NWKV vier ‘n eeu van trotste vooruitgang met daadwerklike aksie

Estimated reading time: 9 minutes

Vir meer as ’n eeu ondersteun die NWKV kommunale wolprodusente en dra hulle by tot ’n volhoubare wolbedryf.

‘n Eeu van deursettingsvermoë, aanpasbaarheid en toewyding aan ’n bedryf wat ’n integrale deel van die Suid-Afrikaanse landbou vorm. Dit is hoe Billy van Zyl, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), die organisasie beskryf het wat vanjaar ‘n eeu oud is. In sy voorsittersverslag tydens die NWKV se 95ste kongres by Jeffreysbaai in Junie vanjaar, het hy gesê: “Hierdie mylpaal bied ons die geleentheid om nie net terug te kyk op ’n trotse geskiedenis nie, maar ook om krities te besin oor die uitdagings en geleenthede wat die toekoms vir ons inhou.”

Vanjaar se kongrestema was “Ons eer ons erfenis, ons weef ons toekoms”. Van Zyl het gesê die NWKV is ‘n organisasie met ‘n sterk fondament waarop voortgebou kan word, maar dat die pad vorentoe ‘n eie verantwoordelikheid is. Met verwysing na ongeveer ses jaar waarin wolpryse onder druk verkeer het, het die bedryf oor die afgelope anderhalfseisoen ’n sterk opwaartse beweging en hernude positiwiteit in beide die internasionale en plaaslike wolmark beleef. In die huidige seisoen is ’n styging van meer as 50% in die gemiddelde wolprys beleef.

Van Zyl het klem gelê op die feit dat Suid-Afrikaanse wol internasionaal erken word as ’n produk van uitstekende gehalte, met ‘n reputasie vir fynheid, suiwerheid, goeie voorbereiding en naspeurbaarheid. In hierdie opsig het hy ook verwys na etiese, verantwoordelike en volhoubare wolproduksie op grond van standaarde soos die Cape Wools Volhoubaarheidstandaard, Verantwoordelike Wolstandaard, Nativa en ander stelsels.

Hy het die NWKV se rigtinggewende rol uitgelig en klem gelê op die organisasie se visie ten opsigte van die opheffing van kommunale produsente, sodat hulle in die formele bedryf opgeneem word.

Wol as ’n voorloper

Prof Johann Kirsten, welbekende landbou-ekonoom verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, was die gasspreker. Hy het in sy voordrag daarop gewys dat wol nog altyd ‘n integrale deel van die Suid-Afrikaanse ekonomie was. Trouens, in 1866 was wol vir 71% van die bruto binnelandse produk van die Kaapkolonie verantwoordelik, het hy gesê.

Soos wat ander bedrywe in die land ontwikkel het, het hierdie syfer uit die aard van die saak dramaties afgeneem, maar die Suid-Afrikaanse wolbedryf speel steeds ‘n prominente rol in die internasionale wolbedryf en is steeds ‘n belangrike faset van die Suid-Afrikaanse landbou-ekonomie. Wol het byvoorbeeld oor die afgelope 60 jaar telkens onder die top tien landbou-uitvoerprodukte presteer.

Hy het ook verwys na die sukses van kommunale wolproduksie. Verlede jaar alleen, het R283 miljoen uit wolproduksie in daardie gemeenskappe ingevloei, waar hulle 25 jaar gelede feitlik geen inkomste uit wol verdien het nie. Dit, het hy gesê, is ‘n goeie voorbeeld van wat kan gebeur as bestaansboerdery opgehef en in kommersiële bedrywe omvorm word.

Formaliteite en leierskap

In sy operasionele impakverslag het Dan Kriek, algemene bestuurder by die NWKV, op nege fasette van die organisasie se bedrywighede gefokus, naamlik kommersiële adviesdienste, opleiding en ontwikkeling, kommunale produksie-adviesdienste, kleinboer-ontwikkeling en -opleiding, skeeropleiding, die organisasie se kommunikasiestrategie, rampversekering deur Hollard, die bedreiging wat Slenkdalkoors inhou, asook predasiebestuur.

