HomeAgri NewsHofbesluit bring verligting vir Gautengse wildprodusente

Hofbesluit bring verligting vir Gautengse wildprodusente

Estimated reading time: 3 minutes

Wildprodusente in Gauteng het onlangs die ontstellende nuus ontvang dat hulle, volgens wet, van sekere bokspesies op hul plase ontslae moet raak. Dit sluit springbokke, njalas en gemsbokke in. Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA), wat gereeld vir wildprodusente intree, het die saak egter na die hooggeregshof geneem en ’n oorwinning behaal.

Richard York, uitvoerende hoof van WRSA, verduidelik dat die Gautengse Departement van Sosiale Ontwikkeling, Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake besluit het dat wildprodusente in dié provinsie nie meer springbokke op die Springbokvlakte mag aanhou nie. Die rede wat aangevoer is, is dat dit as diere buite hul natuurlike verspreidingsgebied beskou word. Dit sou beteken het dat produsente binne drie jaar hierdie spesies moes uitfaseer.

Redes vir uitfaseringsopdrag

Volgens die departement het hierdie diere sowat 500 jaar gelede nie in die betrokke gebiede voorgekom nie. WRSA betwis egter dié bewering en meen daar bestaan geen betroubare historiese rekords om dit te staaf nie. Hoewel die departement aanvoer dat die diere moontlik deur die gebied getrek het, was hulle glo nie permanent daar gevestig nie.

York wys verder daarop dat sinvolle data-aantekening oor dieregetalle in Gauteng eers ongeveer 200 jaar ná Jan van Riebeeck se aankoms in 1652 van stapel gestuur is. Sedertdien het bevolkingsgroei en grondgebruik die natuurlike migrasie van wild beperk.

WRSA het aangevoer dat wildprodusente vir meer as 30 jaar al suksesvol met hierdie diere in Gauteng boer en dat die spesies goed aangepas is. Daarbenewens is dit volgens hulle onlogies dat produsente met uitheemse vee mag boer, maar nie met inheemse wild soos springbokke nie.

Wet plaas druk op wildbedryf

“WRSA is van mening dat die wetgewing onregmatig is en dat dit onbillik is om van produsente te verwag om van hul diere ontslae te raak. Diversifisering is noodsaaklik in die wildbedryf, veral vir toerisme en jag,” sê York.

Die minister van bosbou, visserye en omgewingsake, Willie Aucamp, het onlangs benadruk dat die wildbedryf ’n beduidende ekonomiese rol speel en jaarliks sowat R42 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bydra.

Verandering van die wet

In die beslissende oorwinning vir die wildbedryf, het die hooggeregshof in Pretoria ‘n bevel uitgevaardig dat sekere beperkende voorwaardes wat deur die departement in vrystellingspermitte ingesluit is, hersien en tersyde gestel moet word.

York beklemtoon dat die permitte self nie geskrap is nie en dat produsente normaal kan voortgaan met hul bedrywighede. Slegs die betrokke voorwaardes is ongeldig verklaar.

Dit sluit in:

  • Voorwaardes wat bepaal dat dierspesies buite hul natuurlike verspreidingsgebied aangehou moet word.
  • Voorwaardes wat die uitfasering van diere wat buite hul natuurlike verspreidingsgebied voorkom, verpligtend maak.
  • Voorwaardes wat vereis dat daar vir ’n intensiewe teelpermit aansoek gedoen moet word.
  • Voorwaardes wat vereis dat ’n sogenaamde ekologiese bestuursplan ingedien word.

Vir meer inligting, skakel gerus met WRSA by 012 335 6994 of stuur ’n boodskap na media@wrsa.co.za – Koos du Pisanie, Plaas Media

Must Read

RSG Landbou: 27 Augustus 2026

In vandag se aflewering van RSG Landbou is daar meer oor die belangrikheid van praktiese landbou-ervaring, die Noord-Kaap Veldramprojek se komende veiling en ons...