HomeMagazinesDie invloed van individuele spasietoekenning op lammers se voer- en waterinname (Deel...

Die invloed van individuele spasietoekenning op lammers se voer- en waterinname (Deel 1)

Estimated reading time: 8 minutes

Die stygende wêreldvraag na voedsel tesame met ’n afname in die beskikbare grond vir veeproduksie, noodsaak veeprodusente om hul diere teen hoër digthede aan te hou ten einde aan die groeiende menslike bevolking se proteïenbehoefte te voldoen.

As gevolg van ’n gebrek aan inligting oor hoe dierewelsyn en -welstand in voerkrale bestuur word, is verbruikers geneig om ongegronde menings oor intensiewe veeproduksie en die gepaardgaande welsynsimplikasies te lug. Navorsing is daarom onontbeerlik om te bepaal hoe die welsyn en produksie van lammers deur binnenshuise voerkrale beïnvloed word, sodat verbruikers die korrekte inligting kan ontvang.

In hierdie reeks ondersoek en bespreek ons die invloed van veedigtheid op onderskeidelik die groei, welstand en vleisgehalte van lammers wat in ’n binnenshuise voerkraalstelsel afgerond word.

Veedigtheid in die voerkraal

Hoewel ‘n hoër veedigtheid in voerkrale produksie/m2 kan verhoog, kan te min individuele spasie voerinname verminder en tot swakker gewigstoename, groei en wins lei. Hoë veedigthede kan ook lei tot verhoogde aggressie of mededingende gedrag, wat die diere se voedingsgedrag kan belemmer.

Te hoë digthede verminder ook die beskikbare spasie by voerbakke, wat die moontlike afname in voerinname verder vererger. Daarteenoor kan te veel ruimte tot ’n afname in groeitempo lei, aangesien energieverbruik tydens voer- en waterinname, en normale aktiwiteit toeneem.

Groeitempo is een van die sleutelfaktore wat die winsgewendheid van ‘n voerkraal bepaal. Die gemiddelde daaglikse voerinname van lammers wissel tussen 4 en 4,5% van hul liggaamsmassa. Die gemiddelde daaglikse massatoename moet hoër as 300g wees om winsgewendheid te verseker.

Lammers se waterinname word deur ras, geslag en produksiestatus beïnvloed, en wissel gewoonlik tussen 5 en 20% van hul liggaamsmassa (tussen 2,2 en 5,4ℓ/dier/dag). Volgens SheepConnect SA (2023) drink skape gemiddeld tot 3ℓ water per kg droëmateriaal- of DM-inname en kan waterinname ook as ’n aanduiding van voerinname en welsyn dien.

Impak van veedigtheid bestudeer

’n Ondersoek is uitgevoer om die invloed van veedigtheid (aangedui deur individuele spasietoekenning), op die voer- en waterinname, en gevolglike lewendige massa van Dorper- (’n tradisioneel ekstensiewe ras) en Dohne Merino-lammers (’n tradisioneel meer intensiewe ras) te bepaal.

Dorpers in die (1) hoë (0,5m2/skaap,) (2) medium (0,75m2/skaap) en (3) lae (1m2/skaap) veedigtheidsgroepe.

Altesaam 60 gekastreerde ramlammers – 30 Dorpers en 30 Dohne Merino’s met ’n gemiddelde lewendige massa van 29,52 ± 0,30kg – is volgens hul behandelingsgroepe in ’n binnenshuise fasiliteit met hortjiesvloere aangehou. Vensters aan weerskante van die fasiliteit het gesorg vir voldoende natuurlike lig en ventilasie.

Dohne Merino’s in die (4) hoë (0,5m2/skaap), (5) medium (0,75m2/skaap) en (6) lae (1m2/skaap) veedigtheidsgroepe.

In die afwesigheid van beskikbare riglyne oor aanvaarbare veedigthede vir gespeende lammers in binnenshuise voerkraalstelsels, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard (SANS) besluit om ’n digtheid van 0,9m² per droë ooi en 1m² per ram in groepbehuising aan te beveel (SANS, 2021). Laasgenoemde aanbeveling is as die kontrolegroep gebruik (1m² per skaap), met twee addisionele hoër digthede van onderskeidelik 0,75 en 0,5m² per skaap om die potensiële welsynsimplikasies se afwyking van die aanbevole SANS-veedigtheid te bepaal.

Daaglikse voer- en waterinname is vir elke digtheidsgroep bepaal en die lewendige massa van elke dier is weekliks bereken. Die eksperiment het agt weke geduur, waarvan twee weke uit ’n aanpassingstydperk en ses weke uit ’n proeftydperk bestaan het, met laasgenoemde wat ’n kommersiële voerkraalafronding simuleer. Etiese goedkeuring vir die studie is van die Navorsingsetiekkomitee: Diereversorging en -gebruik van die Universiteit Stellenbosch verkry.

Voerkraalprestasie van lammers

Tabel 1 toon die invloed van die eerste paar weke tydens die voerkraaltydperk op die gemiddelde lewendige massa van alle lammers, ongeag die veedigtheid. Die lewendige massa van lammers het weekliks aansienlik toegeneem, met alle lammers wat goed by die voerkraalomgewing aangepas het. Die gemiddelde daaglikse voerinname het tussen 3,77 en 4,61% gewissel. Dit val binne die aanbevole inname vir Suid-Afrikaanse voerkraaltoestande volgens Coetzee (2020) en is effens hoër as die gemiddelde daaglikse inname van 3,8 tot 4,2% wat deur Meat and Livestock Australia (MLA, 2020) aanbeveel word.