Die organisasie het ook sy gesogte ramtoekennings oorhandig. Drie silwerramtoekennings is gemaak aan voormalige NWKV-bestuurder, Leon de Beer, predasiekenner Niël Viljoen, en die organisasie se voormalige finansiële bestuurder, Patti Myburgh. Die goue ram-toekenning het gegaan aan SK Makinana, wat vir sy toewyding tot die bevordering van kommunale wolproduksie vereer is. Makinana het vir 18 jaar in georganiseerde landbou- en wolstrukture gedien.

Van links is Bonita Francis, die NWKV se skakelbeampte, by Nenekazi Makinana, dogter van vanjaar se wenner van ‘n goue ram-toekenning, SK Makinana. Regs is die NWKV se voorsitter, Billy van Zyl.

Die organisasie se voormalige leierskap is ook eenvormig herverkies. Billy van Zyl, Herman Archer en Zolani Tsheko sal ‘n nuwe termyn as onderskeidelik voorsitter en mede-ondervoorsitters aanpak.

Van links is die NWKV se algemene bestuurder, Dan Kriek, by die herverkose uitvoerende bestuur, voorsitter Billy van Zyl, en mede-voorsitters Zolani Tsheko (kommunaal) en Herman Archer.

Inklusiwiteit en volhoubaarheid

Die kongres het vanjaar drie paneelbesprekings aangebied, waartydens belangrike sake wat die organisasie se strategiese rigting bepaal, bespreek is. Die eerste paneelbespreking is deur Agbiz se hoof-ekonoom, Wandile Sihlobo, gefasiliteer en het gefokus op die inklusiwiteit en volhoubaarheid van die wolbedryf. Die paneellede was Mfundo Macanda van die Oos-Kaapse Departement van Landbou, Dominic Tsoananyana, die NWKV se visevoorsitter kommunaal in die Oos-Kaap, Khanyiso Mzayifani, NWKV-produksie-adviseur, en makelaar, Sivuyile Mvinjelwa.

Die gesprek het gefokus op uitdagings soos finansiering, biosekuriteit, diefstal en gebrekkige infrastruktuur. ‘n Deurlopende tema was die behoefte aan genetiese verbetering met verskeie verwysings na die NWKV-ramprojek wat aansienlike genetiese vordering in die hand gewerk het.

Die kongres het na afloop van die sessie ‘n aantal resolusies aanvaar, waaronder:

  • Die bevestiging van sy rol as nasionale verteenwoordiger van wolprodusente en ‘n verbintenis tot die bevordering van ‘n meer inklusiewe, mededingende, volhoubare wolskaapekonomie.
  • Beter bedryfskoördinering reg oor die wolwaardeketting met die oog op verbeterde marktoegang en groepe.
  • Deurlopende skakeling met regeringstrukture ten opsigte van ‘n genetiese verbeteringsprogram en ander programme wat op dieregesondheid, produsente-ondersteuning, infrastruktuur en dies meer betrekking het.

Ander aspekte wat in die resolusies aangespreek is, was transformasie, belyning met die regering se Landbou- en Landbouverwerkings-meesterplan, ‘n geïntegreerde waardeketting en ‘n onwrikbare verbintenis tot die bevordering van wolproduksie wat klimaatsbestand is.

Klimaatsbestande wolproduksie

Die tweede paneelsessie het gefokus op klimaatsbestande wolproduksie en is deur Landbouweekblad-redakteur, Chris Burgess, gefasiliteer. Die paneel het bestaan uit veeprodusente, James Brodie en Sean Hobson, navorsers, prof James Blignaut van Universiteit Stellenbosch en prof JW Swanepoel van die Universiteit van die Vrystaat, asook Isak Staats, uitvoerende hoof van wol en bokhaar by BKB.

