paneel was dit eens dat dit belangrik is om kennis op produsentevlak te verbreed en dat produsente vennote kies wat waarde tot hul boerdery voeg. Net soos genetiese verbetering oor dekades heen mielie-opbrengste verhoog het, word soortgelyke beginsels nou op kanola toegepas. Die fokus is onder meer op kultivars wat beter by hitte, droogte en ander klimaatsuitdagings aangepas is. Navorsing ondersoek ook die vermoë van plante om hul reproduktiewe funksies tydens hoë temperature te behou.

Swartstamweerstand bly ’n belangrike prioriteit. Die feit dat verskeie gene tot die plant se weerstand kan bydra, kan help om weerstand meer volhoubaar te maak. Kultivarwisseling en goeie wisselbou bly egter noodsaaklik vir die bestuur van siektedruk.

Nuwe moontlikhede

Internasionale navorsing wat tans, veral in Australië, gedoen word, bied verdere geleenthede. Nuwe genetika word onder uiteenlopende klimaats- en strestoestande getoets voordat dit vir ander streke oorweeg kan word. Die vergelyking van Australiese en Suid-Afrikaanse data kan wel help om genetika te identifiseer wat plaaslik die beste sal presteer.

Volgens Piet Lombard van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, lê verdere groei hoofsaaklik in die kombinasie van genetiese vordering en beter boerderypraktyke.

Die uitbreiding van kanola na die noordelike en binnelandse gebiede bied nuwe moontlikhede, maar bied ook uitdagings. Die gesprek het beklemtoon dat produsente veral aandag aan die plantdatum, hitte, ryp en die gewas se groeipatrone moet gee. Volgens Piet Lombard, ‘n navorser verbonde aan die Wes-Kaapse Departement van Landbou, dui navorsing daarop dat ’n April-plantdatum in sekere besproeiingsgebiede voordelig kan wees. Dit is egter belangrik dat blomtyd teen die tweede helfte van Julie plaasvind om blootstelling aan latere hitte te beperk.

Kanola se vermoë om risiko binne ’n wisselboustelsel te versprei, is nog ’n rede vir die gewas se groeiende gewildheid. Dit bied nie net ’n inkomste uit die gewas self nie, maar kan ook ’n boerderystelsel se totale risiko verlaag. Tegnologie, verbeterde agronomiese kennis en moderne oes- en spuittoerusting het die praktiese bestuur van die gewas verder vergemaklik.

Lombard het ook daarop gewys dat opbrengste oor die afgelope dekade gemiddeld met sowat 3% per jaar toegeneem het. Kultivarproewe spreek van selfs groter potensiaal indien genetika met goeie bestuurspraktyke gekombineer word. Die volgende uitdaging is die volhoubare bestuur van groei. Met verdere genetiese ontwikkeling, beter siekteweerstand, klimaatsaanpassing, agronomiese kennis en gevestigde markte, lyk kanola se toekoms blink en is daar ’n sterk grondslag vir toekomstige uitbreiding. – Carin Venter, Plaas Media

Popular stories