Die gemiddelde daaglikse gewigstoename tussen week een en ses is op 320g/dag bereken, wat hoër is as die 300g/dag wat deur MLA (2020) en Coetzee (2020) voorgestel word om voerkraalwinsgewendheid te verseker.

Tabel 1: Invloed van die eerste paar weke tydens die 42-dae voerkraaltydperk op die gemiddelde lewendige massa (gemiddeld ± standaardfout) van lammers.

ParameterProeftydperk
Week 1Week 2Week 3Week 4Week 5Week 6
Lewendige massa (kg)33,10a ± 0,4035,56b ± 0,4037,50c ± 0,4040,16d ± 0,4042,09e ± 0,4044,31f ± 0,40

*Gemiddeldes met verskillende boskrifte binne ’n ry verskil beduidend (p<0,05).

Tabel 2 toon die invloed van veedigtheid op die gemiddelde lewendige massa van lammers, ongeag hul ras, gedurende die voerkraaltydperk van die studie. Die diere wat by mediumdigtheid aangehou is, was swaarder as dié by lae veedigtheid, terwyl diere by hoë veedigtheid ’n intermediêre lewendige massa getoon het. Geen verskille is tussen die veedigtheidsgroepe waargeneem wat voerinname betref nie.

Tabel 2: Invloed van veedigtheid op die gemiddelde lewendige massa (gemiddeld ± standaardfout) van lammers gedurende die 42-dae voerkraaltydperk.

ParameterVeedigtheid
Hoog (0,5m²/dier)Medium (0,75m²/dier)Laag (1m²/dier)
Lewendige massa (kg)38,82ab ± 0,2839,28b ± 0,2938,26a ± 0,28

*Gemiddeldes met verskillende boskrifte binne ’n ry verskil beduidend (p<0,05).

Indien die algehele studietydperk van agt weke in ag geneem word, was die Dorper-lammers swaarder as die Dohne Merino-lammers, onderskeidelik by aankoms en aan die einde van die aanpassingstydperk (Tabel 3). Wanneer na die finale lewendige massa aan die einde van die voerkraaltydperk gekyk word, is geen verskil tussen die Dorper- en Dohne Merino-lammers waargeneem nie (Tabel 3).

Tabel 3: Invloed van ras op die gemiddelde lewendige massa van lammers by aankoms, asook aan die begin en einde van die voerkraaltydperk.

TydSkaapras
DorperDohne Merino
Aankoms30,38b ± 0,4428,62a ± 0,43
Begin van proeftydperk (einde van aanpassing)31,85b ± 0,4430,10a ± 0,43
Einde van proeftydperk44,03 ± 0,7044,59 ± 0,69

*Gemiddeldes met verskillende boskrifte binne ’n ry verskil beduidend (p<0,05).

Gedurende die aanpassingstydperk van twee weke is die lammers in hul behandelingsgroepe teen ’n digtheid van 1,7m²/dier gehou. Wanneer die gemiddelde lewendige massa van die lammers by die drie belangrikste tydstippe in die algehele studie vergelyk word, was daar geen verskil tussen die veedigtheidsgroepe nie (Tabel 4).

Tabel 4: Invloed van veedigtheid op die gemiddelde lewendige massa van lammers by aankoms, sowel as aan die begin en einde van die voerkraaltydperk.

TydVeedigtheid
Hoog (0,5m²/dier)Medium (0,75m²/dier)Laag (1m²/dier)
Aankoms30 ± 0,5329,45 ± 0,5429,05 ± 0,53
Begin van proeftydperk (einde van aanpassing)31,18 ± 0,5231,18 ± 0,5430,58 ± 0,52
Einde van proeftydperk44,26 ± 0,8444,78 ± 0,8643,89 ± 0,84

Die waterinname wat tydens die studie aangeteken is, val binne die aanvaarbare reeks van tussen 3 en 5ℓ water/skaap/dag, soos deur MLA (2020) aanbeveel. Gegewe die waterinname as ’n persentasie van DM-inname, het skape in hierdie studie tussen 1,86 en 2,44ℓ water/dier/dag gedrink, wat effens laer is as die aanbevole 3ℓ water per kg DM-inname/skaap/dag, soos deur SheepConnect SA (2023) aanbeveel. Die laer waterinname van die Dorpers was te verwagte, omdat hierdie ras ontwikkel is om meer gehard en aanpasbaar te wees in droë ekstensiewe omgewings (Dorper SA, 2020).

Gevolgtrekking

Die digthede waarteen die lammers in hierdie studie gehuisves is, het nie ’n merkbare effek op voer- of waterinname gehad nie, wat daarop dui dat skape afgerond kan word by ’n veedigtheid van tot 0,5m² sonder dat hul groei benadeel word. ’n Verhoogde veedigtheid wat van die aanbevole 1m² (SANS, 2021) afwyk sonder om groei te benadeel, stel produsente in staat om meer diere op dieselfde oppervlak te huisves, en sodoende produksie en wins te verhoog.

Gegewe die hoë aanvanklike kapitaalbelegging wat nodig is om ’n binnenshuise voerkraal te vestig, kan hoër veedigthede die tyd wat benodig word om wins te genereer, aansienlik verkort. – E van Schalkwyk, dr H Lambrechts, dr JHC van Zyl en prof PE Strydom, Universiteit Stellenbosch

Vir meer inligting of verwysings, stuur ’n e-pos aan Helet Lambrechts by helet@sun.ac.za

Must Read

LandbouRadio: 14 Mei 2026

In Donderdag, 14 Mei se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Christal-Lize Muller van Plaas Media gesels met Francois Knowles, registrateur van die Landbouprodukte-agenteraad,...