Die bespreking het klem gelê op die feit dat klimaatslim wolproduksie en herlewingspraktyke ‘n langtermyn benadering is wat oor verskeie generasies volgehou moet word. Daar is ook verwys na die waardevolle navorsing wat gedoen word in die veld van herlewingslandbou en koolstofvoetspoor van veeboerdery. Die kongres het na afloop van die sessie ‘n stel resolusies aanvaar, onder meer dat die organisasie klimaatsbestande wolproduksie sal bevorder op grond van wetenskaplike praktyke.

‘n Aantal sleutelaspekte hiervan is die verbetering van weidingsbestuur, veldherwinning, waterslim praktyke, grondgesondheid en vele meer wat aktief deur die NWKV bevorder en ondersteun sal word, onder andere deur strategiese vennootskappe en opleiding. ‘n Aksieplan sal in hierdie verband opgestel word. Die NWKV sal ook samewerking oor Suid-Afrika se onderskeie natuurlike diereveselbedrywe aanmoedig, sodat die sektor uiteindelik met een stem praat en in ‘n beter posisie is om plaaslike en internasionale markte te beïnvloed.

Nuwe fokus op wolstandaarde

Die derde paneelbespreking is deur Deon Saayman, hoof uitvoerende beampte van Cape Wools SA, gefasiliteer en het gefokus op die interafhanklikheid van biosekuriteit, volhoubaarheid en naspeurbaarheid. Die paneellede was Ravikant Sharma van die klerevervaardiger, Icebreaker, dr George de Kock, voorsitter van Cape Wools SA, Michelle Padayachee van GS1, en Paul Lynch van Standard Wool. Buiten beginsels soos naspeurbaarheid wat vertroue inboesem, het Sharma onder meer verwys na hulle pogings om die gebruik van sintetiese middels in wolgebaseerde kleredrag te verminder. Icebreaker verkry sy wol direk vanaf gekontrakteerde produsente met wie tien-jaar kontrakte aangegaan is.

Die paneel was dit eens dat biosekuriteit sentraal staan tot volhoubare marktoegang en dat naspeurbaarheidstelsels nie-voldoening sal uitwys. Kommer is wel uitgespreek oor sogenaamde oudit-uitputting onder produsente as gevolg van die hoeveelheid administrasie wat by sertifiseringsprosesse betrokke is.

Die kongres het na afloop van die bespreking ‘n aantal kongresresolusies aanvaar, onder meer dat die NWKV die gesondheid en welsyn van vee, en daarmee saam volhoubare produksiepraktyke, aktief sal promoveer. Naspeurbaarheid en die bedryf se pogings om dit via die GS1-platform te vestig, sal ondersteun word. Die NWKV het hom ook verbind tot die voortgesette toepassing van die Cape Wools Volhoubaarheidstandaard en ander sertifiseringskemas wat verseker dat Suid-Afrikaanse wol aan die hoogste etiese en omgewingstandaarde voldoen. Die NWKV sal hom daarvoor beywer dat sy lede, hetsy kommersieel of kommunaal, hierdie standaarde sal volhou.

Toekennings en eerbewyse

Die NWKV het oudergewoonte ‘n aantal toekennings oorhandig, waaronder die ekonomies-geklasseerde skeersels. Vanjaar se toekennings is deur Hollard geborg. Hulle is:

  • Derde plek: AJ Odendaal & Seuns van Morgenrood by Swellendam met ‘n persentasie van 86,81%, ‘n gemiddelde skeerselgewig van 172,1kg/baal en ‘n totale skeerselgewig van 7 573kg.
  • Tweede plek: Dennehof Trust van die plaas Dennehof by Somerset-Oos met ‘n gemiddeld van 87,22%, ‘n gemiddelde skeerselgewig van 174,17kg, en ‘n totale skeerselgewig van 13 933kg.
  • Nasionale wenner: Jasfontein Boerdery (Edms) Bpk van Jasfontein by Victoria-Wes met ‘n gemiddeld van 87,65%, ‘n gemiddelde skeerselgewig van 179,85kg, en ‘n totale skeerselgewig van 9 712kg.

