Rekordpampoene én gemeenskapsgees by Goliat van Gat-fees

Estimated reading time: 3 minutes

Selfs stortreën kon nie die geselligheid tydens die 22ste Goliat van Gat Pampoenfees en pampoengroei-kompetisie in Pretoria tem nie.
Hoewel die gesogte een ton-pampoen nog nie bereik is nie, is ’n rekordtotaal van 4 342kg pampoene tydens die kompetisie ingeweeg – die meeste nog by hierdie gewilde fees.

Die wenner van die 2026 Goliat van Gat-kompetisie was Wykus Lamprecht van Meyerton, met ’n indrukwekkende pampoen van 653kg en ’n skorsie van 492,3kg. Lamprecht het ook met ander inskrywings uitgeblink, waaronder ’n tamatie van 1kg, ’n waatlemoen van 16,2kg en ’n murgpampoen van 23,8kg.

Die naaswenner was Pieter Botha van Pretoria met sy pampoen, Poeksie, wat 562kg geweeg het. Jacky Smal van Sundra het die derde plek met ’n pampoen van 549,4kg behaal.

Die juniorwenner (onder ses jaar) was Dirkie Smal, met ’n pampoen van 133kg.

Die pampoenfees is vanjaar vir die eerste keer by die Lavender Kontrei Mark aangebied en ongeveer 2 500 besoekers het die dag bygewoon. Die feestelike atmosfeer is verder opgekikker deur prettige aktiwiteite soos pitspoegkompetisies en pampoenresies, wat groot vermaak vir oud en jonk gebied het.

Die gewilde sanger, Pieter Koen, se lewendige optrede het ook tot die vrolike atmosfeer bygedra en die dag se vieringe verder opgehelder.

Feesbywoners bewonder vanjaar se inskrywings vir die Goliat van Gat kompetisie. (Foto: Susan Marais)

Finale uitslae: Goliat van Gat 2026:

  1. Wykus Lamprecht van Meyerton (653kg)
  2. Pieter Botha van Pretoria (562kg)
  3. Jacky Smal van Sundra (549,4kg)
  4. Cornelis Bester van Heidelberg (452,8kg)
  5. Dirk Smal van Sundra (434,8kg)
  6. Alida Bester van Heidelberg (336,8kg)
  7. Bester Hattingh van Fochville (237,4kg)
  8. Petrus Mare van Fochville (131,4kg)

Pampoenproe

Kenners van Steyn’s Culinary School in Hatfield, saam met Willie Strauss, het die pampoengeregte-kompetisie beoordeel en groot lof uitgespreek vir die kreatiwiteit en gehalte van die disse.

Die wenners van die pampoengeregte-kompetisie was:

  1. Nic Neveling – Pampoenbier.
  2. AJ Taljaard – Pampoenpiekel.
  3. Mathilda Nel – Pampoentert.

Gemeenskapsgees

In die ware gees van gemeenskapsdiens word al die ingeweegde pampoene aan welsynsorganisasies in en om Pretoria geskenk, waar die behoefte groot is om minderbevoorregte gemeenskappe te ondersteun.

Die Goliat van Gat-kompetisie is amptelik by die Great Pumpkin Commonwealth geregistreer, en dien dus as ’n erkende inweegpunt in Suid-Afrika. Die wenners en gewigte word saam met resultate van pampoengroei-kompetisies regoor die wêreld op die organisasie se databasis opgeneem.

Die wenpampoen van 653kg word tans by die Uitkyk Vleismark uitgestal vir belangstellendes wat dit van nader wil besigtig. – TLU SA persverklaring, verwerk deur Plaas Media

Related

Die toekoms is goud vir kanola in Suid-Afrika

Estimated reading time: 3 minutesGraan SA het vanjaar by NAMPO Kaap die geleentheid gebruik om groei in Suid-Afrika se kanolabedryf te bespreek. Die gewas...

The Agri X Fusion Collaboration Summit has a new date

Estimated reading time: 2 minutesThe Agri X Fusion Red Meat Value Chain Collaboration Summit will take place on 20 and 21 October 2026 at...

AFMA Forum 2026: Celebrating excellence and honouring achievement

Estimated reading time: 5 minutesThe 2026 AFMA Forum held at Sun City in September concluded with a celebration of excellence during which students, researchers,...