Estimated reading time: 2 minutes
Die eerste boere-indaba wat spesifiek op landbou in die Vrystaat fokus, is op 17 Maart 2026 by Monte Bello net buite Bloemfontein gehou. Die inisiatief vir die dag kom van Vrystaat Landbou, maar dit is duidelik gemaak dat dit nie slegs tot sy lede beperk is nie. Enige produsent uit die provinsie was welkom om die dag by te woon.
Die fokus van die dag was op landbou in die Vrystaat, watter uitdagings produsente in die gesig staar en die planne wat in plek gestel kan word om landbou in die provinsie vorentoe te neem. Ongeveer 70 produsente van regoor die provinsie het geregistreer om hul insette te lewer.
Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, is dit belangrik dat produsente se stemme weer sentraal gestel word te midde van toenemende druk op hul voortbestaan. Hy benadruk dat ’n balans tussen positiewe en negatiewe perspektiewe nodig is om sake realisties te benader. Hy is ook van mening dat georganiseerde landbou vertroue onder sy lede moet inboesem en dat dit baie moeilik is om verlore vertroue te herwin.
Meer sigbare resultate geëis
Opmerkings vanaf die vloer het aangedui dat produsente graag wil sien dat georganiseerde landbou meer sigbare werk vir sy lede doen. Daar was ook verskeie vrae oor bek-en-klouseer (BEK) en die vereistes rondom die nasionale inentingsveldtog. Produsente het uiteenlopende menings gehad oor watter oorplaatjies voldoende sou wees vir die veldtog.
Friedl von Maltitz, vise-president van Vrystaat Landbou, het terugvoer gedeel oor sy besoek aan Argentinië, waar hy ondersoek het hoe BEK daar bestuur word en hoe diere jaarliks ingeënt word.
Elektrisiteitspryse is as een van die grootste uitdagings uitgelig. Produsente is ontevrede met die tempo waarteen pryse styg, en hierdie verhoogde kostedruk plaas hul finansies toenemend onder druk. – Dr WA Lombard, Universiteit van die Vrystaat


