100 JAAR VAN WOLPRODUKSIE (Deel 1): Grondslag van die Suid-Afrikaanse wolbedryf (1789 tot 1926)

Estimated reading time: 6 minutes

JF van Huyssteen, ‘n navorser by die Suid-Afrikaanse Wolraad, het die Suid-Afrikaanse wolbedryf in 1962 in die Quarterly Journal on Agricultural Economics (Junie 1962, Vol 1, No 2) soos volg beskryf: Hoewel ons onder die vaandel van goud voortbeweeg, word ons in ‘n groot mate op die rûe van ons wolskape gedra. Wol is verweef met byna elke sektor van ons ekonomie. Anders as sekere minerale wat uitgeput is of nie meer ekonomies ontgin kan word nie, is die wolbedryf ‘n blywende bate wat deur die eeue sy stand gehou het – en steeds sal hou.

LEES MEER: Skaap se kind laat die goudtand blink.

Die jaar 2026 is ‘n belangrike mylpaal in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse wolbedryf, aangesien die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) sy 100ste bestaansjaar vier. As deel van die organisasie se eeufeesviering, kyk ons in ‘n reeks van vyf artikels na die geskiedenis van die wolbedryf in Suid-Afrika, waarvan elkeen op ‘n bepaalde ontwikkelingsfase fokus. Hierdie eerste artikel dek die tydperk van 1789 tot 1926, die fase waarin die plaaslike wolbedryf se grondslag gelê is en die tafel voorberei is vir groot prestasies wat sou volg.

Die ontstaan van die Merino

Die stuur van die eerste ses wolskape in 1789 na die Kaapkolonie het die begin van ‘n nuwe hoofstuk in die landbougeskiedenis van Suid-Afrika ingelui; een wat vandag nog voortduur.

Daardie ses skape – twee ramme en vier ooie – was afkomstig van die koning van Spanje se sogenaamde Escorial-kudde. Die oorsprong van dié Spaanse skape kan teruggespoor word na ‘n klein kudde uit die Maghreb-streek van Noord-Afrika wat deur die More na Spanje gebring is. Nadat die More verslaan is, het die skape die koning se eiendom geword en is hulle buite die El Escorial-paleis in Madrid aangehou; vandaar die naam, Escorial.

Die uitsonderlike gehalte van hul wol is gou raakgesien, en ‘n koninklike bevel is uitgereik wat die uitvoer van Escorial-skape uit Spanje verbied het. Die bevel het tot 1765 gegeld, toe koning Charles III van Spanje 100 Escorial-skape aan sy neef, Frederick Augustus I, die keurvors van Sakse, as geskenk gegee het. Met Napoleon se aanval op Spanje was die koninklike kuddes uitmekaar gedryf en was die Saksiese kudde die laaste oorblywende Escorial-kudde.

In 1789 is nog ‘n klein groep Escorial-skape as geskenk aan die Nederlandse regering gestuur. Die skape het egter nie in die Nederlandse klimaat gedy nie. Daar is gevolglik besluit om ‘n klein groepie van twee ramme en vier ooie as ‘n proefneming na die Kaapkolonie te stuur. So het Suid-Afrika die eerste land buite Europa geword wat Merino’s besit het, en is die grondslag van die uitstekende Suid-Afrikaanse wolbedryf gelê.

Die rol van kol Gordon

Die verantwoordelikheid vir die skape het by die militêre bevelvoerder aan die Kaap, kol Robert Jacob Gordon, berus. Hy was ‘n Nederlander van Skotse afkoms. Kol Gordon het onmiddellik die potensiaal van die ras besef en besluit om dit suiwer te hou. Hy het die diere op die staatsplaas, Groenkloof, sowat 55km van Kaapstad in die gebied wat vandag as Mamre bekendstaan, laat wei.

Twee jaar later, in 1791, het die Nederlandse regering versoek dat die skape teruggestuur word nadat die Spaanse kroon beswaar gemaak het teen hul uitvoer. Kol Gordon het die oorspronklike skape terugbesorg, maar hul nageslag teruggehou en sodoende verseker dat die ras in Suid-Afrika voortbestaan.