Die NWKV het ook ‘n trofee oorhandig vir die hoogste prys vir die seisoen, wat behaal is deur André Christie-Smith van die Kleiheuwel Trust by Bredasdorp. Die makelaar was BKB en die koper Standard Wool. ‘n Prys van R306 is behaal (vetwol) vir hulle Merino-vag (styl 4) wat ‘n lengte van 70mm en ‘n mikron van 14,1 gemeet het.

Die NWKV se trofee vir die hoogste prys van die seisoen is oorhandig aan die Kleiheuwel Trust by Bredasdorp. Van links is Kleiheuwel se André Christie-Smith, sy vrou Pam, en Paul Lynch van Standard Wool, wat die koper van die wol was.

Skeerskure word vereer

Die NWKV het ook sy jaarlikse toekennings vir toppresterende skeerskure oorhandig. Zoetis het weer hierdie eerbewyse geborg. Vanjaar se top skeerskure is:

  • Lumanyano WGA: Beste vordering (streek 20) met ‘n gemiddelde mikron van 20,1, ‘n gemiddelde skoonopbrengs van 50,95%, ‘n gemiddelde prys van R60,47/kg en ‘n hoogste prys van R103/kg.
  • Themba Lethu WGA: Beste skeersel (streek 21) met ‘n gemiddelde mikron van 19,1, ‘n gemiddelde opbrengs van 65,24%, ‘n gemiddelde prys van R135,68/kg en ‘n hoogste prys van R165,90/kg.
  • Thornhill Wool Agricultural Primary Co-op: Besgeklasseerde skeersel (streek 23) met ‘n gemiddelde mikron van 18,8, ‘n gemiddelde skoonopbrengs van 63,68%, ‘n gemiddelde prys van R134,99/kg en ‘n hoogste prys van R185,20/kg.
  • Klein Jonas-skeerskuur: Besgeklasseerde skeersel (streek 24) met ‘n gemiddelde van 20,4 mikron en ‘n gemiddelde skoonopbrengs van 67,21%. Hulle gemiddelde prys was R101,44/kg en hulle het ‘n hoogste prys van R130,50/kg aangeteken.
  • Upper Telle-skeerskuur: Bes-geklasseerde skeersel (streek 25) en nasionale wenner met ‘n gemiddelde mikron van 20,3 en ‘n gemiddelde skoonopbrengs van 70,11%. Hulle het ‘n gemiddelde prys van R126,85/kg gehandhaaf en ‘n hoogste prys van R134,90/kg gekry.

Vanjaar se kongres is ondersteun deur verskeie borge:

  • Platinum: BKB, Hollard en Zoetis.
  • Goud: OVK, Sawamba en Voermol.
  • Silwer: Shell, Nedbank, Western National, Landbank, Woltoetsburo, King Price, Segard Masurel, Absa.
  • Brons: SSK/Umtiza.
  • Ander: Isuzu, KWV, Gerber & Co, Santam, SA Stamboek, Jakkalsvlei.
  • Mediaborg: Plaas Media.

– Lynette Louw, Plaas Media

100 jaar van wolproduksie (Deel 5): Die boublokke van ’n welvarende land

Estimated reading time: 7 minutesDie Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) betree binnekort die volgende 100 jaar...

Lantana camara: Waak teen dié struik

Estimated reading time: 3 minutesLantana-vergiftiging is een van die algemeenste vorme van plantvergiftiging by...

RPO Vrystaat-kongres: Winsgewendheid, BEK en leierskap

Estimated reading time: 3 minutes’n Besigheid moet winsgewend wees om volhoubaar te funksioneer.Die Rooivleisprodusente-organisasie...

Die geur, kleur en eer van Merino-ramveilings

Estimated reading time: 6 minutesHy het vir hom ’n geel Jaguar met ’n bedrag...