Met die oorgee van die Kaap in 1795 aan die Britte, is kol Gordon van hoogverraad beskuldig omdat hy nie sterker weerstand teen die besetting gebied het nie; hy het daarna selfmoord gepleeg. Sy weduwee het die kudde teen vier pond stuks aan verskeie kopers verkoop, waaronder twee Australiese militêre offisiere, kaptein Henry Waterhouse en luitenant William Kent. Hulle het in 1797 altesaam 26 van hierdie skape na Port Jackson in Australië vervoer.

Drie opregte ramme is egter deur die Van Reenen-broers aangekoop, en hulle voortgegaan om met die skape te teel.

Wolbedryf se vroeë pioniers

In die laat 18de en vroeë 19de eeu was die Van Reenen-familie, onder leiding van stamvader Jacob van Reenen en sy seuns, van die mees prominente landbou-entrepreneurs in die Kaapkolonie. Hulle was betrokke by die transformasie van landboupraktyke, veral wat die verbetering van vee, wynproduksie en die bekendstelling van Merino-skape betref. Teen die 1780’s was die Van Reenens as die rykste familie in die Kaap beskou; hulle het aansienlike grond in hul besit gehad en het ‘n beduidende aandeel in die vleisvoorsiening aan die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) gehad.

Hulle het ‘n deurslaggewende rol gespeel in die vroeë ontwikkeling van Merino-wolproduksie in Suid-Afrika. Saam met ander vooraanstaande families het hulle Spaanse ramme suksesvol met plaaslike skape gekruis om ‘n verbeterde, hoër-produserende ras wat as die Vaderlandskaap bekend was, te ontwikkel.

Nog twee entrepreneurs wat hier vermeld moet word, is die swaers Frederik Reitz en Michiel van Breda wat albei met Van Reenen-dogters getroud was. Hulle het op die plaas Zoetendals Vallei naby Bredasdorp geboer, waar hulle ‘n belangrike rol gespeel het in die kommersialisering van die teelprogramme wat deur die Van Reenens van stapel gestuur is. Hulle bydrae was so invloedryk dat Van Breda vandag as die vader van die Suid-Afrikaanse Merino beskou word. Van Breda en Reitz het selfs Rambouillet-Merino-skape uit Frankryk en Sakse, sowel as Merino-skape uit Duitsland ingevoer om die plaaslike kuddes te verbeter.

Teen 1830 was wolskaapboerdery reeds goed gevestig in die Wes- en Suidwes-Kaap. Die volgende fase van uitbreiding het in ‘n ooswaartse rigting geneig. Die 1820-setlaars het ‘n beduidende bydrae gelewer in die verspreiding en ontwikkeling van Merino-kuddes in die Oos-Kaap. Met die toenemende migrasie noordwaarts gedurende die middel 1830’s, het die Voortrekkers hul skape saamgeneem en binne enkele jare het die Merino feitlik oor die hele land versprei.

Die Australiese invloed

Hoewel ‘n aansienlike hoeveelheid Merino’s van die Amerikaanse Vermont-tipe vanaf 1891 na Suid-Afrika ingevoer is, was die algemene gevoel dat die Australiese Merino – veral die Wanganella- en Peppin-tipes – meer geskik was om plaaslike kuddes te verbeter. Groot getalle van hierdie skape is gevolglik ingevoer. Op grond van hierdie uiteenlopende basis het Suid-Afrikaanse telers daarin geslaag om ‘n Merino-tipe te ontwikkel wat met die beste ter wêreld kon meeding. Hierdie skape het oor meer as twee eeue die ruggraat van die Suid-Afrikaanse wolbedryf gevorm.

Wol was teen die laat 1800’s ‘n hoeksteen van die ekonomie. Uitvoere het vanaf die middel 1800’s dramaties toegeneem, gedryf deur die uitbreiding van Merino-skaapboerdery vanaf die Wes- na die Oos-Kaap, die Karoo en die Boererepublieke.

Teen 1875 het tien miljoen Merino’s 28 miljoen pond wol gelewer, en teen 1891 het dit gegroei tot 13,5 miljoen skape en 45 miljoen pond wol. Brittanje was die vernaamste uitvoermark, waar die rouwol verwerk is.

Port Elizabeth het as die belangrikste uitvoerpunt vir die Kaap se wolproduserende distrikte gedien, voordat grootskaalse spoorwegnetwerke ontwikkel is.

Organisatoriese strukture

Parallel met die ontwikkeling van die Merino en die groei van die wolbedryf het organisatoriese strukture ontstaan om die sektor te bevorder en te ondersteun. Leon de Beer, voormalige bestuurder van die NWKV, het in Wolboer/Wool Farmer (2014) geskryf dat die eerste georganiseerde struktuur vir wolprodusente reeds in 1831 ontstaan het met die stig van ‘n organisasie in die Kaap om die teling en produksie van Merino’s te bevorder.

Die Nasionale Vereniging vir Wol- en Bokhaarkwekers is in 1906 in Port Elizabeth gestig, en in 1907 is die Dewetsdorp Wolprodusentevereniging in die Oranjerivierkolonie op die been gebring. Verskeie ander verenigings het mettertyd ontstaan. In 1918 is die Transvaalse Skaap- en Bokprodusentevereniging gestig.

‘n Belangrike mylpaal is op 24 Mei 1924 bereik toe verskeie rolspelers in die stadsaal van Middelburg in die Kaap byeengekom het om eenvormige standaarde vir die klassifisering van wol te bespreek en ontwikkel. Hierdie standaarde is later by die wolkongres goedgekeur. Ander sake wat bespreek was, het die verhandeling van wol deur openbare veilings, verpligte dip van skape, wolkompetisies tussen distrikte en beskrywingspunte rakende wetgewing ingesluit.

Teen 1926, skryf De Beer, was daar reeds verskeie onafhanklike wolkwekersverenigings reg oor die land. Dit het gelei tot die eerste wolkongres op 26 Mei 1926 in Middelburg met die doel om ‘n grondwet op te stel vir die stigting van ‘n nasionale vereniging. Daardie dag, ‘n eeu gelede, word beskou as die amptelike stigtingsdatum van die NWKV in Suid-Afrika. ‘n Volwaardige verteenwoordigende kongres is vir die eerste keer op 18 September 1929 in Bloemfontein gehou.

In die volgende artikel kyk ons na die era van ‘institusionele konsolidasie en piekproduksie’ tussen 1926 en 1996 – ‘n tydperk wat gekenmerk is deur gestruktureerde bedryfsbestuur onder statutêre beheer. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir verwysings, stuur ‘n e-pos na izak@plaasmedia.co.za. Vir meer inligting oor die NWKV, skakel 041 365 5030 of besoek www.nwga.co.za.

Must read

Die BEK-pad is nié besaai met rose nie

Estimated reading time: 4 minutes ’n Studie in hoe om dit níé te doen nie. Dit is hoe Nick Serfontein die staat se hantering van...

RSG Landbou: 6 Mei 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor katbos en hittestres by kleinvee. Katbos Het jy geweet katbos, wat groot probleme vir landbouers veroorsaak,...

LandbouRadio: 6 Mei 2026

In Woensdag, 6 Mei se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: In Leon die skaapherder se Woensdagwenk, gesels hy oor blaasstene. Johan gesels met Judi...

Dinamika en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse lusernhooibedryf: Produsentepryse (Deel 4)

Estimated reading time: 7 minutes Vorige artikels in hierdie reeks het gefokus op aspekte soos die gradering, gehalte, produksiegebiede en produksiemetodes van lusernhooi. In hierdie...

Glaring lack of industry contributions in gazetted FMD vaccination scheme

Estimated reading time: 7 minutes The final Section 10 Routine Vaccination Scheme for Foot and Mouth Disease (FMD) was published in the Government Gazette on...